Die werklikheid is ‘n dans tussen kompleksiteit en eenvoud:
As jy jou werklikheid benader vanuit jou vooropgestelde idees, konsepte, ideologieë en ego storie, is dit kompleks, baie kompleks.
Wanneer jy egter jou werklikheid, wat in elke oomblik voor jou ontvou, direk beleef en ervaar, is dit eenvoudig.
Want jou werklikheid is dit wat in hierdie oomblik voor jou afspeel en geen hoeveelheid weerstand of manipulasie kan dit wat nou is, verander nie.
Dit wat is, is! Net soos jy nie die golwe in die see kan groter of kleiner maak nie, ook nie hulle ritme kan bepaal nie. Wat jy wel kan doen is om saam met dit te leer swem of soos Prof. Jon Kabat-Zinn dit stel: “You can’t stop the waves, but you can learn to surf.”
Dit is egter nie wat ons (veral in die Weste) geleer is nie. Nee, ons is geleer om ons sin en betekenis op die werklikheid af te forseer. Om ons werklikheid te probeer domineer en te omvorm na dit wat ons eerder begeer.
So het dit dan ook gebeur dat al hoe minder mense regtig gelukkig is, want dit maak nie saak hoe hard jy hoop, wens of manipuleer nie, die werklikheid ontvou rustig voort teen sy eie tempo en pas, net soos die golwe in die see.
Dit maak ook nie saak wat jou opinies of vooropgestelde idees oor die lewe is nie, die lewe gee geen aandag daaraan nie. Die lewe ontvou sonder skuldgevoelens en sonder enige voorkeur, ongeag wat jy daarvan dink of wat jou uitgewerkte wêreldbeeld is. Die son kom op in die oggend en gaan onder in die aand, onaangeraak deur wat deur die eeue heen geglo is. Of die aarde om die son draai en of die son om die aarde draai, of die son ‘n god is of net ‘n ster, aanbid, vereer of verag, die son kom op en gaan onder onverstoord.
Presies so is ons werklikheid. Dit wat Alan Watts probeer sê het met: “Reality itself is neither mental nor spiritual nor any other concept that we have of it; reality is simply the present moment.”
Dit laat baie mense hulpeloos en buite beheer voel, en so word die hoop dan verskuif na more, ‘n beter more. Want as jy nie die werklikheid in die hier en nou kan beheer en bepaal nie, dalk net kan jy more se werklikheid manipuleer en bepaal.
Die probleem egter met so ‘n toekomsvisie is dat jy essensieel vandag moet offer vir more. Hierby sluit Thich Nhat Hanh aan met: “People sacrifice the present for the future. But life is available only in the present.”
More se werklikheid is net so onaantasbaar soos vandag se werklikheid. Want more is nog nie gebore nie. In der waarheid arriveer more nooit, al wat gebeur is dat dit net nog ‘n nou is. Seker daarom dat Alan Watts so sterk voel: “No valid plans for the future can be made by those who have no capacity for living now.”
Want slegs deur nou en hier jou werklikheid eerlik, wakker en bewustelik teenwoordig in die oë te kyk, kan jy die insig en wysheid vind om die volgende tree sinvol te gee.
Want sien more of dan die toekoms, is net soos nou, oop en kreatief, daar is geen vaste of uitgewerkte plan nie. Niks is in vaste vorm gegiet of vooraf beskik nie, daar is geen bloudruk nie.
Die gegewe werklikheid is dat nou en die volgende nou en die een daarna vol potensiaal en veranderlikes is. Onvoorspelbare verrassings wat deel is van elkeen se lewensreis. Daardie dinge wat niemand voor die tyd kan voorspel nie, maar wat ‘n groot impak kan maak op die rigting van jou lewe.
