In die bevindinge van ‘n onlangs voltooide genoomprojek – met spesifieke betrekking tot die mens en sjimpansees – is daar bevind dat die genetiese verskil tussen ‘n mens en ‘n sjimpansee slegs 2.7% is. Dit is ‘n klein persentasie maar met ‘n groot effek.

Daar is bevind dat sowel aap as mens die FOXP2 gene het. Ons as mense het net veel meer daarvan en dit is ook meer aktief in ons brein. Dit bring natuurlik mee dat die mens beter beheer oor sy mondspiere (en strottehoofspiere) het as die sjimpansees en gorillas.

Op sy beurt het dit gelei tot een van die redes waarom die mens taal kon ontwikkel en sodoende is ons denke sterker gestimuleer as by ons aap familie.

Let wel, ek praat van aap familie. Dit is tog algemeen bekend dat evolusie wys dat die mens nie direk afstam van die primate soos sjimpansees nie. Nee, die mens, sjimpansees, gorillas en orang-oetangs stam van ‘n gemeenskaplike mensagtige voorganger (hominied) af.

Hominied is die versamelterm wat wetenskaplikes verkies vir oermense – uitgestorwe spesies wat veel nader verwant is aan die moderne mens. Daar is nou juis weer die afgelope week ‘n belangrike vonds in die Wieg van die Mensdom, noordwes van Johannesburg gemaak. Navorsers praat daarvan dat hulle ‘n amper volledige hominied-skelet sowat 30m onder die grond gevind het.

Indien die skelet, wat ook die hominied se kopbeen insluit, so volledig is soos wat daar gesuggereer word, sal dit van onskatbare waarde wees vir navorsers wat die mens se oervoorsate bestudeer.

In elk geval, ons meer direkte voorgangers die Australopithecus Africanus (die Taungwese en andere aapagtiges) en in die noorde van Afrika, Australopithecus Afarensis. Dit is albei spesies wat sowat 3 miljoen jaar gelede geleef het en reeds toe al regop geloop het.

Hulle breinkapasiteit was net effens minder as wat vandag se sjimpansee s’n is. Hulle is weer voorafgegaan deur die Ardipothecus wat sowat 4.4 miljoen jaar gelede in Ethiopië geleef het. En radikaal soos wat dit is, kan ons vandag aanvaar dat ons en die aapagtiges wel een groot familie is.

Maar voor ek nou te ver afdwaal, volgens die reeds genoemde genoomprojek, het die navorsers op ‘n interessante verskynsel afgekom, naamlik dat die ontwikkeling van ape se brein (vanweë natuurlike seleksie) steeds besig is om te versnel terwyl die mens s’n besig is om te verstadig.

Presies dit wat (oorlede) Prof. Philip Tobias, een van Suid-Afrika se bekendste paleontoloë ook bevind het: “Die mens se evolusie het nog nie opgehou nie, maar dit kan voortaan op ‘n heel ander manier as in die verlede verloop, die mens se fisieke evolusie sal al stadiger word. Ek het al ‘n paar dekades gelede begin om die trajek te teken van hoe die mens se breingrootte, gebruik van handgereedskap en kultuur deur die eeue ontwikkel het. En ek het ook al probeer om daardie trajekte tentatief in die toekoms in te verleng.”

Hy het bevind dat die kulturele, psigologiese en geestelike sfeer ‘n groter en groter deel van menslike oorlewing word. “Tussen die mense van vandag en die mense wat oor 10 000 jaar gaan lewe, sal daar weinig (fisieke) verskille wees, net soos wat daar weinig verskille is tussen vandag se mense en die mense wat 10 000 jaar gelede geleef het. Ons anatomiese ontwikkeling verlangsaam. Maar daar is ander maniere waarop ons by ‘n veranderende omgewing leer aanpas.”

