Dit is Vrydag middag net na drie en ek en Zelda vertrek op ons lang verwagte trippie na Clarens. Let wel, net ek en Zelda, geen kinders of aanhangsels nie. En soos twee tieners babbel ons opgewonde oor die naweek wat voorlê. Ek moet erken Clarens was nie my voorstel nie. Zelda wou nog altyd soontoe. Ek myself, het gevoel dat vir net nog twee ure by, kon ons iewers langs die Natalkus gaan kuier het. Ek het geredeneer, wie wil nou in die Vrystaat van alle plekke gaan laaglê. Want as ek dink aan die Vrystaat dink ek aan my tuisdorp Bethal, in die Transvaalse Hoëveld. Maar nou ja, soos dit maar gaan is ‘n huwelik mos maar gee en neem en hierdie keer het Zelda geneem. En so is die naweek beplan, bespreek en betaal.
Dit was laat middag toe ons van Bethlehem se kant af die klein dorpie binnery. En wat ‘n prentjie. ‘n Klein dorpie omring deur sandsteen berge. Die Rooiberge aan die een kant en aan die ander kant die Malutiberge wat die grens is na Lesotho. Ek was heeltemal onkant gevang deur die skoonheid van die boomryke dorpie. Ek meen, ‘n tipiese Vrystaat dorpie lyk tog nie so nie. En dan praat ek nie eens van die regop Lombard Populiere, wat plek-plek soos toringtjies staan nie. Dit het vir my gevoel of ek binne-in ‘n Johan Smith skildery wakker word. Ek was verlief!
Na ons ingeteken het by die gastehuis kon ek nie wag dat ek en Zelda die area gaan verken nie. Dit was egter veel later as wat ek gedink het en ek moes maar tevrede wees met net iewers iets gaan eet. Die volgende oggend was ons vroeg wakker. Die sandsteen berge met hulle verskillende lae was asemrowend in die rooi oggendson.
Ons is al stappende deur die dorpie se strate tot ons by Market straat aangekom het. Reg rondom die binneplein van Clarens was daar kunsgalerye, boetiek klerewinkels, ou boekwinkels, antieke meubel winkels, koffiekafees, restaurante en selfs ‘n tattoo parlour en ‘n meswinkel. Werklik ‘n kunsliefhebber en snuffelaar se paradys. Zelda was in haar noppies, sy’t eintlik gespin soos ‘n kat. Ek het saam gedrentel en af en toe die nodige “Dis mooi!” of “Sjoe, ja dit sal goed lyk in ons sitkamer…” terug gemompel. Toe ons uit een van die kunsgalerye stap, die Blou Donki om presies te wees, loop ons vir Vic raak.
Eintlik het ons hom nie raakgeloop nie, hy het ons raak gestorm. Hy het op ‘n self gemaakte stoel onder een van die groot akkerbome gesit en toe hy ons sien het hy opgespring. “Hallo, ek is ‘n skrywer van kortverhale en ek…”, so het hy sonder om eenkeer asem te haal sy hele lewensverhaal en skrywers credentials afgerammel.
Vic lyk soos ‘n boemelaar (ek vermoed hy is een!) of kom ek stel dit anders; hy vertoon al die tekens van iemand wat die verkeerde kant van die lewe intiem ken. Met sy lang grys hare in ‘n poniestert gebind, en sy deurmekaar snor wat laag en slordig oor sy bolip krul (nogals ‘n slim plan het ek gedink, want dit steek sy haasbek mooi weg), het hy onverpoos voortgepraat.
Nodeloos om te sê, ek en Zelda kon eers uit Vic se greep ontsnap toe ons sy bundeltjie kortverhale met die titel Die Wieletjies van Geluk gekoop het. ‘n Versameling kortverhale wat handel oor die wel en weë van Mal Jan en Skreebek Annie. Ek kon nou so loop-loop na die verhale loer terwyl Zelda, ek bedoel ons, verder Clarens se kunsgalerye besoek.
