Eens op ‘n tyd het daar ses blinde broers saam in ‘n huis op die buitewyke van ‘n klein dorpie gebly.

Een oggend het ‘n dorpenaar daar aangekom en vir die blinde broers gesê dat daardie middag ‘n mak olifant in die dorpie se plein sou wees.

Die broers het nie een geweet wat ‘n olifant is nie.

Hulle het toe saam besluit dat alhoewel hulle nie kan sien nie hulle tog sou wou uitvind wat ‘n olifant is.

Toe die dorpenaars hulle die middag kom haal was hulle baie opgewonde.

Daar aangekom het die dorpenaars hulle rondom die olifant laat staan en hulle aangemoedig om aan die dier te vat.

Die eerste broer het versigtig sy hand uitgesteek en stadig oor die growwe lyf van die olifant gevryf. “Aa, ‘n olifant is ‘n ongepleisterde muur,” het hy vir sy broers gesê.

Dadelik het die ander broers ook begin voel aan die olifant, “O, nee! Dit is ‘n tou,” het die tweede broer wat die stert vasgehou het gesê.

“Nonsens, die olifant is ‘n boomstomp,” sê die derde broer wat oor sy been vryf.

“Nooit! Dit is ‘n soliede pyp,” sê die vierde broer wat die tand van die olifant tussen sy twee hande vashou.

“Dit is verseker ‘n groot papierwaaier,” sê die vyfde broer wat aan die oor van die olifant vat.

Die sesde broer wat aan die slurp gevat het, het met ‘n angskreet weggespring en gegil, “Dis ‘n groot slang!”

Die broers het begin om te argumenteer en elkeen het daarop aangedring dat hy reg was.

‘n Wyse leermeester het daar verby gestap en gesien wat gebeur.

Hy het nader gestap en hulle stilgemaak en toe gevra: “Waaroor baklei julle so?”

Gelyk het al ses broers probeer antwoord en so begin hulle toe weer van vooraf baklei.

Die wyse leermeester het geduldig geluister en na ‘n ruk hulle weer stilgemaak. Hy verduidelik toe aan hulle, “Al ses van julle is reg, elkeen van julle verwoord maar net die deel waaraan julle gevoel het. En as julle bereid is om na mekaar te luister, sal julle kan agterkom wat ‘n olifant regtig is…”

Hierdie verhaal kom vanuit die vroeë Djainisme en Boeddhisme.

Die vertelling was gebruik deur leermeesters vanuit bogenoemde gelowe om aan hulle dissipels te verduidelik dat waarheid veelvlakkig is. En slegs wanneer iemand diep luister, verdraagsaam is en met respek ander benader, daar sinvol by die dieper betekenis van ‘n saak uitgekom kan word.

Maar die wat net vanuit hulle eie hoek, eie verstaan en oortuigings kan beredeneer en leef, is soos die ses blinde broers. Sulke blindes werk altyd met ‘n “óf-óf”-benadering. En dit is dwaasheid.

Wysheid aan die ander kant, is die vermoë om vanuit verskillende hoeke na ‘n saak te kyk. Amper soos om te kyk na ‘n groot diamant. Uit verskillende hoeke sien ‘n mens verskillende kleure.

Die lewe is maar nou eenvoudig so, geen “reg-of-verkeerd liniaal” kan die misterie van die lewe akkuraat meet nie. Daarvoor is die lewe eenvoudig te veelvlakkig en veelkleurig. Net ‘n benadering van “én-én” kan werklik iets van die groot Geheimenis verstaan.

En die grootste wysheid is om te kan sien dat ons leef in hierdie Geheimenis, maar ons weet dit nie. Ons word deur hierdie Geheimenis deurdring, maar ons besef dit nie. Ons word omring deur die Geheimenis, maar ons is blind daarvoor. Dit is asof ons almal siende blind is.

Presies waarna Jalaluddin Rumi (1207-1273) se woorde wys: “Jy dwaal van kamer tot kamer en soek die diamant-halssnoer – wat reeds om jou nek is!”

Daarom kan net die wat stil genoeg word – net die wat regtig kan stop en luister, werklik diep luister – iets van die Geheimenis begin raaksien.

Want om oop te wees en werklik na ander te luister verbreed nie net jou verstaan nie, dit verruim ook jou siel. Presies dit wat Sue Patton Thoele sê: “Deep listening is miraculous for both listener and speaker. When someone receives us with open-hearted, non-judging, intensely interested listening, our spirits expand.”

Seker daarom dat ons twee ore het en net een mond. Laat die wat ore het om te hoor, hoor.