En uit bogenoemde verstaan ek dat die mens se evolusie nie meer so baie liggaamlik gaan wees nie maar primer tussen ons twee ore verder gaan gebeur. En soos Natuurlike Seleksie nou al oor en oor gewys het, die wat nie aanpas nie, sal mettertyd uitsterf.

En omdat alles tussen ons ore gebeur is dit daarom so nodig dat ons moet leer om meer kreatief en oop te dink. En net die wat evolueer na ‘n meer verligte, liefdevolle en intelligente spesie sal uiteindelik oorleef.

Dink so daaraan, dit is tussen ons ore waar al ons idees en teorieë oor die lewe en lewensin ontstaan. Dit is die menslike brein wat die liggaam en rede beheer.

Dit is danksy die beheer van jou brein dat jy kan hoor, praat, lees en skryf. Met jou brein onthou en leer jy. Met jou brein beleef jy emosies. En met veral die voorste deel van jou brein reflekteer jy oor jou dade, die verlede en die toekoms – al hierdie funksies word in die vorm van elektriese strome in die brein oorgedra.

En dit is met jou brein dat jy iets soos godsdienste, filosofieë, ‘n wêreldbeeld en selfs ‘n God bedink en skep. En soos meeste van ons weet is ‘n wêreldbeeld ‘n beeld of prentjie wat jy skep van hoe jy dink die wêreld om jou funksioneer en bestaan. En natuurlik hoe jy daar binne pas.

Dit was juis die Duitse filosoof Martin Heidegger (1889-1976) wat gesê het dat die mens ‘n wêreldbeeld skep om daarmee die realiteit so te bedink dat ‘n posisie van beheer bekom kan word. Hierdie wêreldbeeld is die prentjie van die wêreld waarin jy jouself as subjek en die wêreld teenoor jou (as objek) verstaan. Jy is die heerser. Jou wêreldbeeld sê dus veel meer van wie jy is as wat dit iets van die werklikheid sê.

Daarom is dit so waar wat Epictetus soveel eeue terug reeds gesê het: “‘n Mens word nie ontstel deur die dinge wat met jou gebeur nie, maar deur jou interpretasie van die dinge wat met jou gebeur.”

Net so sou ek sê die idee van ‘n God, lyk dit my, is net so deel van evolusie as die mens self. Met evolusie verwys ek natuurlik na die proses wat sedert die “Big Bang” lewe laat voortrol het vanuit primitiewe organismes soos mikrobes tot nuwe spesies.

Die woord “evolusie” kom van die Latynse woord evolvere wat beteken om ‘uit te rol’. Hierdie lang lyn van ‘uitrol’ staan ook bekend as evolusionêre kontinuïteit. En die evolusieteorie is vandag nog die standaard paradigma in alle biologiese wetenskappe wêreldwyd.

Charles Darwin (1809-1882) het die moderne evolusieteorie verwoord in sy boek On the Origin of Species (1859) en The Descent of Man (1871). Maar die idee van evolusie gaan egter veel verder terug. Die Griekse filosoof Anaximander (611-547 vC) het die basiese gedagte dat een spesie uit ‘n ander ‘uitrol’, reeds eeue terug geformuleer.

Anaximander leer dat lewe in die see ontstaan het vanweë sonlig se interaksie met water. Hy het natuurlik nog nie die begrip energie geken nie en praat dus van sonlig. Basies het hy gesê dat primitiewe eenvoudige lewe ontstaan in water, ontwikkel tot visse, visse migreer land toe en ontwikkel so tot plante en diere en uiteindelik volg die mens.

Darwin se oorspronklikheid is dus nie geleë in die idee van evolusie nie, maar eerder in die ontwikkel daarvan. Omdat Darwin gewerk het met die wetenskaplike verstaan dat elke selfde oorsaak altyd dieselfde wetmatige gevolg het, bewys hy daarom evolusie tot ‘n kousale teorie.