Vic en sy stories het my dadelik laat dink aan die ou Grieke se siening van die verhaalkuns. Hulle het verhale ingedeel in twee tipes; komedies en tragedies. Komedies was natuurlik vir hulle verhewe bo tragedies. Die rede was omdat hulle gesê het dat ‘n tragedie, vanuit die menslike oogpunt na die lewe kyk (siekte, lyding, verlies en dood) en ‘n komedie, was ‘n poging om ‘n storie te vertel vanuit die oogpunt van die gode. Want net die gode kon na die mense se swaarkry en gesukkel kyk en dink dit is komieklik. Daar was juis geglo dat die gode na die mens vanuit die hemele gekyk het vir hulle daaglikse vermaak. Amper soos mense wat daagliks hulle TV sepies deurdraf.
In elk geval, terug by Clarens en skoonheid. Dit is nogals inspirerend om so deur kreatiwiteit omring te wees. Dit is regtig ‘n wonderlike energie wat ‘n mens hier in die klein Vrystaatse bergdorpie beleef. Ek verstaan hoekom so baie kunstige en skeppende mense hier wil wees.
Ek en Zelda het natuurlik soos groot meneer en mevrou die een na die ander gallery eienaars uitgevra na die pryse van hulle kunswerke. En dan by aanhoor van die bedrae, gemaak ernstig ons koppe geknik en betekenisvol na mekaar gekyk met bypassende opmerkings soos “uhmm, nie sleg nie!” of “Regtig, is dit al?” Net om dan ons so vinnig as moontlik uit die voete te maak.
Terwyl ons die dag lekker gekuier het en later ook meer van Clarens se natuurskoon beleef het, het my gedagtes telkens terug gedwaal na ou Vic en sy kortverhale. Duidelik was Vic ‘n baie intelligente en begaafde mens, maar sy kortverhale het nie regtig die verbeelding aangegryp nie. En die hoofrede was nie omdat hy nie ‘n talentvolle skrywer is nie, nee, dit het eerder gegaan oor sy enkelsydige uitkyk op die lewe. En daarom was sy verhaal van Mal Jan en Skreebek Annie, stereotipies en voorspelbaar.
Mal Jan as karakter was tipies manlik; emosioneel afgestomp met ‘n sterk ontwikkelde rede. En Skreebek Annie was weer oorheers deur haar emosies, sonder die vermoë om een enkele logiese argument te maak. Ja dit is seker so dat vrouens meer in aanvoeling is met hulle emosies en mans meer werk met logiese denke, maar dit is ‘n growwe veralgemening om mans en vrouens te beperk tot hierdie karakterisering. Want dit is bloot nie waar nie. Die mens is veel meer kompleks as dit.
Vic het in sy verhale die misterie van menswees mis geskryf. En ek dink die hoofrede is dalk omdat hy vasgeval het in sy eie beperkende verstaan van die lewe. Dit is egter nie net Vic wat hierdie aanname-foute maak nie. Baie mense leef hulle lewens vanuit hulle aangeleerde en geïndoktrineerde voorveronderstellings van die lewe. Absolute oortuigings van hoe dinge in mekaar steek.
En net soos met Vic se lewe, kan voorveronderstellings en sekerhede, lewensverskralende gevolge hê. Want in wese maak dit jou blind vir alles wat buite jou sekerhede lê. Die Zen leermeester Shunryu Suzuki praat van “Sho shin” (Beginners mind) wat verlore gaan as ‘n mens te veel sekerhede het: “In the beginner’s mind there are many possibilities, but in the expert’s there are few. So by your practice we must make our beginner’s mind more and more – we should appreciate beginner’s mind. This is the secret of Zen practice.”
Want die realiteit is dat solank as wat iemand met sy vooropgestelde sekerhede leef, kan hy of sy nie werklik oop wees vir die misterie van die lewe nie, en sal ook sukkel om ‘n gelukkige en sinvolle lewe te hê. Eers as die aannames laat vaar word en daar weer ‘n openheid en direktheid in waarneming en belewenis kom, kan skoonheid en sin gevind word.
Miskien daarom dat Albert Einstein die volgende opmerking gemaak het: “Logic will get you from A to B. Imagination will take you everywhere.” Ek is seker dat hy nie hiermee bedoel het dat analise, logiese denke en wetenskaplike kennis ongeldig is nie. Ek dink hy wou net die klem plaas op ‘n oop en soekende ingesteldheid. Want hy’t maar te goed geweet dat daarsonder, min mense sinvol en kreatief kan leef. Hieruit vloei van sy bekendste woorde: “There are two ways to live: you can live as if nothing is a miracle; you can live as if everything is a miracle.”
