“Advances are made by answering questions.
Discoveries are made by questioning answers.”
– Bernhard Haisch
As ek vir jou ‘n “sê nou maar” vraag kon vra, sou jy dit antwoord? Kom ons veronderstel vir ‘n oomblik jy sou instem.
Nou goed, hier is my vraag. “Wat sou jy kies; die waarheid of jou geloof?”
Jy sou natuurlik dadelik antwoord dat dit ‘n onmoontlike vraag is om te antwoord, want volgens jou is jou geloof en die waarheid een en dieselfde.
Ek sou weer vir jou noem dat dit ‘n “sê nou maar” vraag is. Dit beteken jy moet jouself indink in ‘n scenario waar die vraag wel geldig is. Dus, “sê nou maar daar is duidelike bewyse dat dit wat jy glo en dit wat waarheid is, verskil. Wat sou jy kies?”
Jy sou tien teen een weer beswaar aanteken, omdat jy so sterk voel dat dit wat jy glo, is die waarheid. En ek sal weer vir jou daarop wys dat dit net ‘n “sê nou maar” vraag is. Net vir ‘n oomblik moet jouself oopstel vir die moontlikheid van so ‘n keuse.
En kom ons sê jy stem finaal in. Ek gee jou ‘n paar minute tyd om oor die vraag na te dink. Dan as jy uiteindelik gereed is om te antwoord, so neem ek aan, sou jy net weer jou beswaar teen so ‘n onmoontlike vraag vir die rekord stel. En daarna jou antwoord: “Ek kies vir die waarheid!”
‘n Antwoord wat denkende en gematigde mense veronderstel is om te gee. Fundamentaliste in enige spesifieke godsdiens, sou per definisie nooit teen hulle geloofsoortuigings kies nie, ongeag waar of vals. Maar jy, jy is gelukkig oopkop en bereid om so ‘n onmoontlike vraag eerlik te probeer antwoord. En daarom behoort jou antwoord te wees: “Ek kies waarheid!”
En so ‘n antwoord, hoe moeilik ook al, sou beteken jy is vryer as wat jy gedink het. Want slegs die wat werklik vry is, kan dit waarmee hulle van kleinsaf gekondisioneer is, bevraagteken.
Die hartseer werklikheid is egter dat meeste mense nie vry is nie. Hulle is gevangenes van hulle geloof waarin hulle opgegroei het. En daarom effektief blind en doof vir enigiets anders. Daarom as Aldous Huxley sê: “One believes things because one has been conditioned to believe them,” slaan hy die spyker op die kop.
‘n Bewys hiervan is dat mense dadelik teen ander idees as waarmee hulle grootgeword het sal argumenteer, nog voor hulle eers die ander idees heeltemal aangehoor het. Dit wat George Santayana so raak stel met: “All living souls welcome only whatever they are ready to cope with; all else they ignore, or pronounce to be monstrous and wrong, or deny to be possible.”
Nou my volgende vraag. Hoe seker is jy dat wat jy vas glo as die waarheid, wel die waarheid is?
Het jy jouself al oopgestel vir die moontlikheid dat jou geloof jou blind kan maak en dalk selfs misleidend kan wees? En dat jy maar net doen soos William James dit beskryf, “… people think they are thinking when they are merely rearranging their prejudices.”
Dit wat jy glo is heel moontlik gebaseer op vals aannames met ‘n vervaldatum wat al lank terug reeds bereik is. En jou sogenaamde sekerhede en oortuigings is nie altyd jou eie nie, maar is aan jou oorgelewer deur ouers en kultuur waarin jy grootgeword het. Het jy al so daaroor nagedink?
En het jy al gewonder of dit wat jy vandag glo as universele waarheid, moontlik net een van vele verskillende waarhede kan wees? Dat essensieel dit net afhang van watter kant jy enige saak bekyk, en dat jou waarheid dalk net jou tydelike waarheid is? Vir iemand anders kan dit ‘n valsheid wees.
Hierdie vrae kan natuurlik niemand vir jou antwoord nie. Net jyself kan dit antwoord. En dit is wat Vryheid beteken.
‘n Vryheid wat jou ook by ‘n ander antwoord kan uitbring as byvoorbeeld, vir my. Dit wat die Franse filosoof Voltaire probeer sê het met sy bekende stelling: “I may not agree with what you have to say, but I’ll defend to the death your right to say it.”
Dit is waarna hierdie vryheid verwys. Hiermee saam vra hierdie vryheid van jou om braaf te wees, om bereid te wees om enige idee, gedagte, opinie, dogma of geloofsoortuiging krities te ondersoek, selfs te kan betwyfel of te weerlê.
Presies dit wat Bertrand Russell probeer sê het met: “What is wanted is not the will to believe, but the wish to find out, which is the exact opposite.”
So, waarvoor kies jy, om ongesteurd en gemaklik te bly glo wat jy glo of om braaf genoeg te wees om die onsekere wêreld van vrydenke te betree?
Ek wil afsluit met die volgende gepaste gedeelte uit die roman “Love and Relativity” van Rachael Wade. In die spesifieke gedeelte is die karakter genaamd Velma besig om raad te gee vir die hoofkarakter, Emma:
“Let me tell you something, honey. Fifty percent of life is others trying to push their own agenda on you – their belief system, their views, their convictions. The other fifty percent is you deciding whether or not you’re going to let them. Or if you’re going to form your own opinions.”
Recent Comments