Daar was lank lank gelede ‘n tyd toe mense, gode en engele elke dag saam gekuier, gelag, geleef en gesterf het. Wel, dit is nou as jy glo wat in antieke geskrifte opgeteken staan. Mites en verhale wat iets probeer sê van hoe mense in daardie tye hulle werklikheid verstaan, geïnterpreteer en beleef het. ‘n Monistiese wêreldbeeld (waar God/gode deel van een werklikheid was).
Dink maar net aan Zeus, volgens die Griekse mitologie die oppergod en heerser van die gode, wat gereeld by mooi aardse vroue kom kuier het, met gevolg dat daar talle goddelike en menslike kinders gebore is. Een so ‘n kind was Herkules, wat half mens en half god was, en natuurlik herinner dit ons aan ander god-mens verhale soos Dionysus en Jesus. En baie van die gode was gesien as deel van en selfs verantwoordelik vir weersomstandighede, oeste, siektes, ensovoorts. Baie mites het dan juis gehandel oor hoe gode en engele hulle daagliks bemoei het met elke-dag menslike handelinge.
Vanuit die Christen-tradisie is daar ook vele sulke voorbeelde van waar gode en engele tussen die mense rondbeweeg het, lees maar net van die dele in die Pentateug en Rigters (van die oudste tekste wat jy kan vind in die Bybel) en jy sal duidelik sien hoe hulle die gode-wêreld verweef gesien het met die menslike wêreld.
Maar hierdie verstaan van gode, engele en mens wat saamleef het stadigaan met tyd verdwyn, tot natuurlik in vandag se tyd waar meeste gelowige mense ‘n onderskeid tref tussen God en magiese teenoor die vleeslike en aardse. Dit is ook waarna die woord “bonatuurlik” verwys. En daarom is God vandag vir meeste gelowiges deel van ‘n ander werklikheidsfeer. En daarom glo hulle dat hulle net toegang tot daardie wêreld kan kry, deur uitsonderlike openbarings, visioene en esoteriese dinge.
Dit het veroorsaak dat meeste gelowiges (veral in die populêre godsdienstige sienings van vandag) hulle werklikheid in twee opgedeel het – ‘n aarde/natuurlike (wat oorwegend sleg beskou word) en ‘n geestelike/bonatuurlike werklikheid (wat oorwegend goed beskou word).
Dit is dan ook die geboorte van die idees rondom sonde en straf.
Hierdie verwikkeling kan beskryf word as ‘n oorgang vanaf ‘n monistiese wêreldbeeld na ‘n dualistiese wêreldbeeld (waar dié wêreld van die mistiese werklikheid gestroop word en God in ‘n ander werklikheidsfeer bestaan). Gaan lees gerus hoe van die Griekse filosowe (o.a. Pythagoras en Plato) die dualisme verwoord het.
‘n Ander Griekse filosoof, Aristoteles, het uiteindelik met sy verstaan van dualisme (naamlik die Eerste Oorsaak wat aan die heelal geboorte gegee het, maar buite dit staan) meegebring dat die Westerse godsbeeld gebore is. ‘n Godsbeeld wat deur die Jode (en later die Christene) van die Grieke oorgeneem is.
Hiermee saam ontstaan daar dan ook die redelik moderne verstaan van ‘n siel. Want sien, op ‘n manier moes die twee werklikhede weer aan mekaar verbind kon word.
Iets moes die gaping tussen God en mens kon oorbrug. En wat beter as die siening van ‘n siel; ‘n stukkie van die ander wêreld en God wat binne die mens leef. En alhoewel die liggaam sleg en swak is, is die siel goed en rein. En so word dualiteit ook in die mens self gebore.
Gelukkig was dit nie die enigste storie nie, en alhoewel baie gelowiges vandag nog in bo genoemde dualiteit vasgevang leef, is daar ook ‘n ander kant. Hierdie kant loop deur die Romantiese mistiek van die 19de eeu. In hierdie tyd was daar ‘n agnostiese poging om die kloof tussen die mens en God te oorbrug deur ‘n teruggrype na die Oosterse verstaan van God, veral soos dit voorkom in die Taoïsme. Hierin word God meer beskryf as ‘n tipe lewens-energie, ‘n weg wat jou ontwyk die oomblik as jy dit ‘n naam probeer gee. Iets wat is. En slegs wanneer jy jouself is, volledig mens, volledig teenwoordig, kan jy iets daarvan beleef. Met ander woorde, God is nie bonatuurlik of transendent nie. Nee, die goddelike is volledig aards, natuurlik en teenwoordig.