Om die lewe so te kan benader vra egter van jou om jou sekerhede minder seker te maak. Om te onthou wat Austin O’Mally in sy boek Keystones of Thought geskryf het: “Human truth is always soiled with falsehood.” Karl Popper brei hierop uit as hy verduidelik dat geen absolute waarheids uitsprake moontlik is nie, en sodra enigiemand ‘n enkele siening uithef as die enigste waarheid, so ‘n persoon vervlakking en blindheid sal beleef, en dan op vele ander gebiede menseregte en vrye idees sal misken. Kyk maar net wat gebeur wanneer iemand fundamentalisties met die Bybel omgaan: Vroue, gays, anderskleuriges en ander gelowe se regte word ontken en misken.
Maak nie saak hoe oortuig jy is van jou waarheid nie, môre kom daar nuwe insigte na vore en dan is jou waarheid eenvoudig nie meer waar nie. Dit het die wetenskap al oor en oor bewys.
Om oop, vry, eerlik, soekend en met ‘n “beginners mind” die lewe te benader, is om die lewe as avontuur te benader. Sonder hierdie oop benadering is jy ‘n slagoffer en gevangene van jou vooropgestelde sekerhede. Dink maar net aan die onbevredigende debat betreffende die soeke na waarheid, wat tans aan die gang is. Die debatvoerders werk elkeen vanuit hulle uitsluitlik wetenskaplike of godsdienstige sekerheid. Elkeen is blind vir die ander se verstaan.
Beide kante sou soveel kon leer en groei, indien hulle na die tafel van dialoog sou kom met die tipiese Sokrates-styl van respek vir sy “opponent”, en met ‘n ingesteldheid dat hy of sy eintlik niks weet nie en eerlik na die ander een wil luister. Want dan sou wetenskap en godsdiens sekerhede nie in konflik gewees het nie.
Die wetenskap toets, wysig en pas aan en in die filosofie en godsdiens, word daar heeltyd gevra waarom en waartoe nou. Want evolusie van idees, metafore en simbole is in beide teenwoordig. Albei is besig om die ooreenstemmings tussen een saak en ‘n ander saak te ondersoek en te verwoord. En hierdie verwoording geskied deur metafore. Weer is Albert Einstein (se metafoor!) in hierdie verband in die kol, “All religions, arts and sciences are branches of the same tree.”
Filosofie en godsdiens sonder die wetenskap is soos iemand sonder ‘n flits in ‘n donker kamer, maar die wetenskap sonder filosofie en godsdiens, is soos iemand met ‘n flits maar wat vasgebind sit in ‘n stoel.
Miskien is dit wat Clarens vir my gedoen het hierdie naweek. Omdat ek weer iets beleef het van die inspirerende krag van skoonheid, het ek in die diepte van my wese iets beleef van die ontvouende misterie van die lewe. En ewe skielik kon ek helder die ontvouende beweging van waarheid sien. Dat dit tydelik gevind word, net om dan weer ontwykend buite bereik te beweeg. Dat Henry Ward Beecher reg was toe hy gesê het: “Nobody ever sees truth except in fragments.” En miskien is dit eerder die kunstenaars onder ons wat die fragmente die beste raaksien.
Die naweek in Clarens en natuurlik Vic, was vir my ‘n spieël. En wat ek daarin gesien het was my valse sekerhede wat weer stadig soos katarakte, vliesies oor my oë begin vorm het.
Ek het myself weereens herinner om soekende te bly; om nooit Jiddu Krishnamurti se woorde te vergeet nie: “It is only those who are seeking, that discover what is true, not the man who conforms, who follows some tradition. It is only when you are constantly inquiring, constantly observing, constantly learning, that you find truth, God, or love.” En die populiere, sandsteen berge en kreatiewe energie van die naweek, het my gemoed verlig.
Dit is egter nie nodig om eers weg te gaan om skoonheid te vind nie. Maak meer tyd. Kyk net met sagter oë. Dit is orals … soos God, soos liefde, soos goedheid en vrede, soos Lewe. Fluister elke oggend die woorde van Mark Akenside vir jouself: “Truth and Good are one; and Beauty dwells in them, and they in her.”
Recent Comments