Wat het ‘n mens nodig om van een kant van ‘n baie breë rivier tot aan die ander kant te kom? ‘n Boot of indien jy dit dalk self moet bou, ‘n vlot natuurlik. En wanneer so ‘n mens wel suksesvol aan die oorkantste oewer aanland, wat doen hy of sy dan met die vlot?
Wel, die vlot se funksie is vervul die oomblik toe die persoon veilig die oorkantste oewer bereik het. Nie waar nie? Sodoende verval die nuttigheid van die vlot en is dit nie verder nodig nie, veral nie as die reis verder deur ‘n woestyn gaan nie.
Dit sou ‘n fout wees om die vlot te probeer saamdra in die woestyn in. Aangesien die vlot te swaar kan word en waar dit eens redding meegebring het, kan dit nou die teenoorgestelde bewerk.
Presies so is my verstaan van godsdiens. Godsdiens is ‘n vlot vir spiritualiteit. En dit was ‘n heel nuttige vlot tot op hede. Maar tye het verander, ons het nou die oorkantste oewer bereik. Die landskappe het indringend verander. Dink maar net hoe anders hierdie nuwe landskap se tempo van verandering is.
Daar word byvoorbeeld bereken dat die verandering en ontwikkeling wat ons tans jaarliks ervaar gelykstaande is aan die vorige vyftig jaar se totale veranderings. Dink maar net hoe die internet se ongelooflike netwerke, kommunikasie en kennis verspreiding moontlik maak. Iets wat nog ‘n paar jaar gelede net in teorie moontlik was. Ons is daarom nie meer verskillende gemeenskappe nie, nee ons is alreeds een groot wêreldgemeenskap.
Dit plaas natuurlik enorme druk op tradisionele godsdienstige beskouinge (huidige vlot) oor God en die lewe. Want in hierdie nuwe wêreld van kwantum fisika kan ons eenvoudig nie meer na die wêreld kyk deur die oë van ‘n bygelowige, drieverdieping wêreldbeeld van o.a. die Bybel en Koran nie.
Die vlot waarop spiritualiteit vervoer is, het nou oorbodig geraak. Dit moet agtergelaat word. Want waar dit eers ‘n wonderlike uitkoms gebied het, is godsdiens tans een van die mees destruktiewe kragte in die moderne wêreld. Want sien, dit het nooit gegaan oor die vlot nie, altyd oor die vrag – spiritualiteit.
Baie mense sien dit egter nie so nie en klou krampagtig vas aan die vlot (godsdiens). En dit bring vele probleme na vore. Diesulkes loop hulle al meer vas in ‘n nuwe realiteit wat nie meer strook met hulle persepsie daarvan nie.
Kyk maar net hoe meeste mense nog oor God nadink. ‘n Antieke Koning wat vêr bokant die wolke op sy troon sit (teïsme). ‘n Godsbeeld wat eenvoudig net nie meer sin maak en relevant is nie. Juis daarom is daar ‘n ingrypende verandering nodig by gelowiges as hulle oor God wil praat en dink.
Mense sal moet besef dat ons binne ‘n verweefdheid met alles om ons leef. Ons leef hier en nou. In ‘n wêreld waar alles met alles te doen het. Soos in die Boeddhisme al baie lank gesê word met woorde soos “interbeing” en “interconnectedness.”
‘n Nuwe tydperk waarin vele godsdienstiges van dogma sal moet wegstuur, en weer spiritualiteit omarm. En niemand – geen wysheidstradisie of geloofstradisie (vlot) – kan in vandag se tyd meer met vooropgestelde sekerhede leef nie.
Want dit maak nie saak hoe oortuig jy is van jou huidige waarheid nie, môre kom daar nuwe insigte na vore en dan is jou waarheid eenvoudig nie meer relevant nie. Dit het die wetenskap al oor en oor vir ons gewys.
Die uitdagings van die 21ste eeu, waarin ons reeds is, eis dus van ons, om met ‘n eerlike, oop, verantwoordbare en eietydse denke rakende God, godsdiens, politiek, samelewing, wetenskap, filosofie en vele ander te begin.
En hoe sal ‘n moontlike nuwe godsbeeld en spiritualiteit lyk? Hoe sal ‘n nuwe vlot of voertuig lyk?
Wel ons sal eerstens in ag moet neem wat die astronoom Carl Sagan gesê het: “The Universe is much bigger than our prophets said, grander, more subtle, more elegant. Shouldn’t God then be even greater than we dreamed?”
Ons sal in ons denke rondom God en lewe die blik op die kosmos, wat die astrofisika en die kwantumfisika vir ons geskep het moet ondersteun.
God sal bedink moet word vanuit alle godsdienstige openbarings. Hiervoor sal ‘n denksprong nodig wees, waarin die goddelike verstaan word as die Misterie wat groter is as enige enkele godsdiens of geloofstradisie.
Die nuwe God sal geslagloos of onsydig moet wees, sodat diskriminasie tussen geslagte en seksuele oriëntasie nie meer langer op grond van godsdiens geregverdig kan word nie.
Die nuwe godsbeeld sal die eenheid van alles, veral tussen mens en natuur moet onderskryf. Iets wat die wetenskap vir ons met evolusie kom wys het. Sowel as die feit dat ons en die res van die skepping uit dieselfde materie gemaak is. Ons is sterstof en tot sterstof sal ons terugkeer.
Ons weet vandag dat die kosmos nie afgehandelde skepping is nie, maar ‘n uitdeiende proses. Dat alles voortdurend verander. Sonne en sterrestelsels sterf en nuwes word gebore; alles wat saamgestel is, ontbind weer en word opnuut hersaamgestel in allerlei vorme. En al hierdie vorme is in essensie energie.
Daarom sal die onveranderlike God van die verlede, moet plek maak vir ‘n nuwe God. ‘n Skuif van Teïsme na Panenteïstiesme. ‘n God wat nie buite die kosmos staan nie, maar deel is van alles en ja, ook meer is.
In die vorige eeu, toe Darwin se evolusieleer en Einstein se konsep van relatiwiteit mense laat anders kyk het, het daarmee saam die moontlikheid van ‘n panenteïstiese God na vore gekom. Die Duitse filosoof Max Scheler het dit die eerste keer geopper. ‘n God wat self die materiële werklikheid is, maar terselfdertyd ook veel meer as die werklikheid.
Die kwantum fisika saam met die metafisikus David Bohm het vir ons nuwe wêrelde geopen hiermee. En so het die God van die verlede stadig begin verander in die veranderende God van die toekoms.
En met hierdie nuwe voertuig vir ons spiritualiteit, verskuif die focus na die lewe – hier en nou. Nie meer vêr, buite en eendag iewers nie. Dit sal natuurlik nuwe gelowiges verantwoordelik maak om die natuur en die ekologie as manifestasies van God se teenwoordigheid te sien, en hierdie teenwoordigheid is ook die krag agter die immer-veranderende kosmos.
So ‘n opvatting sal hopelik ‘n diep respek vir die lewe wakker maak, waarvan ons self deel is, omdat mens, plant, dier, aarde en selfs die heelal, onlosmaakbaar verweef is in ‘n ‘web van lewe’ (om Fritjof Capra se woorde te gebruik).
Die lewe hier en nou sal heilig word. Want orals waar mense bewustelik teenwoordig lewe, sal in die aangesig van die nuwe God wees.
“Ek glo in die Ewige van die ewig veranderende kosmos
wie se naam voortdurend verander
soos die soekers tydelik vind en noem.”
– Abel Pienaar
Recent Comments