Die uitvinding van landbou het gemeenskappe van ‘n jagter-versamelaarsleefstyl na ‘n gevestigde leefstyl verander. Dit word genoem die Neolitiese revolusie wat ongeveer 11 duisend jaar gelede in die Midde-Ooste begin het, maar ook onafhanklik op verskeie ander plekke om die wêreld gebeur het.
En georganiseerde geloof soos ons dit vandag ken, se wortels kan hier gevind word. Want met die oorgang van jagter-versamelaars na landbou, het antieke stede hulle verskyning gemaak. Dit het natuurlik grondbesit en heerskappy as belangrike mags-instrument na vore gebring.
Hiermee saam het meer gespesialiseerde en ontwikkelde geloofvorme – wat die nuwe sosiale en politieke omgewing reflekteer – vinnig ontwikkel.
Want saam met die meer kos en veiliger leefstyl het daar nou ‘n bevolkingsontploffing plaasgevind.
En godsdiens was ‘n baie handige instrument om politieke mag en ekonomiese beheer te kan regverdig. Ook om morele gedrag te bepaal en sodoende die groter wordende groepe mense te beheer.
Georganiseerde gelowe was (en is) ‘n wonderlike hulpmiddel om sosiale en ekonomiese stabiliteit te waarborg. Want tydens die jagter-versamelaar gemeenskappe se bestaan was o.a. moord een van die grootste redes tot dood. Nou met soveel mense byeen, moes daar vinnig reëls en sentrale gesag vasgelê word sodat orde gehandhaaf kon word. En hierdie rol het georganiseerde geloofsorganisasies soos ‘n handskoen gepas.
Gelowe kon nou moraliserende gode daarstel, wat so groot groepe onverwante individue se samewerking met mekaar kon verseker en vergemaklik.
Die stede gebore uit die Neolitiese revolusie, soos dié van Ou Egipte en Mesopotamië, was daarom teokraties, waar hoofde, konings en keisers die dubbele rol van politieke sowel as geestelike leier, vertolk het.
Dit beteken, konings het aanspraak gemaak op God se seën, en daarom was dit heel aanvaarbaar vir sogenaamde heersers om vanuit hulle posisie van mag, ook die kanaal van God se straf en seën vir ander te wees.
Antropoloë het bevind dat byna alle staatsgemeenskappe op aarde, tot stand gekom het vanuit so ‘n sogenaamde, “goddelike heerskappy” wat politieke mag regverdig het.
Dit is dus duidelik dat georganiseerde godsdienste, soos ons dit vandag ken, ‘n menslike ontstaansgeskiedenis het. Ek dink min mense sal vandag nog kan stry met die aanname, dat die verskyning van godsdienste ‘n menslike oorsprong het.
Dit bring ons dan by die volgende vraag; en God? Is God ook deur die mens geskep of is die mens deur God geskep?
Want vir my lyk dit of God net soos godsdiens ‘n handige instrument in mense se hande was, en is. Hy of Sy help die maghebbers om te regeer en die volkere te beheer. En om sodoende meer politieke en ekonomiese mag te verwerf.
Dit was die opvatting van die Griekse filosoof, Xenophanes in die sesde eeu v.C. Vir hom is die mens se voorstellings van die gode, niks anders as ‘n selfprojeksie nie: “…die Ethiopiërs stel hulle gode voor as swart en met plat neuse, en die Thrakiërs met ligblou oë en rooi hare…” Daardeur verwys hy na die feit dat alle gode uiteindelik presies lyk soos die kultuur en mense wat hulle aanbid.
Dit lyk my of die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche, hierby aansluit met sy bekende verklaring dat hierdie persoonlike, ingrypende God, dood is. In tradisionele kerktaal, sou hy bedoel het, julle God wat julle aanbid, is ‘n afgod.
‘n God wat makgemaak is om ons eie magsbelange te beskerm, en om ons visie van die werklikheid te bevestig.
