Ek het die vorige skrywe by die deel van die geskiedenis gestop, waar die Christendom as gestruktureerde godsdiens gebore is. Ek het daarmee saam genoem dat daar ‘n hoë prys betaal moes word vir hierdie hermodellering, en dat dit was dat meeste van die spontaneïteit van die vroeë Christendom verlore geraak het.

Daar was nou ‘n duidelike skuif van “reg lewe” na “reg glo.” Dit het meegebring dat vaste belydenisse, dogmas, reëls, strawwe en belonings nou die lokus van kontrole geword het, soveel anders as die interne lokus van kontrole wat die vroeë Christendom gerig het.

Natuurlik hiermee saam het daar nou ook ‘n duidelike onderskeid tussen “binne die kerk” en “buite die kerk” ontstaan. Die wat gered is en die wat verlore is.

Voorvereistes tot lidmaatskap van die kerk was nie net meer die doop en ‘n sekere lewenstyl nie, daar was nou ook vele addisionele voorwaardes wat nagekom moes word.

Lidmate moes onder andere nou ook erken dat die Biskop van die kerk die draer van die apostoliese oorlewering was en dat die kerk die finale gesag oor lewe en dood het. Verder moes die nuut ontwikkelde Nuwe Testament, nou ook as deel van die Kanon naas die Ou Testament erken en bely word (Die Bybel soos ons dit vandag ken).

Jy kan maar net jou indink hoeveel binnegevegte, magspeletjies en korrupsie daar was. En in hierdie omgewing is die kerk as ‘n organisasie gevestig. In so ‘n mate het die karakter verander dat daar omtrent heeltemal met die Oerchristendom gebreek is.

Hierdie nuwe een kerk (bekend as die Vroeë Katolieke Kerk) het nou ‘n bloeityd beleef. Orals langs die Mediterreense kusgebied (oftewel Middellandse) is daar uitgebrei en die kerk gevestig. Na beide die ooste- sowel as na die westekant van die Mediterreense kus, het die kerk vinnig gegroei. Na die val van die Romeinse Ryk, het daar egter al hoe meer krake tussen Oos en Wes se vertolkings en verstaan sigbaar geword.

In die ooste byvoorbeeld, was daar baie klem op simbole en die uitbeelding van geloof; en daarom het tweedimensionele skilderye van Jesus of die heiliges (ook ikone genoem) ontwikkel as hulle hoof vorm van aanbidding. Hiermee saam is die priesters toegelaat om te trou en Grieks was die hoof spreektaal.

Terselfdertyd in die weste was Latyn die gekose taal en priesters mag nie getrou het nie. En dan een van die groot verskilpunte, die feit dat die Weste die Ooste se gebruik van ikone as afgodery beskou het.

Hier het dit egter nie gestop nie. Die Ooste het die Pous gesien as net een van hulle Biskoppe wat demokraties verkies is. Maar die Weste het die Pous as onfeilbaar en goddelik verkose gesien.

Daarom was dit glad nie vreemd dat daar mettertyd besluit is om twee verskillende Pouse te hê nie. Die Ooste se Pous (bekend as die Patriarg) was gestasioneer in Konstantinopel en die Weste se Pous in Rome.

Dit het egter die verskille tot ‘n spits gedryf, wat presies dan ook gelei het tot die eerste groot skeur in die Christendom, in 1054 n.C.

Wat gebeur het is dat beide Pouse (een in Rome en een in Konstantinopel) mekaar onder sensuur (ekskommunikasie) geplaas het. Na hierdie wedersydse ekskommunikasie was dit die laaste strooi en het Oos (Ortodokse) en Wes (Romeinse Katolieke) amptelik geskeur.

Dit was die eerste groot skeuring in die Christendom, maar verseker nie die enigste en laaste nie.

In elk geval, nog voor die stof ordentlik gaan lê het na die skeuring, het die Weste (oftewel nou Rooms Katolieke) begin met ‘n bloedige oorlog (Kruistogte) wat amper 200 jaar sou duur.

