‘n Mens se verhouding met God is nooit staties nie. Dit is ‘n voortdurende reis deur verskillende landskappe.

Geen deel van hierdie reis is beter of belangriker as ‘n ander deel nie. Om die waarheid te sê is elke tree van die reis ‘n unieke uitdaging vol gevare en avonture. En net wanneer jy braaf genoeg is om voort te bly reis ontdek jy verdere horisonne.

Ja, die reis is verseker vol kronkels, gevare en uitdagings. Seker daarom dat meeste reisigers eerder sal kamp opslaan wanneer hulle ‘n veilige plekkie vind as om voort te reis. Hulle probeer daardeur om dit wat bekend is in stand te hou.

Is dit nie maar net so met meeste mense as dit kom by hulle geloofsreis nie? Hulle klou eerder vas aan ‘n fase van hulle geloof (wat aan hulle bekend is) as om die onsekerheid van ‘n onbekende nuwe fase te betree. Natuurlik kan mens nooit op een statiese plek bly staan nie, daarvoor is die lewe te veranderlik. Uiteindelik sal jy moet voort reis, of jy wil of nie.

Want is dit nie maar so dat deur lyding, krisis en twyfel ‘n mens mettertyd gedwing word om ‘n volgende landskap van die reis te betree nie?

Menigmale begin die eerste deel van die reis op die kruin van ‘n berg. Want ná ‘n bekering of ‘n inkering aanvaar ‘n mens alles wat jy op daardie stadium van God dink. God se wil is vir jou duidelik en jou lewenspad so helder; helder soos die uitsig van ‘n berg se piek af.

En natuurlik wil meeste nuwe bekeerlinge hierdie oomblik van helderheid teen alle koste bewaar. Hulle wil altyd só opgewonde en ongekompliseerd voel. En wat doen hulle?

Hulle slaan dadelik kamp op en vinnig kom slaan ander sekeres ook hulle tente daar op. ‘n Groot tentedorp ontstaan en almal voel opgewonde en veilig. Want wie wil nou nie elke oggend opstaan met ‘n wonderlike uitsig oor die vallei daar ver ver onder nie?

Onwillekeurig laat dit my dink aan een van Andries Bezuidenhout van die Brixton Moord en Roof Orkes, se lirieke van lank gelede: “‘n Stad wat brand lyk van ver af mooi.”

Want sien, alhoewel die uitsig van die bergpiek af asemrowend mooi is, is dit nie realiteit nie. Dit is te ver en onbetrokke en dit verwyder die kyker van die werklikheid van die reis.

Om deel te wees van die reis, die avontuur, vra van jou om penne uit te trek en verder te stap. Jy kan nie bly nie, want dan stagneer jy, dan sterf jy.

Om van die bergpiek tot by die vallei daar onder te kom beteken ‘n steil, gevaarlike afdraande teen die kant van die berg. En dit wat aanvanklik vir jou so duidelik oor God was, voel nou net soos ‘n onwerklike droom.

Jy kan egter nie waag om te veel daaroor te dink nie, anders gly jy dalk op die los klippe. En net hier besluit baie reisigers dat die bergpiek tentedorp, alhoewel dalk onrealisties, maar tog veel veiliger is as die realiteit van die gevaarlike kranse.

En natuurlik roep die mense wat agtergebly het in die tentedorp, dan ook nog: “Glo soos voorheen, draai terug.”

Maar ongelukkig (of gelukkig) kan ‘n reisiger wat eers weer begin reis het, nie regtig weer omdraai nie. Seker daarom dat die leiers van die tentedorp soveel maatreëls instel om die twyfelaars se stemme stil te maak voor hulle te veel ander inwoners in versoeking lei.

Hierdie maatreëls is wel effektief om baie twyfelaars af te skrik. Want wie sien nou kans vir die alleenheid en isolasie. Daarom sal vele twyfelaars nie waag om oor hulle twyfel te praat nie. Die gevaar van misverstand, veroordeling en verwerping is net te groot.

En alhoewel die twyfel swaar in hulle harte lê, wys hulle dit glad nie en probeer terug konformeer tot die groep.

Maar dit kan en is nooit ‘n langtermyn oplossing nie. Want alhoewel die tentedorp dalk veilig is en die getalle het, bring dit nie regtig vervulling nie. Instinktief weet die inwoners die reis moet voortgaan.

Van die twyfelaars wat egter om een of ander rede nie teruggedraai het nie en heeltemal teen die rand af gegaan het, kom dan mettertyd onder in die vallei aan.

En alhoewel alles nie hier so duidelik is soos op die bergpiek nie, het die vallei waterstrome wat verfrissing bring en groot lang bome wat koelte en beskerming bied teen die warm son. Hier kan ‘n mens eerlik wees oor jou twyfel. Saam soek met medereisigers. Oop en sonder skuldgevoelens praat oor die reis.

In die vallei is daar ‘n vryheid van denke, ‘n bewussyn dat God nie inpas in menslike skemas en boksies nie. Die twyfelvrae word ook nie eensklaps beantwoord nie. Hier besef almal dat God is veel groter as wat enigiemand kan voorstel.

Alhoewel daar nog by tye verlang word na die bergpiek-sekerhede, is daar ook ‘n diep besef dat die reis gaan voort. Die gevaar van die vallei van vryheid is natuurlik dat reisigers ook nou hier wil kamp opslaan. So tipies mens!

En dat hulle dan in ‘n geveg wil gaan met die bergpiek mense en hulle wil oortuig dat dit veel beter hier is as daar. Selfs oorlog maak met hulle. Hoe is die vallei-reisigers dan anders as die bergpiek-bewoners?

Nee, die brawe ding om te doen is om voort te gaan met die reis. Ook die vallei net soos die bergpiek is net ‘n tydelike rusplek.

En ja, daar wag baie gevare en onbekende landskappe, maar meer as dit wag die avontuur. As jy eerlik en opreg bly stap, neem die reis jou op ‘n wonderlike ontdekkingstog. En as jy rondom jou kyk sal jy sien dat jou mede pelgrims al meer en meer word.

Die reis is nie so alleen soos jy vermoed het nie. Daar is al baie.

En die kompas op hierdie reis, is braafheid, eerlikheid en liefde. En die grootste hiervan natuurlik die liefde! Liefde vir die waarheid, liefde vir die reis en liefde vir medereisigers.

En net soos met romantiese liefde moet daar na ‘n dieper vorm van liefde gegroei word en kan dit nooit terugkeer na die eerste emosionele verliefdheid nie. Só kan ons spirituele reis nooit terug nie, dit moet eenvoudig vorentoe.

William Strunk: “A person who does not have the courage to doubt may not acquire the wisdom to believe.”