Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu (85) het openlik en publiek gesê hy wil die keuse vir genadedood hê wanneer sy tyd kom. Tutu, die Nobel-vredespryswenner, wat bekend is as vredemaker, versoener en voortdurende stryder vir geregtigheid en ‘n beter en waardiger lewe vir alle Suid-Afrikaners, word nou ook ‘n stryder vir waardigheid tot in die dood.

Hy ly al vir byna twee dekades aan prostaatkanker en ondersteun al sedert 2014 die saak van genadedood. Volgens Tutu moet mense self kan besluit “wanneer jy die aarde verlaat.” Hy het ook gesê hy is gereed vir sy dood en het dit duidelik gemaak dat hy nie ten alle koste lewendig gehou wil word nie. Hy het in ‘n rubriek in The Washington Post gesê hy wil die keuse vir genadedood hê wanneer sy tyd aanbreek.

Genadedood is egter nog onwettig in Suid-Afrika. Tans is dit wettig in Nederland, België, Switserland en die Amerikaanse deelstaat Oregon. Daar is wel in Suid-Afrika (dit het reeds in 1997 begin) ‘n wetsontwerp voorgestel wat aktiewe genadedood, asook selfmoord met mediese bystand, aanbeveel – natuurlik onder streng toesig en voorwaardes. Maar daar is nog nie veel gevorder hiermee nie.

In ‘n waterskeidingsaak in 2015 het regter Hans Frabricius in die hooggeregshof in Pretoria beslis dat adv. Robin Stransham-Ford (65), ‘n terminale kankerlyer, ‘n dokter kon vra om sy lewe te beëindig. Sowat twee uur voordat Fabricius die bevel op 4 Mei gemaak het, is Stransham-Ford aan natuurlike oorsake dood. Fabricius het toe gesê die saak moet na die appèlhof gaan, onder meer sodat die gemenereg ontwikkel kan word. Dit is egter jammer dat die ministers van gesondheid, justisie en korrektiewe dienste, die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Raad op Gesondheidsberoepe (RGSA) almal appelleer (kom voor 4 November in die appèlhof) teen Fabricius se uitspraak en bevel.

Genadedood is nie ‘n maklike saak nie. Veral nie die saak van aktiewe genadedood nie. Die ander vorm van genadedood is dié van passiewe genadedood. En dit is wel wettig, dink maar aan die voorbeeld van om as ‘n familie te mag besluit om die masjiene af te sit, indien daar ‘n lewende testament is wat toestemming daartoe gee. Hierdie vorm van genadedood is wanneer mediese behandeling weerhou word sodat die “natuur sy gang kan gaan.”

Maar aktiewe genadedood, die reg om waardig te kan sterf is waaroor die debat gaan. Dit is egter nie ‘n vreemde of selfs onmoontlike saak nie. Daar is reeds vele voorbeelde van etiese en waardige vorme van aktiewe genadedood.

‘n Goeie voorbeeld is die van Johann Beukes van Bloemfontein. Hy is in 2015 in ‘n kliniek in Zürich, Switserland, deur die Dignitas-organisasie gehelp om sy eie lewe te beëindig. Hy was 66 jaar oud. Dignitas verleen onder streng voorwaardes hulp aan mense om genade-selfdood (eutanasie) toe te pas. Hierdie hulp is onderhewig aan ‘n uitvoerige keuringsproses en is gerig op persone wat aan ‘n terminale siekte of erge fisiese gebreke met gepaardgaande pyn ly.

Natuurlik is hierdie saak van genadedood en om te dink aan jou einde vir baie mense traumaties en emosioneel – en wil meeste dit eerder vermy as om daaroor te dink. En hiermee saam is daar dan nog ook die hele argument dat net God oor die besluit van lewe en dood beskik. Daar word egter al op soveel ander maniere in “God se beskikking” ingegryp, dat dit lankal nie meer ‘n grondige argument is nie.

En wanneer genadedood in konteks van die verkorting van (sinlose) lyding gesien word, eerder as bloot net die beëindiging van ‘n lewe, dan word aktiewe genadedood ‘n liefdesdaad, veel eerder as iets gemotiveer vanuit vrees. Dit is om te kan kies teen ‘n onwaardige gewag op die dood – iets wat ek vir niemand toewens nie. Maar om ‘n keuse te mag uitoefen om te kan sterf met waardigheid.

Ek praat hier van mense wat vasval in die donker kant van die lewe, en daagliks met intense en ondraaglike pyn (emosioneel en fisies) moet saamleef. Dink maar net aan iemand wat weens kanker of ‘n ander terminale siekte in konstante ondraaglike pyn leef, en weens hierdie pyn geen sinvolle lewe meer kan leef nie. ‘n Toestand van totale hopeloosheid. Dít is tog hel.

En net soos Tutu, voel ek daarom ook dat enigiemand die keuse gegun moet word om hierdie belangrike besluit te kan neem. Natuurlik neem dié idee nie die angstigheid van sterwe weg nie, dit bring net perspektief op die saak. Al wat ek wel weet, is dat geen mens, as masjiene en medisyne nie meer kán help nie, in pyn, angs en verlies aan waardigheid hoef te wag op die dood nie.

Maar dit is ook nodig om te onthou dat lewe nie net asem is nie. Jy is meer as jou asem en meer as jou liggaam. Lewe lê ook in die gehalte van jou verhoudings. Dit gaan oor respek vir die lewe en dit maak dat jy jou eie sterflikheid kan aanvaar. En om te verstaan dat die dood neerkom op ‘n ‘terugkeer na vanwaar jy gekom het.’

Dit gaan dus oor verantwoordelikheid neem vir jou lewe en vir jou sterwe. Hier in Suid-Afrika is die groep, Diginity SA, aktief besig om die saak van genadedood gewettig te kry. Om vrydenkende en verligte mense te wees beteken dus ook om hierdie saak te ondersteun.

Indien nie vandag nie, wanneer?