Hierdie insig word antropomorfisme (verwysend na mensvormigheid) genoem. Dit wil sê, gode is niks anders nie as bonatuurlike weerspieëlings van wat hier op aarde aangaan.
Vandag noem ons so ‘n tipies antropomorfiese voorstelling van God, teïsme. Dit is wanneer God presies lyk soos ‘n koning in die Midde-Ooste in Bybelse tye: Hy sit op ‘n troon (bo in die hemel). Jy moet voor hom kom kniel en hom smeek (bid) as jy iets wil hê. Om sy goeie guns te kry, moet jy hom prys en geskenke (offers) vir hom aandra. Omdat hy baie besig is, het hy aan sy regterkant ‘n sekretaris (middelaar) met wie jy eers moet praat om ‘n afspraak met hom te kry … ens.
Onthou dat godsdiens maar net ‘n kulturele, sosio-ekonomiese en politieke konstruksie is, wat gebaseer is op ‘n spesifieke verstaan van die wêreld binne ‘n spesifieke periode in die geskiedenis. En so ook die mens se verstaan van God.
Daarmee sê ek glad nie dat daar glad nie iets soos ‘n goddelikheid is nie. Wat ek wel sê, is dat die huidige menslike God-konstrukte my nie oortuig nie. Ek stem daarom heelhartig saam met Biskop John Selby Spong, dat die teïstiese siening van God, van o.a. die Christene, Islam en die Jode, vir my dood is. “I dismiss the supernatural, external God of theism. Theism and God are not the same. Theism is but one human definition of God.”
Daar is egter ook nog ander maniere om oor God na te dink. En dit begin deur nie God te sien as ‘n superkoning (Teïsme), of selfs ‘n afwesige landheer (Deïsme) nie, maar dalk as die bron van die lewe, God nie as ‘n Selfstandige Naamwoord nie, maar as ‘n werkwoord, God nie as ‘n wat nie, maar ‘n hoe, God nie as ‘n persoon nie maar moontlik as ‘n lewensenergie.
Dit is nie ‘n nuwe manier van dink nie. Daar is talle Bybelgedeeltes waar God ook nie as ‘n persoon voorgestel word nie, maar as ‘n aspek van die skepping. God word byvoorbeeld gesien as ‘n vuur- of wolkkolom wat saam met jou op reis is, as lewegewende water, of as vuurtonge. En beteken Heilige Gees nie maar net letterlik Heilige Wind nie? Alles maar net metafore, om iets te probeer sê oor dit wat ons nie met ons woorde kan raak nie.
En dat as ons dalk bietjie wyer kyk as bloot net die tradisies waarbinne ons grootgeword het, kan ons dalk wonderlike nuwe simbole en metafore vind, om sodoende ons uitkyk te verryk.
Byvoorbeeld die siening wat die Chinese Taoïste al eeue terug gehad het: “The ultimate was not a personalised god, therefore, but a transcendent mystery that could never be plumbed” of Boeddha wat geen tyd aan abstrakte formulerings rondom ‘n persoonlike God toegelaat het nie, maar eerder wou weet hoe leef ‘n mens in hierdie oomblik goddelik.
God as metafoor en simbool vir die diepte en volheid van ‘n lewe wat deur liefde geleef moet word eerder as beperking en vrees. God as metafoor vir ‘n egolose lewe. God as ‘n bewuste lewe van respek, verantwoordelikheid, eenvoud en deernis.
Daarin lê die goddelike vir my – iets van wat die teoloog Paul Tillich (1886-1965) ook genoem het “The ground of all being” of wat die filosoof Martin Heidegger ‘Sein’ (Being) “Being as the supreme reality” genoem het.
Maar nou ja, wie is ek? Ook maar net ‘n soeker soos vele ander. Op die ou einde moet jy vir jouself ontdek, vind en leef.
Recent Comments