Die huidige droogte laat my onwillekeurig terugdink aan my tyd as NG predikant en die vele bidure vir reën, wat ek gelei het. En alhoewel ek nog altyd die desperaatheid en hulpeloosheid van ons as mens in sulke krisistye verstaan, was dit tog altyd vir my hartseer om in sulke tye te sien, hoe mense terugval in bygelowige en selfs werklikheidsvreemde denke.
Want enigiets waarna jy gryp as ‘n maklike antwoord en ‘n wonderwerk oplossing, is op die langtermyn ‘n baie gevaarlike en inperkende pad om te stap. Die hoofrede hiervoor is dat maklike antwoorde en bygelowige oplossings jou ‘n slagoffer maak. Dit bind jou; verblind jou en neem al jou vryheid weg.
Dit is verseker nie ‘n nuwe ding nie. Reeds sedert vroegste tye was die mens hoogs vatbaar vir bygelowige verklarings. Dink maar aan hoe die antieke mense opgetree het teenoor natuurlike verskynsels soos o.a. donderweer.
Omdat hulle dit nie verstaan het nie het hulle stories vir mekaar vertel oor hoekom en vanwaar hulle glo die donderweer kom. En ja, die stories was kleurvol en vermaaklik maar in essensie vals.
En omdat die mense hierdie stories geglo het, het hulle hul lewens daarvolgens ingerig. Hulle het offers gebring, met die hoop dit sal die donderweer (gode wat kwaad is) kalmeer en wanneer die wolke uiteindelik dan wegtrek en die son weer skyn, was almal baie bly want hulle het geglo hulle offers is aanvaar.
Vandag weet ons (of meeste van ons in elk geval) dat donderweer is nie die gode wat kwaad is nie. Net so ook is droogte, vloede en ander natuurrampe nie God se straf nie. Nee, dit het te doen met weerpatrone soos o.a. die El Niño-weerpatroon in ons geval.
Ons weet dat El Niño gaan oor temperature wat in die Stille Oseaan vinnig styg en val, en die warm en koue lug wat dan die El Niño verskynsel tot gevolg het.
Om die huidige droogte (en ander dele van die wêreld se vloede) te ont-mitologiseer en te bevry van bygeloof, maak dat ons vryer en met minder vrees kan leef. Want sien die kwaai gode verloor nou hulle houvas op ons psige.
Presies waarna Carl Sagan verwys met: “It is far better to grasp the universe as it really is than to persist in delusion, however satisfying and reassuring.”
Dit laat my weereens aan die Skinner-boks eksperimente dink. Dit is nou die eksperimente gedoen deur die Amerikaanse sielkundige Burrhus F. Skinner (1904-1990). Hy het ‘n apparaat ontwerp wat gebruik was om ‘n studie van die gewoontes van diere (onder meer duiwe en rotte) te maak.
Hoe dit werk is eintlik heel eenvoudig. Die boks bevat ‘n skakelaar of skakelaars (wat binne aan die een kant gemonteer is) wat byvoorbeeld deur ‘n duif in werking gestel kan word deur dit raak te pik. As die duif die skakelaar raakpik word hy beloon met kos. Wat Skinner onder meer wou vasstel, was of diere ‘n spesifieke gedrag kon aanleer. Skinner het dan later sy eksperiment gewysig, deur op te hou om gedrag te beloon.
Met sy nuwe eksperiment is die duif net van tyd tot tyd beloon, ongeag wat die voël gedoen het. Al wat die voëls nou hoef te gedoen het, was om niks te doen nie, net maar te wag vir die belonging.
Skinner het egter gevind dat die duiwe nie dit doen nie. Die duiwe het “bygelowige” gedrag aangeleer. Hulle het ‘n tipe “reëndans” gedoen wat bestaan het uit allerhande vreemde bewegings – asof hulle daarvoor beloon sou word.
Skinner het later hierdie waarnemings in sy Skinner-boks vergelyk met die bygelowige rituele van dobbelaars en godsdienstige mense. Hulle glo hulle gebede en rituele het ‘n invloed op byvoorbeeld die geldmasjiene in die casino’s of die weerpatrone.
Is die bygelowige gedrag van mense nie maar presies soos die “reëndanse” wat die duiwe aangeleer het nie?
Wanneer mense egter oopkop, vry en denkend begin omgaan met die werklikheid, verloor bygeloof vinnig sy houvas. Kyk maar net wat gebeur het met baie bygelowe sedert die vooruitgang op wetenskaplike en tegnologiese gebiede.
Die wat meer dink en wonder eerder as bygelowig wees, vind dat die lewe ‘n groter misterie is, nie kleiner nie. En hierdie misterie bring ‘n groot avontuur na vore. ‘n Avontuur wat jou uit die boks wil laat klim. ‘n Boks waarbinne jy aanvanklik veilig gevoel het, maar nou besef is ‘n tronk.
Want is dit nie so nie, dat slegs wanneer jy uit die boks klim, kom jy eers werklik tot die besef dat jy binne die boks was?
Is dit ook nie wat die karakter, Dorothy, in die boek van L. Frank Baum, The Wonderful Wizard of Oz, ontdek het nie?
Die storie handel oor Dorothy en haar hondjie Toto wat eendag deur ‘n verskriklike stormwind tot in die hartjie van Oz weggewaai word. En die enigste manier om haar pad terug te vind is om die towenaar van Oz op te soek. Op hierdie avontuur ontdek Dorothy dat die towenaar van Oz met die groot stem, eintlik maar net ‘n gewone ou man is (wat droom om deel van ‘n sirkus te word eendag). Dorothy sien dus agter die skerm van bygeloof. Net so kan ons agter die skerm van bygeloof inkyk as ons bereid is om te kyk. Presies wat elkeen van ons kan ontdek as ons bereid is om ons oë oop te maak vir die lewe.
Bygeloof maak blind en doof maar ‘n eerlike en oop soeke aktiveer die avontuur.
Paulo Coelho stel dit kragtig met die volgende: “You can become blind by seeing each day as a similar one. Each day is a different one; each day brings a miracle of its own. It’s just a matter of paying attention to this miracle.”
En hiervan kan ek getuig, die oomblik wat jy bewustelik, oop en eerlik begin lewe sien jy die misterie. En is die misterie nie die eintlike wonderwerk nie? Is jou lewe, verhoudings, lag en huil nie alles ‘n wonderwerk nie? Is hierdie oomblik, ongeag droogte of vloede, nie ‘n wonderwerk nie?
Die moment wat jy besef dat hierdie oomblik is die misterie, die avontuur, die lewe, word jy weergebore. Hierdie keer nie as ‘n slagoffer nie maar as ‘n vry mens. En dan sal jy die woorde van die Zen Leermeester Linji (uit die Rinzai tradisie) verstaan. “There is only ‘just this’ – and that is the meaning. ‘Just this’: whatever is in front of you. So now, go practice being present to ‘just this,’ alive and fresh to every moment.”
Recent Comments