Die moderne mens kry innerlik swaar. Kyk maar net na die hoë vlakke van spanning wat daagliks deur ekonomiese, sosiale en ander lewensveranderende gebeure, in ons gemoed opgewek word. Meer nog as net spanning, beleef baie mense ‘n gevoel van desperaatheid, angstigheid en selfs woede.
Hier in Suid-Afrika, byvoorbeeld, word ons daagliks gebombardeer met dinge soos beurtkrag, stakings, hoë inflasie, korrupsie, misdaad, geweld, xenofobie, besoedeling en vele ander ontstellende nuus.
Alles dinge wat ons buite beheer en weerloos laat voel. Dink maar net hoe angstig, gestres en selfs moedeloos die gemiddelde mens vandag is.
Nou is my vraag, is dit moontlik om in vandag se spanning gelaaide wêreld, sonder innerlike spanning en gevoelens van desperaatheid te leef?
Na lang gesoek moes ek egter aan myself erken dat my westerse denke nie my regtig hiermee help nie. Want kom ons wees eerlik met mekaar, die westerse mens se uitkyk van produktiwiteit en prestasie maak ons meer angstig, gejaagd en laat ons met ‘n gevoel van onvervuldheid. Ons psigiese ingesteldheid vermeerder spanning, eerder as verminder.
Dit is asof ons ‘n onvermoë het om lig te leef. Ons is so vasgevang binne ons ego stories dat bitter min mense dit regkry om eenvoudiger, sagter en gelukkiger te leef.
Dit is hier waar die oosterse konsep van wu wei – om dinge minder te forseer en meer vloeibaar en buigsaam wees – ons westerlinge regtig baie kan help. En hoewel meeste oosterse denke nog vir ons westerlinge vreemd is, is daar baie waarde in hulle lewensuitkyk.
Om die oosterse denke te kan verstaan, soos o.a. wu wei, is dit nodig om te begin by een van hulle grootste spirituele leermeesters, Lao Tzu.
Zen Boeddhisme en vele ander oosterse wysheidstradisies kan direk terug herlei word na sy filosofie. ‘n Filosofie wat jou kan help om vrede te maak met jou omstandighede, en die ontvouing daarvan in hierdie oomblik. Om “ja” te kan sê vir wat is – goed of sleg.
Want eers as jy kan aanvaar wat is, so vertel Lao Tzu, kan jy vrede in die oomblik beleef. En vanuit hierdie vrede vloei daar dan ‘n krag wat positiewe invloed het op jou elke dag lewe.
Hierdie filosofie van Lao Tzu word genoem Taoïsme. En Taoïsme is gebaseer op hierdie klein bundeltjie wat omtrent 2500 jaar gelde geskrywe is.
Net weer vinnig, Lao Tzu word beskou as die skrywer van die een-en-tagtig versies wat saamgevat is in die Tao Te Ching (uitgespreek Dow De Jing). Maar soos wat so baie keer met sulke ou oorgelewerde tekste gebeur, het Lao Tzu (wat heel moontlik nie ‘n historiese figuur was nie) die versamelnaam geword vir die filosofiese denke van vooraanstaande Chinese denkers van daardie tyd.
In elk geval, die filosofie van hierdie geskrif is dat selfs oënskynlike chaos ‘n delikate balans het. Hieruit is ‘n filosofie van, “volg die weg van minste weerstand” gebore.
Dit wat in die Tao Te Ching vers 29 so mooi omskryf word (my vertaling):
“Die Ware Wyse sien dinge soos wat dit is,
sonder enige begeerte om dit te probeer verander of teen te staan,
sy laat dit eenvoudig wees wat dit is,
en in die middel van die sirkel rus sy.”
Hierin kom een van die belangrikste beginsels in Taoïsme na vore, naamlik wu wei. Direk vertaal beteken wu wei “aksielose aksie,” of in Engels, “effortless action”. ‘n Beter manier om dit te verduidelik is eerder om dit te omskryf met ‘om nie dinge te forseer nie.’