Dit was in reaksie op Islam se teenwoordigheid in Jerusalem. Pous Urbanus II is bekend vir sy preek in Clermont, Frankryk, waar hy die eerste Kruistog bepleit het en gesê het dit is God se wil. Hy het daarna ‘n gewapende aanval goedgekeur om die vryheid van Jerusalem te verseker.

In werklikheid egter het die Kruistogte ontaard in ‘n reeks brutale en bloedige godsdienstige moorde dwars oor Europa, alles natuurlik in die naam van God.

Om mense aan te moedig om aan die eerste kruistog deel te neem, het die Pous, byvoorbeeld, verklaar dat in ruil vir enigiemand se deelname, alle geld wat geskuld word of selfs gevangenisstraf wat moes uitdien word, hulle daarvan vrygestel sou word. Ook sou diegene wat tydens die kruistog sterf, direk na die hemel gaan. Hiermee saam was baie mense oortuig daarvan dat hulle skatte in Jerusalem sou ontdek en sodoende skatryk sou word.

In 1096 n.C. het die eerste kruistog met ongeveer 80 duisend Christene uit Frankryk, Duitsland en Italië begin. Met so ‘n massa mense wat nou kon doen net wat hulle wil, en daarmee saam dit met die goedkeuring van God, kan jy jou net indink wat gebeur het. Baie onskuldige mense is brutaal aangeval, verkrag en vermoor, alles onder die leuse: Deus il volt, of “Volgens God se wil.” In 1099 n.C. het die groep in Jerusalem aangekom, en meeste inwoners is vermoor – Moslems sowel as Jode.

Selfs mede-Christene was nie veilig nie. In 1204 n.C, toe die kruisvaders by die Ortodokse (Ooste) vesting van Konstantinopel kom, het hulle sommer daar ook ‘n inval geloods en sodoende honderde ikone vernietig en Ortodokse priesters doodgemaak. O.a. in die Hagia Sofia Ortodokse kerk het daar baie onskatbare kunswerke vir altyd vir die mensdom verlore geraak.

Baie duisende Jode, Moslems en Christene – insluitend vele wat nie aan die gevegte wou deelneem nie – het gedurende hierdie Kruistogte gesterf. Dit was ‘n hartseer en bloedige tyd in die geskiedenis van die Christendom. Iets wat so ver verwyder was van Jesus se prediking van liefde, vergifnis en draai die ander wang.

Daarby is natuurlik die oorspronklike doel wat was om Jerusalem van die Islamitiese Turke terug te wen, ook nooit bereik nie. Maar ten spyte van die mislukking van die Kruistogte, is die mag van die kerk in Europa met bloed en geweld gevestig.

‘n Mag wat vinnig sterker geword het, selfs magtiger as meeste van die Europese regerings van die tyd. Soveel so, dat die Weste se Pous later meer gesag as die konings gehad het; in geestelike sowel as in staatsake.

En met hierdie nuwe mag het die kerk nou massiewe Europese bouprojekte geloods, wat natuurlik deur geld van hulle lidmate befonds is. Meeste van die geld was verkry deur die kerk se nuwe verkondiging, naamlik dat jy jouself kon kwytskeld van straf op jou sondes deur ‘n fooi te betaal nadat jy jou sonde bely het (aflaatboete). Dit het die kerk se koffers laat bult en met hierdie nuwe rykdom het hulle eiendom-magnate geword.

Heeltemal weg was die aanvanklike verstaan van Jesus se woorde, soos in Lukas 12 vers 33 voorkom: “Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle ‘n beurs aan wat nie leeg raak nie, ‘n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie.”

Die kerk het die einste monster geword waarvoor Jesus sy lewe moes opgee. ‘n Plek waar die ego die nuwe god geword het. ‘n Plek van vrees, haat en onderdrukking. Onrus en rebellie het gebroei en stadig maar seker was die volgende groot skeur om die draai.

Genoeg vir eers. Lees gerus verder, Deel 3.