Die goddelike is dus te vind in die hier en nou, in die elke dag lewe. Hierdie verstaan word juis mooi verwoord deur ‘n moderne beweging binne die Christendom, genaamd Progressive Christianity. Hoor hoe beskryf een van hulle skrywers, Fred Plumer dit: “So what do progressive Christians do with the ‘God thing?’ First we admit that whatever it is, if anything, it is a mystery beyond our comprehension. We can rename ‘it’ as the Supreme Mystery, Ultimate Meaning, Unity … but I believe that it is time to reject the dualistic idea of two realms … the real and the mysterious, the natural and the supernatural. I believe that we can live our lives in such a way that we can intentionally create opportunities to experience that ‘God Thing.’ I now experience the supreme mystery almost every day of my life in some place, in some thought, or with someone.”
Dit laat my dadelik aan Khalil Gibran se woorde dink: “Your daily life is your temple and your religion. Whenever you enter into it, take with you your all.” Want net soos Gibran, dink ek ook dat God of die goddelike, nie in ‘n ander-wêreldse of bonatuurlike te vind is nie, dit is om op die verkeerde plek te soek.
Miskien is die goddelike, soos ons in die Taoïsme leer, veel nader as wat ons kan dink of beredeneer. Miskien is God nou besig om te fluister, miskien is God nou besig om te luister. Miskien is God veel meer as wat jou self-geskepte en beperkte prentjies van hom of haar ooit kan wees. Ek wonder of dit nie eintlik is wat Jesus probeer sê het nie.
Hierin help filosowe soos Friedrich Nietzsche ons ook baie. Hy het ook probeer om mense bewus te maak dat God nie gesoek moet word in mensgemaakte idees nie, maar dat as jy God wou vind jy op ‘n nuwe manier moes begin dink en wonder. Hy doen dit nou wel op ‘n kras manier met sy bekende “God is dood”-uitspraak. Maar hy sê juis hierdeur dat God nie buite iewers, in die bonatuurlike te vind is nie.
‘n Idee wat algaande deur filosowe en digters geformuleer is as ‘n mistieke godheid wat nie bonatuurlik of transendent hoef te wees nie. ‘n God wat deel is van ons, binne en naby. Dalk die bron, kern van alles. Hierdie nuwe denke is nie net deur filosowe bedink nie, nee, ook teoloë soos Paul Tillich het begin argumenteer dat ‘n teïstiese (God buite ons, ‘n wese op ‘n troon) en persoonlike god ‘n gevaarlike idee is, wat moes sterf.
Ander filosowe en denkers het hierby aangesluit soos Schopenhauer en Hegel wat albei gesê het God kan dalk eerder in die mens se elkedag doen en late gevind word as in iets bonatuurliks of werklikheidsvreemd. Klink amper soos die antieke mense se mitiese verhale wat ook maar net wou sê die goddelike is hier en naby.
In een so ‘n antieke geskrif, die Thomas-evangelie, ‘n boek wat deur sommige geleerdes so vroeg as omstreeks 50 nC gedateer word, kom Jesus en sê die volgende: “Laat hy wat soek nie ophou soek tot hy gevind het nie. En as hy vind, sal hy verontrus word en as hy verontrus is, sal hy hom verwonder en hy sal oor die Alles heers en rus vind.” In die Thomas-evangelie is dit duidelik dat die weg ‘n innerlike weg is. Dus as Jesus hier sê soek, praat hy van soek binne en vind dus ook binne. En wat sal jy binne vind? Jou onlosmaaklike deel van Alles. Jy en God en die lewe is Een. Alles is een.
Ongelukkig het meeste godsdienste die opsie van dualiteit gekies, en daarmee hulle volgelinge geleer om iets buite hulleself te soek, ver weg en bonatuurlik. Daardie iets word dan gewoonlik volgens hulle God genoem. Nietzsche het gesê hierdie buite-God is dood. Ek stem saam.
Dit maak vir my veel meer sin om op ‘n nuwe manier oor God en die werklikheid van die lewe te kan dink. Om die nuwe ontdekkings in die wetenskap, evolusie, filosofie en teologie by my verstaan te integreer en daarop te bou.
En so kan ons die goddelike herontdek, opnuut ervaar, en so in die klein en die groot krisisse van ons lewens sin vind. Vir elke mens kan dit iets anders wees. En só begin ons reageer, nie op ‘n bonatuurlike, ver weg en antieke God nie, maar op dié goddelike wat elke dag binne ons koppe, verhoudings en lewe gebeur. En dit maak ons werklikheid eerliker, oper, genadiger en vryer. En so laat ons God op ‘n nuwe manier tussen ons gebeur. En hopelik sal generasies na ons, ons mites, verhale, poësie oor ons verstaan van God kan gebruik om weer hulle te help, met hulle eietydse soeke. Uit die Thomas-evangelie: “Die koninkryk van God is oor die hele aarde uitgesprei en tog sien mense dit nie.”
Recent Comments