Onlangs het emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu ‘n interessante opmerking gemaak. Hy’s tydens die Verenigde Nasies (VN) se veldtog vir gelyke regte vir gay-, lesbiese, biseksuele en transgender-mense gevra wat dink hy van homoseksualiteit.

Sy antwoord was reguit: “Ek kan nie ‘n homofobiese God aanbid nie en ek weier om na ‘n homofobiese hemel te gaan – dan gaan ek eerder na die ánder plek.”
Dadelik is hy toe gevra maar wat maak hy dan met die Bybel se uitsprake oor homoseksualiteit. Weer was sy antwoord reguit: “Net omdat iets in die Bybel staan, is dit nie noodwendig waar nie.”

En toe hy spesifiek gevra is wat maak hy met Paulus se uitsprake het hy geantwoord: “Baie mense haal Paulus aan, maar Paulus het baie goed gesê, soos onder meer dat vroue moet stilbly en dat hulle almal moet trou,” en weer het hy gesê, “…net omdat iets in die Bybel is, is dit nie noodwendig waar nie.”

Natuurlik praat Tutu so binne my kraal.

Eerstens, omdat sy uitsprake die onkritiese en letterlike lees van die Bybel direk aanvat. En hiermee saam dat hy die tipiese en onverantwoordelike gebruik van ‘n fundamentalistiese lees van die Bybel (wat lukraak en selektief met Bybeltekste omgaan) veroordeel. En tweedens, omdat hy gelyke regte vir almal bepleit.

Kom ek begin by hoe Tutu die Bybel lees. Sy “…net omdat iets in die Bybel staan, is dit nie noodwendig waar nie,” wys baie duidelik dat hy nie die Bybel fundamentalisties lees nie. Nou is die vraag, wat is ‘n fundamentalistiese lees van die Bybel?

Wel dit kom neer op ‘n oortuiging dat die Bybel, as een boek, direk uit die hemel geval het. En dan nog ook in God se eie handskrif. Dus is elke woordjie deur God geïnspireer en daarom ook onfeilbaar waar.

Daar is dus geen ruimte vir interpretasie of verstaan van verskillende genres of inagneming van ‘n historiese gaping tussen die leser en die teks (verskillende kontekste en wêreldbeelde) nie. Alles is waar soos toe, ook nou en tot in ewigheid.

En daarom is Tutu se uitsprake oor homoseksualiteit vir diesulkes ‘n direkte aanval teen God self.

Maar enige denkende mens wat vandag die Bybel oop en eerlik wil lees sal moet erken dat die Bybel (nie één boek nie, maar bestaande uit verskillende boeke) darem net te veel foute, teenstrydighede en mistastings in het vir ‘n sogenaamde direkte teks van God.

Eerstens, kan geen fundamentalis die baie teenstrydighede binne die Bybel wegverduidelik nie. Kom ek noem net twee voorbeelde (uit ‘n baie lang lys):

In Genesis word in hoofstuk 6 vers 19 en 20 beweer daar was twee pare diere wat in die Ark ingelaat is. Maar in die volgende hoofstuk (7 vers 2), word daar pertinent gesê dit is sewe pare.

Of wat van 2 Sam. 24 vers 1 wat sê Dawid was deur God aangesê om ‘n volkstelling te hou maar in 1 Kron. 21 vers 1 word gesê dat dit eerder die Satan was wat hom verlei het.

Nou as God self verantwoordelik was vir elke woordjie in die Bybel, wat het hier gebeur?

Tweedens, buiten die ooglopende teenstrydighede, is daar ook baie Bybeltekste wat totaal irrelevant en selfs onrealisties vir vandag is. Dink maar aan tekste wat ons verbied om rente op geleende geld te vra. (Volgens Esegiël 18:10-13 moet sulke mense genadeloos doodgemaak word.)

Ek onthou dat my laaste besoek by die bankbestuurder nie ‘n baie goeie afloop gehad het nie, nadat ek aangedring het op ‘n rentevrye lening.

En wie sal vandag nog met Paulus in Romeine 13 saamstem oor sy uitsprake dat alle regerings (Mugabe s’n ingesluit) deur God aangestel is? En wys vir my ‘n Christelike kerk wat nog volgens die voorskrifte (van ‘n klomp verse in die Bybel) slawerny sal verdedig as ‘n aanvaarbare praktyk.

Ook het meeste kerke darem al by die punt gekom waar hulle vroue in gesagsposisies begin toelaat, natuurlik in teenstelling met ‘n hele aantal Bybelse passasies wat dit direk verbied.

Selfs as jy voorskrifte vir die ideale man-vrou verhouding soek, gaan jy dit verseker nie in die Bybel kry nie. Dink maar net aan die boek Hooglied wat handel oor ‘n buite-huwelikse seksuele verhouding. En op ander plekke waar mans toegelaat is om soveel vroue en hou-vroue (van enige ouderdom) te mag hê, natuurlik met voorwaarde dat hulle dit darem finansieel kan bekostig.

