Ongeag al ons pogings om die lewe met ons betekenis te vul, na ons begeertes en behoeftes te omvorm, bly die lewe ongestoord voortvloei.
Dit maak ook nie saak wat ons glo of nie glo nie, seisoene kom en gaan, net so ook vloede en droogtes. Dit maak nie saak wie jy is nie, siek of gesond, ryk of arm, uiteindelik sal die dood ook jou einde wees.
Hierdie besef kan ‘n mens hopeloos en depressief laat. En juis daarom het godsdiens so ‘n belangrike plek in die mens se psige gevind. Want dit verkondig hoop en redding. Dit vertel van gode wat namens ons kan intree en die lewe namens ons kan beheer en manipuleer. Dit verkondig belonging en sekuriteit, selfs tot in die lewe na die dood.
Maar alhoewel dit wel tydelik troos bring, is daar tog ‘n knaende bewustheid, wat ons nie kan ontken nie. ‘n Wete dat ons eintlik bitter min beheer of invloed het, minder as wat ons glo.
Dit word veral deur Boeddhisme direk aangespreek. ‘n Zen leermeester, Linji sê dit so: “The meaning of the Buddha’s teaching is just this, just this, just this. There is no meaning. There is only this – and that is the meaning.” Om dus te aanvaar wat is. Om te bly in die oomblik. Om te werk met wat is. “Whatever the present moment contains, accept it as if you had chosen it. Always work with it, not against it,” sluit Eckhart Tolle hierby aan.
Hierdie aanvaarding van wat is, is nie dieselfde as ‘n negatiewe en wanhopige opgee nie. Dit wys eerder na ‘n bewustelike wakker word vir die misterie van die oomblik. Sonder om dit te oor-analiseer, te probeer verander, manipuleer of beheer. Want dit is nie moontlik nie.
Dit waarna Lao Tzu in vers 29 van sy Tao Te Ching verwys:
Kan jy die wêreld ‘n beter plek maak?
Dit is nie moontlik nie.
Die wêreld is heilig.
Dit kan nie verbeter word nie.
As jy probeer, sal jy dit bederf.
Waaraan jy raak, sal breek.
Daar is ‘n tyd om voor te loop,
‘n tyd om agter te loop;
net soos jy inasem en uitasem.
‘n Tyd vir werk, ‘n tyd vir rus;
‘n tyd om sterk te wees, ‘n tyd om swak te wees;
‘n tyd vir saamwees, ‘n tyd vir alleenwees.
‘n Ontdekking dat die lewe soveel dieper, mooier en heiliger is as wat ons ooit vermoed het. Dat jy binne hierdie oomblik, met al sy skoonheid en wreedheid, jy vry en gelukkig kan wees. Ondanks alles.
Dit is wysheid, dit is om ‘n Ware Wyse te wees volgens Lao Tzu (vers 29 vervolg):
Die Ware Wyse sien dinge soos wat dit is,
sonder om dit te probeer verander of beheer.
Sy laat dinge soos dit is,
terwyl sy in die middel van die sirkel rus.
Hiermee word natuurlik bedoel dat die stroom van die lewe ‘n gegewe is, en dat wysheid ons aanmoedig om in te spring en saam te vloei. Want die oomblik dat jy aanvaar wat is, ongeag wat gebeur – goed of sleg, vreugde of hartseer, reën of sonskyn, mooi of lelik – word die lewe heilig.
Word die lewe ligter, sagter en deursigtiger. Soos Byron Katie dit stel: “When we stop opposing reality, action becomes simple, fluid, kind, and fearless.”
Want wanneer jy nie heeltyd baklei teen wat voor jou ontvou nie, het jy meer energie om dit wat ontvou effektief te benader. Ongeag of dit beteken jy moet opstaan teen ‘n ongeregtigheid, of ‘n oortreding vergewe of veg vir iets groters as jyself. Dit beteken dus, of jy nou ja of nee sou sê in ‘n gegewe situasie, jy dit kan doen vanuit ‘n helder en wyse plek. Want in essensie, hoe langer jy bly weerstand bied teen die realiteit van ‘dit wat is’, hoe langer neem dit om sinvol daar deur te groei. Hoe swaarder en donkerder word jou bestaan.
Dit is eintlik heel eenvoudig. Om wakker te word uit jou onbewuste bestaan beteken om te begin raaksien “wat is,” om te aanvaar sonder oordeel en om teenwoordig te wees sonder teenstand. Dan kan jy veel beter weet wat van jou verwag word. Alan Watts beskryf dié manier van wees so: “The art of living is neither careless drifting nor fearful clinging. It consists in being open and wholly receptive to each moment.” Want is dit nie presies die realiteit van die lewe nie? Gister is al gister verby en môre is nog nie gebore nie. Al wat is, is hierdie moment en buiten hierdie moment bestaan niks nie.
Ja, ons kan beplan vir môre en leer uit gister, maar ons kan nie daar leef nie. Ons kan net in hierdie oomblik leef, en hoe ons hier leef is essensieel ons beste beplanning vir more. Want is more nie maar net ‘n volgende nou-oomblik nie? Daarom, die oomblik wat jy besef dat al wat is, is hierdie oomblik – word jy wakker. En net wanneer jy wakker word, kan jy waarlik leef.
Neem dus Thich Nhat Hanh se waarskuwing as ‘n oproep om wakker te word vanuit jou slaap: “Many people are alive but don’t touch the miracle of being alive.”
Word wakker vir nou, vir dit wat is. Sonder om te verdrink in die stroom van die lewe. Leef vanuit jou kern, jou wysheid. Onthou wie jy is en wees wakker vir wat is. Dan leef jy vanuit jou gegewe wysheid.
Die Ware Wyse sien dinge soos wat dit is,
sonder om dit te probeer verander of beheer.
Sy laat dinge soos dit is,
terwyl sy in die middel van die sirkel rus.
Recent Comments