Ek word weer die afgelope tyd heelwat uitgevra oor my siening en verstaan van gebed. En elke keer voor ek ‘n antwoord waag, verduidelik ek eers dat daar onthou moet word dat mense se verstaan van gebed direk gekoppel is aan hulle Godsbeeld. En daarom moet ons eers daaroor gesels voor ons enigsins kan begin om oor gebed self te kan gesels.

Gelowiges (veral Jode, Christene en Moslems) beskou God as ‘n persoon, ‘n wese wat daar vêr bo die wolke op ‘n troon sit, wat soos ‘n koning lyk en wat baie menslike emosies soos haat, woede, jaloesie, hartseer, berou en liefde met ons as mense deel. So ‘n verstaan van God, word teïsme genoem. En daarom is gebed vir hulle dienooreenkomstig soos ‘n gesprek met hierdie wese. Dit kan tog nie anders nie, so ‘n verstaan beteken tog dat gebed kommunikasie tussen mens en die wese daar buite iewers beteken.

Dit is egter nie meer my prentjie van God nie, die goddelikheid is nie meer gegrond in ‘n teïstiese Godsbeeld vir my nie. En daarom beteken gebed vir my heeltemal iets anders. So, kom ek probeer vinnig verduidelik hoe ek wel nou oor die goddelike nadink.

God is vir my groter as enige prentjie of idee wat ek van Hom/Haar in enige mensgemaakte godsdiens kan kry. God is groter as enige menslike denke ooit kan bedink. Indien daar ‘n God is, is hy/sy veel meer as wat enige woorde en idees kan omvat. Daarom indien daar ‘n God is, is hy/sy/dit vir my Alles omvattend en ja, ook meer as die alles. Ek is egter deel van hierdie Alles, daarom is kontak maak met God, inderwaarlikheid, kontak maak met die Alles. Maak dit sin? Seker nie.

Kom ek probeer dit anders stel. Elke keer wat ek besef: “Ek is,” is ek deel van die groot “EK IS!” Soos die Evangelie van Thomas ook verduidelik dat daar waar ek hout kap en daar waar ek ‘n klip oplig, daar kry ek vir God. God is dus nie iets daar buite nie, nee, God is “the ground of all being” soos die teoloog Paul Tillich daarna verwys het, die lewe self, elke asemteug, die Groot misterie. God is dus meer en groter as wat enige godsdiens ooit kan vasvat in hulle sogenaamde heilige boeke en dogmas. Enige sogenaamde God wat verklaar en presies verstaan kan word, is nie God nie, dit is eerder ‘n afgod.

God is altyd meer en groter. Iets van die teologiese verstaan van immanent en transendent. Maar tog veel anders as die tradisionele verstaan van ‘n bonatuurlike wese, veel eerder ‘n energie of lewenskrag, waarvan ek deel is, in die hier en nou (immanente). En waarheen ek op pad is, iets van die misterie, my bestemming (transendent). Daarom is God vir my die Lewe self – als omvattend – egter ook veel meer as dit. Is dit nie wat Paulus ook in die Bybel sê nie, uit en deur en tot God is alle dinge. Goed, nou terug na gebed. Indien my verstaan geldig is, beteken dit dat gebed vir my eerder gaan oor om daagliks God te probeer raaksien, in alles. Om te besef ons is almal deel van God … en God is die kollektiewe ons.

Boeddhiste verduidelik dit mooi met hulle konsep van “Interconnectedness.” Daarom is dit vanselfsprekend dat gebed vir my meer gaan oor ‘n bewustelike oopstel, wakker word en harmonie vind in alles rondom my en binne my. Gebed is daarom nie vir my om tot die geskepte prentjie van God in my kop te bid nie, maar eerder tot die groot misterie van die Lewe, hier en eendag. Kontak in gebed is daarom na binne, nie na buite nie. En gebed is sekerlik nie net ‘n oomblik op my knieë nie … veel eerder ‘n manier van lewe. ‘n Bewustelik leef in die oomblik. Meer nog, gebed is soos asemhaling – jy kan nie regtig ophou nie, net so min as wat jy kan ophou asemhaal. Alles is dus gebed, elke gedagte, handeling en elke aksie. En die strewe om bewustelik te leef deur liefde, sagtheid, vergifnis, omgee, nederigheid … is om in lyn met jou ware identiteit te leef. Om uitdrukking te gee aan jou “original face” soos dit in Zen en deur die filosoof Ken Wilber genoem word.

‘n Lewe van gebed is om myself in alles om my raak te sien. In die goed en in die sleg. In die hier en die nou. Dit gaan dus nie meer oor myself los van ander nie, dit gaan oor “ons.” Oor ons wat almal saam “een” is, en oor hoe dit wat een doen en besluit ‘n invloed het op die “ons.” Ek moet leef en doen sodat dit met almal beter gaan, nie net met die “ek” nie. So word ons vir mekaar gebeds-verhoring. Die Hindoes noem dit “Namasté” – die goddelike in my herken die goddelike in jou. Net so leer die Joodse Rabbi Hillel (80-30 vC) vanuit die Torah ook dat: “Alles wat jouself benadeel, moet dit ook nie aan ander doen nie. Dit is die boodskap van die Torah, die res is net kommentaar daarop.” Hierby sluit ‘n ander Joodse Rabbi jare later aan as hy in sy bergrede vir sy volgelinge leer: “Alles wat julle wil hê die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen” (soos dit voorkom in die Bybel in die Matteus Evangelie). Selfs in die Islam is hierdie verstaan, Mohammad (632 nC) verkondig: “Maak niemand seer nie sodat niemand jou kan seermaak nie.”

Hierdie beginsel van “ons is een, en wat ons aan ‘n ander doen is wat ons aan onsself doen” is die basis van my verstaan van gebed. En so word gebed ‘n beweging na buite. Om verantwoordelik te lewe – eerlik, oop en lig – en met deernis en liefde. Sodra jy dit verstaan word jy getransformeer. Jy word ‘n kanaal, waarvan Franciscus van Assisi gepraat het. Natuurlik het hy dit beskryf vanuit sy verstaan. Maar die idee van jou gebed te lewe, word deur min ander so mooi verwoord:

“Here, maak my ‘n instrument van u vrede!
Waar daar haat is, laat my liefde bring;
Waar daar oordeel is, vergifnis;
Waar daar twyfel is, geloof;
Waar daar moedeloosheid is, hoop;
Waar daar donkerte is, lig;
En waar daar hartseer is, troos.
Want dit is wanneer ons gee dat ons ontvang;
En wanneer ons vergewe dat ons vergewe word;
En dit is wanneer ons sterf dat ons gebore word tot die ewige lewe.”
Amen.