Dit is dus duidelik dat ‘n antieke geskrif soos die Bybel krities gelees moet word. En dat ‘n fundamentalistiese letterlike lees van die Bybel nie meer relevant is nie, in teendeel, dit polariseer en vervreem eerder ‘n multikulturele en multigodsdienstige samelewing.

Dit is hoekom ek Tutu se siening so waardeer. En dit is nie net ek nie; ek weet daar is al hoe meer Christene wat soos Tutu ook ‘n akkommoderende en eietydse spiritualiteit beoefen.

En hulle lees vir seker nie meer die Bybel as ‘n letterlike teks nie. Dit beteken egter nie, dat hulle noodwendig daardeur die Bybel nie steeds as ‘n wonderlike wysheidsteks sien nie. ‘n Geskrif wat vol verskillende genres, metafore en simbole is. ‘n Geskrif wat hulle glo hulle nog tot ‘n dieper verstaan van hulleself en die lewe kan begelei.

Hiervan is die nuwe Progressiewe Christen-beweging ‘n wonderlike voorbeeld. Hoor hoe verwoord een van hulle, Jim Burko (Dean of Religious Life at the University of Southern California) dit: “Anything in the Bible that looks miraculous or contrary to the normal functions of the natural world is not factual, but rather is mythological. In ancient times, the distinction that now exists between fact and fiction did not exist in the same way as it does now. The Bible does not ask us to ‘believe’ it as if it were a collection of facts or a set of legal prescriptions that necessarily make sense outside their original cultural contexts. Rather, it challenges our spiritual and moral imaginations, inviting us to use it as a rich language for expressing our journeys of faith. Ancient biblical myths can have great power in positively transforming our lives today.”

Dus, net soos Tutu gaan hierdie Christene ook krities met die Bybel om. Hulle sien ook nie meer alles op een vlak van waarheid nie. Hulle verstaan dat die Bybel ‘n antieke, voor-wetenskaplike teks is wat geïnterpreteer moet word vanuit vandag se insigte en kennis. ‘n Eietydse verstaan.

Dit maak natuurlik dat die Bybel weer relevansie kan hê vir die moderne mens.

Dink maar net aan die waarde van byvoorbeeld die kruisverhaal. Dit herinner my aan “die eie ek” wat moet sterf. Net soos Jesus in die mite moet sterf aan die “ou self” en dan as ‘n “nuwe mens” moet opstaan, net so kan ek nie meer vanuit my ego leef nie.

Ek moet getransformeer word soos Jesus, na iemand wat verstaan dat ek deel is van die groot geheel. Dat my “eie ek” – my selfsugtige, egosentriese, veroordelende en gierige self moet sterf. Sodat ek kan “opstaan” as ‘n nuwe mens, vir wie dit nie meer gaan oor “ek” nie maar oor “ons”.

Die “ons” wat almal saam één is, en dit wat een doen en besluit ‘n invloed het op die res. Dit is waaraan die kruisverhaal my herinner. Meer nog, dit inspireer my om op so ‘n manier te probeer lewe, dat niemand, ongeag geloofsoortuigings of seksuele oortuigings ooit benadeel of verwerp sal voel deur my nie.

‘n Eietydse Christelike spiritualiteit waar daar gelyke regte is vir gay-, lesbiese, biseksuele en transgender-mense. Mense in eie reg. Geen onderskeid.

Dat ons eerlik net mekaar kan raaksien as mense, familie. Soos in Galasiërs 3:28 staan, dat ons almal een is, en daar geen onderskeid tussen slaaf of vryman, man of vrou … gay of straight (my invoeging) is nie.

Want was Jesus nie juis die een wat in sy tyd uitgereik het na die randfigure in die samelewing nie? Is hy nie juis die een wat vroue, kinders (Markus 10:13-16), sekswerkers, tollenaars, waardigheid gegee het nie?

Is Tutu dan nie presies in lyn met Jesus se verstaan nie? Veral as hy op die VN geleentheid sê: “Elke liewe een van ons is kosbaar…” Is ons almal nie kosbaar nie?

Deel ons nie almal een moeder (aarde) nie? Is ons nie maar almal in dieselfde bootjie (lewe) nie? Bloei ons nie almal rooi nie?

Ek dink werklik ongeag ras, geslag, taal, kultuur, opvoeding, seksualiteit, ensovoorts – is ons een groot familie. En iemand soos Tutu is vir ons almal soos ‘n ou wyse gryse. ‘n Wyse, soms emosionele, maar altyd eerlike en liefdevolle oupa. ‘n Oupa wat vir sy kinders en kleinkinders sê: “You don’t choose your family. They are God’s gift to you, as you are to them.”