Om ‘n sinvolle gesprek te kan voer en om dit met ‘n respekvolle, eerlike en luisterende ingesteldheid te kan doen, is sekerlik een van die grootste geskenke wat jy aan jouself (en ander) kan gee. Dit is om die weg van wysheid te kies.
Hiermee het die Griekse filosoof Sokrates (dis hy op die foto) ons ongelooflik baie gehelp met sy verstaan en lering. Wat Sokrates so ‘n besonderse leermeester gemaak het, was dat hy sy studente geleer het ‘n mens moet nooit ophou vrae vra nie. Hy het onbevange elke gesprek betree, met die grootste ontsag en respek vir sy teenstander. Met sy ingesteldheid dat hy eintlik niks weet nie, kon hy oop en eerlik na die ander een luister. Sy styl en benadering is mettertyd vasgevang in ‘n spesifieke metode van doen.
Die Sokratiese metode (soos dit vandag bekend staan) word as een van die belangrikste bydraes tot Westerse denke beskou. Dit word ook die dialektiese metode genoem wat verband hou met die woord “dialoog” maar in hierdie geval meer na ‘n spesifieke vorm van “redeneerkunde” verwys.
Die doel van die Sokratiese metode is om deur ‘n rasionele bespreking ‘n meningsverskil te probeer oplos in die soeke na waarheid.
Enige probleem word in ‘n reeks vrae opgebreek. Deur stelselmatig die een vraag na die ander te beantwoord, word geleidelik na oplossings beweeg. Volgens Sokrates kan daar altyd meer as een oplossing vir enige probleem wees. Hierdie metode word veral vandag in die wetenskap gebruik – die hipotese dien as die eerste stap tot ‘n ondersoek.
Die wetenskaplike metode verwys na ‘n versameling van tegnieke wat gebruik word in die ondersoek, regstel of integrering van nuwe kennis. Om ‘n metode wetenskaplik te noem, moet dit gebaseer wees op waarneembare, meetbare en empiriese bewyse, wat die beginsels van logiese redenering onderskrywe. Die doel van hierdie metode is om by die waarheid uit te kom.
Ibn al-Haytham (Alhazen, 965-1039), ‘n sleutelpersoon in die ontwikkeling van die wetenskaplike metode, sê: “Waarheid word gesoek om die waarheid se eie onthalwe. En diegene wat betrokke is by die soeke na enigiets om daardie ding se eie onthalwe is nie geïnteresseerd in ander dinge nie. Om die waarheid te vind is moeilik, en die pad daarheen is grof.”
Nadat ‘n hipotese voorgestel is, moet dit getoets word: eksperimente word gebruik om data te toets en te ondersoek. Hierdie proses word herhaal. Dan moet die bevindings bekend gemaak word sodat ander navorsers en wetenskaplikes dit kan ondersoek en met hul bevindings vergelyk. Eers dan kan iets as wetenskaplik “waar” beskou word.
Om dit eenvoudig te verduidelik: gestel jy sit binne ‘n gebou sonder vensters. Iemand sê dit reën buite (hipotese), jy staan op en loop na buite om te gaan kyk of dit reën (ondersoek data). Sodra jy sien dit reën, roep jy iemand anders en vra of die persoon ook die reën sien (stel teorie bekend), indien die persoon bevestigend antwoord, kan jy sê dit is ‘n feit dat dit buite reën.
Die Sokrates-metode begin juis met die stel van ‘n hipotese. Die hipotese word bevraagteken. Dan word daar met die data omgegaan met vrae wat bedoel is om onderliggende teenstellings uit te lig en om kennis te verbreed. Sokrates het geglo dat ‘n mens slegs by waarheid uitkom as jy jou eie geloofsoortuigings kan ondersoek en eerlik bevraagteken.
Sokrates sou vandag vir ons gesê het dat jy met jou oortuigings rondom byvoorbeeld God, godsdiens en spiritualiteit, altyd eers by jouself moet begin. Deur vraag op vraag, kan jy al hoe dieper delf. Volgens hom was daar geen ander manier om by waarheid uit te kom nie. Dink net as ons wetenskap en godsdiens met mekaar in gesprek kon laat tree… en albei opponente het hulle eie “feite” eerlik en oop ondersoek en bevraagteken?
Dit sou meebring dat ons minder baklei en probeer oortuig. Ons sou oop wees vir die ander se siening en bereid wees om onbevange te luister. Dit sou vra dat ons met integriteit, respek en nederigheid in gesprek gaan met iemand wat anders as ons dink. Iemand vir wie ek ongelooflik respek het, juis omdat sy met hierdie aanslag die gesprek tussen wetenskap en godsdiens benader, is die Amerikaner, Karen Armstrong. Van haar bekende werke is The Case for God en The History of God. In ‘n openbare brief skryf sy aan Sam Harris, uitgesproke ateïs en veral bekend vir sy boek The End of Faith (terloops, ek het die grootste agting vir hom):
“It is clear that we need a debate about the role of religion in public life and the relationship between science and religion. I just wish this debate could be conducted in a more Socratic manner. Socrates, founder of the Western rationalist tradition, always insisted that any dialogue must be conducted with gentleness and courtesy, and without malice. In our highly polarized world, we really do not need yet another deliberately contentious and divisive discourse. When I was a student, I was taught to listen to all sides of a question, examine the evidence impartially, and be prepared to change my mind. For many years, I wanted nothing to do with religion and would have agreed wholeheartedly with Sam Harris; my early writing definitely tended to the Dawkinesque. But my study of the history of world religion during the past 20 years has compelled me to alter my views.”
Wanneer godsdiens (mythos) en wetenskap (logos) eerlik met mekaar praat, is dit baie belangrik dat daar met respek en begrip na mekaar geluister word. Soos Sokrates soveel eeue terug gesê het, moet ons nooit ophou vrae vra nie en veral nie ophou om ons eie oortuigings te bevraagteken nie.
Natuurlik moet ons as gesprekgenote ooreenkom dat die gesprek-reëls die wetenskaplike metode onderskrywe. Ons moet mekaar help om respek te hê vir die verskillende genres binne ons benadering tot waarheid. Waar logos onder meer met empiriese bewyse werk, fokus mythos onder meer op poësie. Wanneer ons verstaan dat een denkrigting besig is met die uiterlike en sigbare dinge en die ander een weer op innerlike en onsigbare dinge reflekteer, kan ons waardering ontwikkel vir die waarde van albei om sodoende ‘n beter geheelbeeld van ons wêreld te kry. Ons moet begin om na ons wêreld vanuit albei perspektiewe te kyk om só ‘n eietydse sin te vind vir die lewe hier en nou.
Kom ons bly praat met mekaar.
Kom ons luister, meer as wat ons praat.
Kom ons hou nooit op vra vrae nie!
Dit is die weg van wysheid.
Recent Comments