Ek dink weer hier aan die voorbeeld van die Libanese skrywer Nassim Nicholas Taleb se “Black Swans” metafoor wat hy gebruik. Hy begin deur te verduidelik dat daar voorheen geglo is, op grond van waarnemings, dat daar slegs wit swane in die natuur voorkom. Maar saam met die ontdekking van Australië, is ook die bestaan van swart swane ontdek.
Net so glo mense sekere dinge as die enigste waarheid, net om deur ‘n swart swaan verkeerd bewys word. Taleb verduidelik dat swart Swane in ons almal se lewens voorkom, daardie onvoorspelbaarhede en toevallighede van die lewe, wat ons nie kon antisipeer of selfs bewus van is nie.
“A black swan is a highly improbable event with three principal characteristics: It is unpredictable; it carries a massive impact; and, after the fact, we concoct an explanation that makes it appear less random, and more predictable, than it was. The astonishing success of Google was a black swan; so was 9/11. For me, black swans underlie almost everything about our world, from the rise of religions to events in our own personal lives.”
Taleb sê die kern van ons probleme lê in hoe ons dink oor ons werklikheid. Deur godsdiens, politiek en media skep ons ‘n meesternarratief vir onsself. Daarbinne word die werklikheid se ontvouing kunsmatig aanmekaar gelas, so asof alles gebeur, soos dit sou gebeur het. (Veral as ons natuurlik terugkyk op dit wat reeds gebeur het.)
Hierdie “narratiewe dwaling” soos hy dit noem, laat die wêreld minder “random” / toevallig voorkom. Maar die realiteit van die saak is dat niemand regtig weet nie en dat niemand in beheer is nie.
Enigiets kan enige tyd onwillekeurig gebeur, soos dit dan ook elke dag in biljoene mense se lewens gebeur.
Wysheid is dus om jouself oop te stel vir hierdie veranderlike en onvoorspelbare aard van die werklikheid. Om op te hou baklei teen dit wat is, en eerder die hier en nou te leer omarm en te gebruik as ‘n voertuig vir jou lewe. Of soos Kabat-Zinn gesê het, leer “surf.”
Alan Watts beskrywe hierdie ingesteldheid as: “The mystery of life is not a problem to be solved, but a reality to be experienced.”
Dit maak dus dat indien jy wil weet wat is die sin van jou lewe en hoekom is jy hier, jy die antwoord sal vind deur die lewe in hierdie oomblik te leef, eerder as probeer inpas in ‘n formule of resep.
Onthou die werklikheid is nie jou storie daarvan nie, die werklikheid is nou, hierdie oomblik van onbegrensde potensiaal.
En spiritualiteit is om in eenvoud, sin te vind in dit wat jy hier en nou vind, ongeag goed of sleg, genotvol of pynvol.
Dit wat deur die Franse filosoof André Comte-Sponville op tipiese Zen wyse verwoord word as: “The simple person lives the way he breathes, with no more effort or glory, with no more affection and without shame. Simplicity is freedom, buoyancy, transparency. As simple as the air, as free as the air. The simple person does not take himself too seriously or too tragically. He has nothing to prove, since he has no appearances to keep up, and nothing te seek, since everything is before him. What is more simple than simplicity? What is lighter? It is the virtue of wise men and the wisdom of saints.”
Want soos die lewe in elke oomblik ontvou, het ons twee keuses: óf ons maak ons oë toe en leef vas aan die slaap binne ons geskepte storie en vooropgestelde dogmas, óf ons maak ons oë oop en leef tree vir tree so eerlik, kreatief en vry as wat ons moontlik kan.
Ek dink ons is eerder ontdekkingsreisigers as net toeriste met vaste reisplanne. Vry van mensgeskepte skuldgevoelens en vry van eng, dogmatiese en resepmatige antwoorde. Dit wat Paul Theroux so raak omskrywe met: “Tourists don’t know where they’ve been, travellers don’t know where they’re going.” Die lewe word heilig daar waar mense wakker word vir dit wat is, en daar waar mense hulle self toelaat om spontaan en vry te leef.
Recent Comments