In essensie verwys wu wei na die ingesteldheid om eerder saam met die lewe te vloei as om daarteen weerstand te probeer bied. ‘n Spontane aanvaarding van dit wat in die nou voor jou (en binne jou) ontvou.
Wu wei is natuurlik afgelei van die beginsel van “tzu-jan” (dit-wat-is-soos-wat-dit-is). Die oosterse verstaan van die lewe. Iets wat duidelik in die natuur gesien kan word, die sogenaamde “is-heid” van alles.
‘n Zen Leermeester, Ling Hu Chi verwoord dit met sy gedig, “tzu-jan” dalk bietjie duideliker:
“As I sit quietly, doing nothing,
Spring comes and grass grows of itself.”
En Alan Watts gaan verder deur die verband tussen wu wei en tzu-jan te verduidelik: “I understand the practice of wu wei, as the attribute of not forcing or grasping, and recognize that human nature – like all nature – is tzu-jan, or of-itself-so.”
En dit is waarop die filosofie van Taoïsme neerkom. ‘n Lewenstyl van harmonie, balans en innerlike vrede. Om soos water te wees. Water vloei sonder voorkeur of afkeur waar ook al dit vloei. Niks is te groot of te erg nie. Selfs ‘n rots is maar net nog iets om rondom of bo-oor te vloei.
Dit wat die Amerikaanse Taoïsme kenner, Stephen Mitchell omskryf as: “The Tao master is just like everyone else, except that he no longer believes that in this moment things should be different than they are. Therefore in all circumstances he remains at ease in the world, is efficient without the slightest effort, keeps his lightness of heart whatever happens, and, without intending to, acts with kindness toward himself and everyone else. He is who you are once you meet your mind with understanding.”
Kan jy jou indink hoeveel minder spanning jy binne jou sal omdra, as jy net wil ophou baklei teen wat is, of probeer manipuleer en beheer. Om op te hou forseer. Om eerder wakker te wees vir dit wat voor jou ontvou en nie teen die grein van die situasie in te gaan nie, maar eerder daarmee saam te beweeg. Net soos wanneer jy hout kap, is dit veel makliker om saam met die houtblok se grein te kap.
Presies dit wat die Amerikaanse skrywer, Byron Katie so raak omskryf met: “Stop forcing life to be the way you want it to be, rather accept and let it be the way it is.”
Dit beteken glad nie vir die oosterling dat hy of sy passief en besluitloos is nie, nee die teendeel is eerder waar. Hulle is meer bewustelik teenwoordig in hulle eie lewens. Maar sonder ‘n ingesteldheid van oordeel, angstigheid of skuldgevoelens, wat so verlammend is in die westerse psige.
Die ingesteldheid is eerder om met grasie en sensitiwiteit die strominge van die lewe waar te neem en te verstaan. Sodat daar sinvol gehandel kan word. Deur dit wat buite jou beheer is te ‘laat gaan,’ is natuurlik wat die filosofie van wu wei die meeste van jou vra.
En weereens, om te ‘laat gaan’ beteken nie om net terug sit en oor te gee nie. Nee, dit is ‘n innerlike losmaak van jou oor-identifisering met dinge wat buite jou beheer lê. Selde is ‘laat gaan’ ‘n uiterlike weggee of afstaan van iets. In wese is dit ‘n gesindheid van aanvaarding, vrede maak en losmaak van ‘n gegewe uiterlike omstandigheid.
So dalk is hierdie gesindheid van minder forseer en essensieel ‘laat gaan’ net die antwoord vir ons moderne, oorspanne westerse lewensuitkyk.
Moontlik kan dit ons help om weer ons lewensvreugde terug te vind. En moontlik kan dit ons help om sinvol om te gaan met al die ewigdurende veranderinge in ons elke dag lewens. En sodoende meer lewensenergie beskikbaar te hê vir dit wat wel binne ons beheer is en waar ons wel ‘n verskil kan maak.
Dit wat Alan Watts probeer sê met: “The only way to make sense out of change is to plunge into it, move with it, and join the dance.”
Recent Comments