Fundamentaliste binne meeste gelowe, veral die Christendom, Islam en Judaïsme verwerp egter nog steeds evolusie en meen dat die skeppingsverhale soos in hulle heilige geskrifte aangeteken staan die werklike weergawe is van die ontstaan van alles.

Meer gematigde gelowiges sal egter eerder sê evolusie het ‘n goddelike ontwerper agter dit. Met ander woorde, “Big Daddy” laat die “Big bang” en evolusie plaasvind. Ek praat natuurlik van die debat tussen “Intelligent Design ” en “Natural Selection”.

Veral Christen fundamentaliste verwerp die gedagte dat ons deel is van Natuurlike Seleksie. Dit bots met hul verstaan van die twee skeppingsverhale in Genesis. Volgens hulle verstaan, is die mens die kroon van God se skepping en is hulle geskep na die beeld van God.

Soos een fundamentalis nou die dag vir my sê, “As die mens uit ‘n aap ontwikkel het dan moet God ook ‘n aap wees, want die Bybel sê dan ons is na God se beeld geskape.” Dit is natuurlik interessant dat die “Big Bang” ongeveer dertien biljoen jaar terug gedateer word en die “Big Daddy” (idee van ‘n teïstiese God) net so ‘n paar duisende jaar terug.

Die Duitse antropoloog en Rooms Katolieke priester Wilhelm Schmidt (1868-1954) het in sy twaalf-volume werk The Origin of the idea of God die volgende geskrywe oor die ontstaans-idee van ‘n God. “At the dawn of humankind, man fashioned a benevolent creator god – often referred to as the sky god, since he was thought to reside above the Earth…”

Hy gaan verder om te verduidelik dat die mens magteloos gevoel het teenoor die natuur en sy omgewing en het sodoende iets nodig gehad om te aanbid en op te vertrou. Hiermee kon daar ‘n greep verkry word op gebeure.

Die vader van psigoanalise, Sigmund Freud het weer op sy beurt gesê dat die mens God geskep het die oomblik toe hy bewus geword het van die realiteit van sy eie dood en einde. ‘n God en lewe na die dood het dus verligting en weereens beheer terug gegee aan die mens.

Dit het natuurlik alles saamgehang met die mens se vermoë om sy idees met mekaar te kon uitruil en kommunikeer. Een van die groot verskille tussen die mens en diere: ons taalvermoë. Ons kan konseptualiseer. Maar konsepte en taal moes aangeleer word. As ons dit nie geleer het nie, sou ons dit nie geken het nie.

As illustrasie, dink maar net watter gedagtes en beelde die woord “God” by jou oproep. En onthou dat hierdie gedagtes en beelde oorgedra is van geslag tot geslag. Jy’t dit dus aangeleer.

Om oor God te dink is die uitvloeisel van die vermoë om abstrak te dink, iets wat beslag gekry het toe ons evolusionêre voorvaders begin het om gereedskap van klip te maak.

Dit het ons gehelp om kreatief te begin dink en so daardie deel van ons brein help ontwikkel. En is dit nie uiteindelik met jou brein waar jy glo aan ‘n God of nie glo aan ‘n God nie?

Die Johannes Evangelie, in die Bybel begin met die bekende woorde, “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.”

As ons saamstem dat evolusie meer en meer tussen ons ore plaasvind, sal ons dalk Johannes 1 kan verander na: “In die begin was die menslike brein, en die brein het God bedink, en die menslike brein was self God.” En daarmee bedoel ons dan dat ons die een is wat skep en herskep. Ons kan lewe vir ons en die rondom ons sinvoller maak. Beter maak.

Ons kan daarom kies om eerder vanuit liefde en vrede te leef as vanuit die oer dryfveer van vrees. Miskien kan ons verby godsdiens, oordeel, reg of verkeerd beweeg en in ‘n nuwe vryer spesie evolueer. ‘n Spesie wat met meer verantwoordelikheid en deernis leef.

George Bernard Shaw: “Life isn’t about finding yourself. Life is about creating yourself.”