Wanneer gaan die mensdom leer dat geen hoeveelheid uiterlike wette, reëls of regulasies vrede in hulle gemeenskappe of die wêreld sal kan bewerk nie. Dit is net so sinneloos as om jou klerekas reg te pak om daardeur te poog om jou deurmekaar emosies uit te sorteer. Dit mag miskien tydelik jou aandag aftrek maar uiteindelik sal jou deurmekaar emosies terugkeer.

Nee, die geheim tot uiterlike vrede en harmonie is altyd eers innerlike vrede en harmonie. Binne bepaal buite. Daarom dat die Franse filosoof Blaise Pascal (1623-1662) op ‘n keer gesê het dat die meeste van die mens se probleme is omdat hy nie in staat is om stil in sy kamer te sit nie.

Pascal druk hier op die senuwee van die mensdom se huidige toestand van onvrede. Want hy het toe reeds raakgesien dat die meeste mense sukkel om hulle innerlike te besoek. En dit het ‘n uiterlike wêreld van chaos, onvrede en ‘n sinlose gejaag na wind meegebring.

Kyk maar rondom jou, lees die koerante en kyk na die daaglikse nuus en jy sal sien hoe ongelukkig, angstig en gespanne die moderne mens is. Wêreldwyd probeer regerings om politieke besluite te neem wat hopelik ekonomiese stabiliteit sal bring en sodoende vrede en harmonie binne hulle onderskeie lande bewerk. Nie dat dit nie belangrik is nie, maar dit is egter nie wat vrede en harmonie gaan verseker nie. Dit is iets wat eers binne elkeen moet gebeur. Ek sê weer, binne bepaal buite.

Pascal se raad van stil-word is dus meer relevant as wat meeste mense besef. Sy voorstel van tyd maak om fisieke aktiwiteite te staak en bewustelik innerlik stilte op te soek is meer nodig vandag as enige ander tyd in die geskiedenis van die mens.

Ek vermoed dit is wat die Oosterse leermeester Lao Tzu ook probeer sê het met: “To the mind that is still, the whole universe surrenders.” Want ‘n stil kern bring nie net innerlike helderheid nie, dit bring ook uiterlike fokus. Daarom sal uiterlike vrede en harmonie in omstandighede, verhoudings, gemeenskappe en wêreldgebeure, slegs sigbaar word wanneer daar innerlike vrede en harmonie binne is. Francois de La Rochefoucauld beskryf dit so: “If we have not peace within ourselves, it is in vain to seek it from outward sources.”

Dit is natuurlik eenvoudig om die werking van stil-word te verstaan. Stilte help jou om nie net kalmte te beleef nie, maar ook om weer kontak te maak met jou innerlike kern. Want in stilte kry jou innerlike kans om dit wat aandag nodig het uit te lig en te hanteer. En dit laat jou innerlike spanningsvlakke afneem, en daardeur verstil jou innerlike geraas. Dit bring ‘n afname in die onrustige gedagtestroom binne jou gemoed.

Die Christen-leermeester Thomas Keating beskryf hierdie proses as volg: “Our consciousness is like a great river on the surface of which our superficial thoughts and experiences are moving by like boats, debris, water skiers and other things.” Met hierdie vergelyking wys hy dat ons bewussyn soos ‘n rivier is. En soos ‘n rivier voortdurend vloei, vloei ook jou bewussyn heeltyd saam met die voortbeweging van tyd. Gedagtes en emosies is dan soos die skepe en ander voorwerpe wat verby vloei.

En omdat ons so gewoond geraak het om op hierdie verbygaande skepe te klim, het ons kontak verloor met die rivier self. Keating verduidelik dan verder dat om stil te word, is om nie te fokus op die skepe nie, maar eerder op die rivier self.

Wanneer ‘n mens nou jou gedagtes en emosies in die stiltetye laat verbyvloei, begin jy vir die eerste keer weer kontak maak met jou stil kern, jou rivier. Deur hierdie stilte kom daar nou ‘n groter eenheid tussen die verskillende lae van die innerlike. En soos die see wat vreemde voorwerpe mettertyd uitspoel, spoel jou innerlike dan ook skoon en bring dit genesing.

Dink net hoe ons wêreld sou gelyk het as meer mense die wysheid van die Amerikaanse inboorling (Sioux) en medisyneman, Black Elk ter harte geneem het: “There can never be peace between nations until there is first known that true peace which is within the souls of men.”

Vrede en harmonie in ons tyd, sal dus net ‘n moontlikheid wees as ons meer binne toe gaan en vrede maak met wat ons daar vind, eerder as om ons uiterlike vyande te beveg. Soos William Hazlitt dit dan ook raak sê: “Those who are at war with others are not at peace with themselves.”

Ek sluit af met ‘n gebedsvoorstel vir ‘n stil-word. ‘n Gebed wat die intensie binne homself dra om jou aandag na binne te rig. Sodat jy jou dag vanuit jou stil kern kan leef, en nie oorgelaat is aan eksterne kragte en gebeure nie:

In die stilte van hierdie oomblik haal ek diep en stadig asem.
Ek glimlag.
Ek is hier, ek het vrede en ek is gelukkig.
Niks wat vandag gebeur kan my vrede steel nie.
Die Stil Kern waaruit ek leef, is my ware tuiste.
Ek haal diep en stadig asem.
Ek glimlag.

Met hierdie gebed in jou hart, gaan nou jou dag tegemoet en leef as vredemaker.