“Abel, jou probleem is jy het nog nie die drie-enige God van aangesig tot aangesig ontmoet nie. Indien jy eendag sou, sal die skille van jou oë afval…” So skrywe ene “Kind van God” in ‘n e-pos aan my.
Natuurlik weet ek dat “Kind van God” dit net goed bedoel en daarmee saam ‘n besorgdheid vir my siel het. Maar nou wonder ek net, hoe kan “Kind van God” so seker wees dat ek nog nie van aangesig tot aangesig met die drie-enige God gekom het nie?
Want as “Kind van God” God omskrywe as ‘n drie-enige God, is dit hoe ek ook aan die goddelike dink. Kom ek verduidelik.
Christene glo dat God een God is, maar let wel uit drie persone bestaan: die Vader wat God is, Jesus die seun wat God is, en die Heilige Gees wat ook God is.
So alhoewel dit voorkom asof daar dan drie gode is, sal Christen-teoloë jou vinnig reghelp en verduidelik dat alhoewel daar net een God is, daardie een God wel op drie maniere manifesteer.
Wel hiermee stem ek heelhartig saam, die verskil is net, ek dink nie die manifestasies stop hier nie. Net in die Bybel alleen vind ek nog heelwat ander manifestasies. Ek meen, as ek die Bybel reg lees, staan daar in Genesis dat God as ‘n engel aan Jakob verskyn het en heelnag met hom gestoei het. Soveel so dat Jakob die volgende oggend gesê het: “…ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie.”
Voor dit, ook in Genesis, het God as ‘n vreemdeling in die woestyn aan Abraham verskyn. So eintlik kan ons praat van ‘n God Vyf-enig, en nie net ‘n God Drie-enig nie, nie waar nie?
Die manifesterings hou egter ook nie hier op nie. In Eksodus verskyn God aan Moses as ‘n brandende braambos. Op ander plekke in die Bybel word God gesien as ‘n vuur- of wolkkolom wat saam met Sy volk op reis gaan en op ‘n ander plek manifesteer God as lewegewende water.
So dalk is dit meer akkuraat om God as ‘n agt-enige God te omskryf. Nou is my vraag aan “Kind van God”, indien God op al hierdie maniere kan manifesteer, is dit nie dan ook moontlik dat Hy op vele ander maniere kan manifesteer nie?
Ons is dalk net bewus van die wat op een of ander manier oorvertel is. Wie weet, iewers eendag lank lank gelede het God dalk gemanifesteer as iets anders as die Vader, Seun, Heilige Gees, die vreemdeling in die woestyn, die engel of ‘n wolkkolom. Daar was dalk net geen ooggetuies naby om dit aanskou nie.
Daarom, “Kind van God”, kan jy tog nie die moontlikheid uitsluit dat daar vele ander manifestasies kan wees nie. En as dit moontlik is, wie kan dan sê of dit nie juis dieselfde God was, wat in Indië gemanifesteer het as ‘n prins wat geworstel het met die vraag hoekom is daar soveel lyding in die wêreld nie. Met die naam Gautama Siddharta, of beter bekend as die Boeddha.
Of dalk het Hy in Saoedi-Arabië in ‘n grot aan ‘n profeet genaamd Mohammed gemanifesteer. Of lank voor dit in Noorweë as Thor of aan die Grieke as Zeus, die heerser van die berg Olimpus.
Dalk het Hy ook as Baäl in Sirië gemanifesteer of aan die oewers van die Nyl as die Songod Ra. Kan dit nie dus moontlik wees dat God nie net God Agt-enig is nie, maar inderdaad één God, wat op sewe biljoen maniere kan manifesteer.
Dalk, vir al wat ons weet, is daar op hierdie einste oomblik nuwe manifestasies van die een God. Dalk, net dalk, as God kon manifesteer as ‘n vuur- en wolkkolom, kan God tog ook manifesteer as die boom met die vlammende herfsblare in my straat in Pretoria.
God wat homself openbaar, elke oomblik iewers – en dit hou nooit op nie.
Wie kan sê dat die Amerikaanse digter Walt Whitman verkeerd was toe hy gesê het dat hy God en die kosmos in ‘n grassprietjie kan sien: “I believe a leaf of grass is no less than the journey-work of the stars.”
En is dit dan regtig so onmoontlik om te kan raaksien dat elke lewensvorm, of dit nou ‘n goggatjie, vis, voëltjie, bruisende waterval, asemrowende bergreeks of jou buurman is, ook wel ‘n manifestasie van God kan wees?
Dalk is die Dalai Lama en die nuwe Pous Francis, my ma, my dogter Jane, en jy, “Kind van God”, almal maar net nog maniere waarop God in die wêreld sigbaar word.
En miskien is die honger, gemartelde, gemolesteerde en misbruikte kindertjies oor die wêreld heen die kruisiging van God se kind, wat oor en oor voor ons afspeel.
Dalk is ek ook ‘n manifestasie van die enige Godheid se voortdurende, uitdyende, veranderende en vernuwende dans met vorm en materie. Dalk is ek en jy God besig om na mekaar te kyk, van aangesig tot aangesig.
Miskien was Meister Eckhart (1260-1328) in die kol toe hy gesê het: “The eye through which I see God is the same eye through which God sees me; my eye and God’s eye are one eye, one seeing, one knowing and one love.”
En ja, “Kind van God” jy is reg, want toe ek die drie-enige God van aangesig tot aangesig gesien het, het inderdaad die skille van my oë afval. En toe kon ek vir die eerste keer sien. En wat ek gesien het was nie net ‘n drie-enige God nie, maar ‘n oneindige-enige God.
En hierdie oneindige-manifesterende-enige God ontmoet my daagliks in ontelbare vorms.
Ek het nou net weer God gesien, toe ek in my vrou Zelda se blou oë gekyk het.
Voorwaar, “Kind van God”, ek kan vir jou sê, God se oë is blou.
Recent Comments