“Fake news” is nou een van die kenmerke van die tyd waarin ons leef. Die afgelope jare se inligtingstegnologie-revolusie en veral sosiale media het nie net bygedra tot beter kommunikasie en groter deelname aan openbare diskoers nie. Dit het ongelukkig ook, tot die relativering van die inhoud van die diskoers bygedra.

Ek meen, wat is feit en wat fiksie? Wat is waarheid en wat ‘n leuen? En hoe besluit jy na wie om te luister, en wie om te glo, in al die stemme en opinies wat skree om jou aandag? En sjoe, elkeen het ‘n opinie. So baie opinies. Dit laat my dink aan wat die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche al baie jare terug gesê het: “There are no facts, only interpretations.”

Nou ja, ons leef tans in so ‘n tyd, ons kan dit noem die era van die Opinie. ‘n Tyd waar almal met ‘n rekenaar en ‘n slimfoon toegang het tot enige platform – en meer nog, diesélfde platforms waarna die met “mag”, die politieke leiers, o.a. die Trumps, hulle eiers kan lê. Maar so ook waar die sg. “magteloses” ook enigiets van enige iemand of iets kan sê.

Dit herinner my aan die woorde in die rolprent The Big Lebowski: “Yeah, well, you know, that’s just like your opinion, man…” Ek besef natuurlik dat die idee dat ons vir onsself kan dink en besluit, en boonop die middele of “stem” het om ons opinie te laat hoor, ongelooflike aantrekkingskrag het.

Die versoeking is baie groot om nie te glo dat elkeen van ons ‘n gelyke “meningsvormer” is nie. Ja dit is wonderlik om Vryheid van spraak en Vryheid van idees te hê, maar die ander kant hiervan is die idee dat alle opinies gelyke waarde het. En dit het nie!

Dink maar aan die soort sistemiese relativisme op Facebook en Twitter, die kommentaarkolomme onderaan artikels en berigte wat aanlyn gepubliseer, gedeel en gelees word. Dit moedig ongelukkig nie bloot gesprek en debat aan nie, maar ‘n gelykstelling van menings. En dit is gevaarlik.

Dink maar aan die mistasting en wanbegrip van wat wetenskaplik is en wat kwasiwetenskap is. Waar dit eers net politieke of historiese leuen was, word dit nou sommer alternatiewe feite. Dink maar byvoorbeeld aan die opinie dat inentings by kinders kousaal verbind kan word aan outisme.

Of dink aan Thabo Mbeki, wat op die internet afwykende sienings oor MIV lees, en dan begin versprei as ‘n mediese feit. Of wanneer Donald Trump verwys na “fake news” wanneer hy nie daarmee saamstem nie en dan sy eie “fake news” opmaak om sy standpunt te bevorder. En jy weet hy gebruik dit suiwer as ‘n politieke speelbal.

Is ons in hierdie era van die Opinie, soos baie al beweer, sonder waarheid (of postwaarheid)?

Die probleem is egter dat in die tyd toe net diegene met gesag die waarheid in pag gehad het, was dit net so nadelig en vals gewees. Die sogenaamde era van kundigheid, van oorgelewerde gesag, van duidelike hiërargieë van kennis en opinie.

‘n Tyd toe ons ouers geen eie opinie kon hê nie, waar net die gesagvolles – die predikante, skoolhoofde, bankbestuurders, mediese dokters, akademici en politieke leiers – eenvoudig onkrities geglo moes word. En waar die tradisionele media die enigste stem was. Dit was net so gevaarlik soos die huidige oorhel-reaksie van enige opinie is geldig en ewe waar. Twee kante van dieselfde muntstuk.

Dit bring my by wysheid; die vermoë om te kan onderskei tussen waarheid en valsheid. Om balans te kan vind in ‘n ongebalanseerde wêreld.

Wysheid is dus om te verstaan dat alles in die lewe konstant onderworpe is aan verandering, beweging. Niks, maar niks staan vas of bly dieselfde nie.

