Dit is ‘n onteenseglike feit dat godsdiens en wetenskap vanuit verskillende “wêrelde” kom – en ons moet dit altyd onthou en respekteer.

Die wetenskap se wêreld sluit in objektiwiteit, rasionaliteit, kritiese distansie, en toetsbaarheid. En dit is verseker nie deel van die wetenskaplike se wêreld om stellings te probeer maak oor, byvoorbeeld, of God bestaan of nie bestaan nie. Want daar is geen meetbare toetsbaarheid vir so ‘n stelling moontlik nie. Daarom dat iemand soos die briljante Richard Dawkins, eintlik ‘n onwetenskaplike stelling maak as hy sê dat, byvoorbeeld, die evolusieteorie noodwendig tot ateïsme sal lei.

Aan die ander kant, indien iemand glo dat daar ‘n God is en dit dan kwalifiseer dat dit slegs ‘n geloofsoortuiging is en nie ‘n wetenskaplike feit nie, dan is dit tog die reg van daardie persoon om so te glo. Want die godsdienstige wêreld gaan oor ‘n innerlike wêreld van verbeelding, belewenis en gevoelsmatige uitdrukking, poësie, metafore, simbole, emosies, rituele en kuns.

Dit kan egter nooit gebruik word as ‘n sogenaamde bewys vir die bestaan of die nie-bestaan van God nie.

Ek dink dat godsdiens juis vandag die prys betaal vir die feit dat hy hom laat verlei het om wetenskaplik oor God te probeer praat; God as ‘n objek wat bewys kan word, soos enige ander onderwerp van wetenskaplike studie. So asof ‘n mens hoegenaamd feitelike opmerkings oor God kan maak. Sodoende het vele godsdienste hulle geloofwaardigheid deur die jare verloor en is steeds besig om dit te verloor.

Dink net hoe anders ons wêreld sou uitsien indien die verstaan van God, van enige geloof, nie gesien was as die ‘Ewige Onveranderlike’ nie, maar eerder as die ‘Ewig Veranderende’ of ‘Ewige Misterie.’

Want by my is daar geen twyfel dat ons verstaan van ons werklikheid heeltyd moet verander om in pas te bly met die realiteit nie. Net so moet ons godsbeeld of prentjie van ons verstaan van God heeltyd transformeer of die normale evolusie van idees ondergaan. Ons moet eietyds oor God en godsdiens kan dink en praat. Juis daarom dat godsdiens nie sonder die wetenskap kan voortleef nie – ons moet ons gode en dogmas heeltyd uitdaag en bevraagteken.

Presies waar ek spiritualiteit sien ontluik as nuwe rigtinggewende verstaan van lewe, God, godsdiens en wetenskap.

Karen Armstrong beskryf dit in haar boek, The Case for God só: “Ons het daaraan gewoond geraak om te dink dat godsdiens aan ons inligting moet verskaf: Is daar ‘n God? Hoe het die wêreld ontstaan? Religie was egter nooit veronderstel om aan ons inligting te verskaf oor vrae wat binne bereik van die menslike rede (lees: wetenskap) lê nie. Dít was die taak van logos. Die taak van religie, nou verwant aan dié van kuns, was om ons te help om kreatief te lewe, vreedsaam en selfs vreugdevol te midde van werklikhede waarvoor daar nie maklike verklarings is nie en probleme waaraan ons self niks kan doen nie: sterflikheid, pyn, smart, wanhoop en verontwaardiging oor die onreg en wreedheid van die lewe. Oor die eeue heen het mense van alle kulture agtergekom dat deur hul denkvermoë tot die uiterste te beproef, en deur so onselfsugtig en deernisvol as moontlik te lewe, hulle ‘n transendensie ervaar wat hulle in staat stel om hul eie lyding met kalmte en moed te aanvaar. Wetenskaplike denke kan ons vertel waarom ons kanker het, kan dit selfs genees. Maar dit kan nie vrees, teleurstelling en verdriet wat saam met die diagnose kom, aanspreek nie. Dit lê nie op sy terrein nie. Godsdiens werk nie outomaties nie; dit verg ‘n groot mate van toewyding en kan nooit slaag as dit oppervlakkig, vals, of selfbevredigende afgodery is nie.” (Dankie, dr. Piet Muller vir die vertaling van dié gedeelte, soos dit verskyn in die boek Kom Ons Bid.)

Dit was en is nog altyd die rol van godsdiens – nie verklarings of verduidelikings van hoe realiteit werk nie maar soos Karen Armstrong dit stel: “…’n praktiese dissipline. Insigte daartoe word nie verkry deur abstrakte spekulasie nie, maar deur geestelike oefeninge en ‘n toegewyde leefstyl.”

Hopelik sal in my leeftyd nog, die debat tussen godsdienste en die wetenskap begin rigting kry. Iets wat ongelukkig nie gebeur het nie. Ons kan maar net hoop dat mense meer eerlik, braaf en soekend sal omgaan met hulle werklikheid. Dat mense dieper en met meer deernis sal leef, maar nie ten koste van hulle kritiese denke en logika nie.

Ek hoop om self met meer respek die twee wêrelde van godsdiens en wetenskap te hanteer en selfs te probeer integreer in my daaglikse lewe. Die woord wat hier uitstaan is RESPEK. Respek moet ons kompas wees in die moeilike reis tussen die twee wêrelde.

Ek dra dus die volgende credo/gedig van die Amerikaanse Shawnee Indiaan, Chief Tecumseh, aan elkeen op wat braaf genoeg is om eerlik, soekende en twyfelende te leef. Die van ons wat nie wegkruip agter sogenaamde sekerhede nie:

“So live your life that the fear of death can never enter your heart. Trouble no one about their religion; respect others in their view, and demand that they respect yours.
Love your life, perfect your life, and beautify all things in your life. Seek to make your life long and its purpose in the service of your people.
Prepare a noble death song for the day when you go over the great divide.
Always give a word or a sign of salute when meeting or passing a friend, even a stranger, when in a lonely place.
Show respect to all people and grovel to none.
When you arise in the morning give thanks for the food and for the joy of living.
If you see no reason for giving thanks, the fault lies only in yourself.
Abuse no one and no thing, for abuse turns the wise ones to fools and robs the spirit of its vision.
When it comes your time to die, be not like those whose hearts are filled with the fear of death, so that when their time comes they weep and pray for a little more time to live their lives over again in a different way.
Sing your death song and die like a hero going home.”

Dankie aan elke mede-reisiger vir julle vry en onbeskaamde “death songs” wat julle daagliks probeer sing. Dit help my met myne.