Presies wat Heraclitus, ‘n Griekse filosoof (535-475 vC) gesê het: “No man ever steps in the same river twice.” Wat hy probeer sê is dat, net soos die werklikheid heeltyd verander, net so verander die een wat dit waarneem ook heeltyd.

Nuwe idees, nuwe ervarings en nuwe opinies bring nuwe insigte. Nuwe insigte bring ander gevoelens en oortuigings na vore. En dit alles kleur die waarnemer se waarnemings in. Dit wat jy dus waarneem word nie net bepaal vanuit die hoek waaruit jy kyk nie, dit word ook bepaal vanuit die een wat in daardie spesifieke hoek staan. Nie waar nie?

Hierby sluit ‘n ander bekende Duitse filosoof, Johann Wolfgang von Goethe (1749-1832) aan met: “There is nothing insignificant in the world. It all depends on the point of view.” En hierdie hoek waaruit jy kyk na die lewe (saamgevat in jou opinie) is maar net een van vele hoeke. Iets wat mense baie maklik vergeet, en dan verkeerdelik op aanspraak maak as net een waarheid – natuurlik hulle waarheid.

Dit wat die Franse filosoof Simone de Beauvoir (1908-1986) so raak beskryf: “Representation of the world, like the world itself, is the work of men; they describe it from their own point of view, which they confuse with the absolute truth.”

Want waarheid is altyd veelvlakkig. En slegs wanneer iemand diep luister, diep kyk en met respek omgaan met ander se verstaan en belewenis van waarheid, kan daar sinvol ‘n dieper wysheid beleef word. En dit is die essensiële verskil tussen waarheid en wysheid. Die woorde van Miles Kington verduidelik dit: “Knowledge is knowing that a tomato is a fruit, wisdom is not putting it in a fruit salad.”

Wysheid is die vermoë om vanuit verskillende hoeke na ‘n saak soos waarheid te kan kyk. Amper soos om te kyk na ‘n groot diamant. Die misterie van die lewe is eenvoudig net te diep, veelvlakkig en veelkleurig. En wysheid is om dit te besef. Soos ‘n vis in die see blind is vir die grootsheid en alomteenwoordigheid van die waters waarbinne dit leef, speel en sterf, net so is ons siende blind vir hierdie groot Misterie.

Gewoonlik is die lewe goed en om te sterf nie so goed nie. Meer nog, meeste mense vlug hul hele lewe lank weg van hul onvermybare einde. Het jy al so daaraan gedink – miskien is die goeie dinge in jou lewe ‘n toets en die slegte dinge in jou lewe die eintlike geskenke. Want die slegte dinge help jou groei en die goeie dinge meestal nie.

Juis daarom kan net die wat stil genoeg word, die eintlike wyses, iets van hierdie Geheimenis verstaan. Eerlik beskou, kan ons nie veel meer van hierdie Geheimenis sê nie, as dat dit is wat dit is. En selfs dit wat ons so maklik beoordeel as reg of verkeerd in hierdie lewe, miskien is alles net maar wat dit is.

Benjamin Hoff verwoord dit as: “If you want to learn the natural world’s principles of success, you’ll need to see things not as “good” or “bad”, but as they are.”

Dit beteken nie dat moraliteit of logika nie ‘n belangrike plek het nie, nee dit beteken eenvoudig net dat dit wat ons so maklik klassifiseer as reg of verkeerd, goed of sleg, meer van die waarnemer afhang as wat dit van die werklikheid voor hom of haar afhang. Jou opinie sê dus veel meer van jou as dit wat jy kritiseer of probeer afbreek.

Daarom seker dat vele spirituele leermeesters deur die eeue heen ons geleer het dat die bron van goedheid sowel as boosheid by die mens self lê. En dat wanneer die mens vryer, eerliker en ruimer begin leef, hulle minder “blind” is. En dan sal ons kan wakker word vir die lewe self en dit wat voor ons in elke oomblik ontvou. Dit wat Thich Nhat Hanh so meesterlik verwoord met: “People suffer because they are caught in their views. As soon as we release those views, we are free and we don’t suffer anymore.”