Die mens is ‘n skeppende wese. Soveel so dat ook die idee van ‘n god of gode deur ons kreatiwiteit uitgedink en geskep is.
Die Griekse filosoof Protagoras het dit reeds in die vyfde eeu v.C. raakgesien, toe hy verklaar het dat God nie bepaal nie, maar die mens die een is wat die maatstaf vir alle dinge is.
Hierdie insig word antropomorfisme (verwysend na mensvormigheid) genoem. Dit beteken, god en gode is niks anders as ‘n bonatuurlike weerspieëling en projeksie van wat hier op aarde aangaan nie. En dat enige idees en verklarings oor god of gode, uiteindelik net denkbeelde, taal en menslike skeppings is.
In die sesde eeu v.C. het die digter-filosoof Xenophanes ook hierdie insig gehad, toe hy in een van sy gedigte geskryf het: “…maar as beeste of leeus hande sou hê om met hulle hande te skilder en kunswerke voort te bring soos mense doen, sou hulle die gode se gestaltes skilder en die gode se liggame maak volgens die patroon van hulle eie liggame.”
Dit impliseer dus dat godsdienste (diens aan God) maar ook net ‘n manier van menslike denke en idees is. Want kyk jy na enige gegewe tyd in die geskiedenis, en jy verstaan hoe mense in daardie tyd na hulle wêreld en die heelal gekyk het, sal jy ook sien hoe hulle hul god ooreenkomstig uitgebeeld het. Hierdie tydgebonde verstaan van mense word ook ‘n wêreldbeeld genoem.
‘n Wêreldbeeld is iets wat mens gemeenskaplik met ander mense deel. Dit is dus tyd-, plek- en veral kultuurgebonde. Dit kom neer op daardie prentjie oor die natuur, die heelal en God se plek daarin, wat van kleins af aan mense oorgedra is en waarvolgens hulle en hulle hele gemeenskap en kultuurgroep hulle wêreld gesien en beleef het.
Ons prentjie vandag verskil byvoorbeeld hemelsbreed van dié van mense van die antieke Bybelse tyd en van die mense in die Middeleeue. Daarom is dit tog logies dat ons sieninge en beskrywings van God anders sal wees as die van o.a. die Bybelskrywers s’n. Nie waar nie?
Dit is daarom so belangrik om te besef dat die prentjie wat ons in onsself ronddra van die wêreld en die prentjie wat ons het van God, interafhanklik van mekaar is, en heeltyd inspeel op mekaar.
Onlangs weer met die gebeure by die kerk buite Naboomspruit in Limpopo, waar die pastoor gemeentelede met ‘n insekdoder bespuit het, om sodoende “bose geeste” uit hulle te dryf, is ‘n voorbeeld van wat gebeur as mense geen insig het t.o.v. die wêreldbeeld wat in die Bybel gevind word, en die van ‘n Antieke Wêreldbeeld.
Hierdie wêreldbeeld is ‘n drie-verdieping wêreldbeeld. Die aarde was gesien as ‘n plat skyf wat op die chaotiese waters dryf, maar tog op pilare gevestig is. Onder die aarde is die waters waar die magte van die duisternis heers. Bokant die aarde is die plek waar die gode woon. Die woonplek van God is in die boonste verdieping en die onderste kelderverdieping is die plek van die bose.
Interessant is dat hierdie wêreldbeeld nie spesifiek Bybels is nie. Dit is die antieke wêreldbeeld wat heersend was en die prentjie voorsien het van waaruit die Bybelskrywers hulle weergawe van die werklikheid geskryf het. Vandag noem ons hierdie tipies antropomorfiese voorstelling van byvoorbeeld die Christelike God, teïsme. Hierin word God uitgebeeld soos ‘n tipiese koning wat in die Midde-Ooste in Bybelse tye geleef het. (Wat anders sou ‘n mens kon verwag van daardie tyd?)
Natuurlik is hy ‘n man, wat sit op ‘n troon. Sy onderdane moet voor hom kom kniel en hom smeek (“bid”) as hulle enigsins iets wil hê. En om hom in ‘n goeie bui te kry, moes daar lofliedere gesing word en geskenke (“offers”) vir hom gegee word. En natuurlik omdat hy so besig is, sit daar aan sy regterkant ‘n tweede in bevel (of “middelaar”) met wie daar eers onderhandel word, sodat daar toegang gekry kon word tot die koning.
Gelukkig leef ons in ‘n tyd waar ons, meer as enige ander tyd in die geskiedenis, met ‘n oorsig oor al die voorafgaande tye en wêreldbeelde kan kyk. Ons het nou die vermoë om uit ‘n verskeidenheid van idees en konsepte oor die wêreld te kies.
Die tyd waarin ons leef, alhoewel kompleks is tog ‘n wonderlik verligte tyd. Ons kan te danke aan al die ontdekkings en nuwe kennis, begin ontwikkel aan ‘n nuwe Integrale Wêreldbeeld. ‘n Wêreldbeeld wat uit verskillende oorde gevoed kan word: die nuwe fisika, nuwe ontwikkelinge in die teologie en filosofie, die proses-filosowe van die Oosterse, Afrika en Westerse wêreldbeelde, om maar net ‘n paar te noem.
Hiervolgens kan ons nou hemel en aarde sien as aspekte van dieselfde werklikheid. In Fritjof Capra se woorde ‘n “web of life” waarin alle lewe deel van mekaar is. En selfs die spirituele word as integrale deel van die totale werklikheid gesien, en nie as iets bonatuurlik nie.
En binne hierdie beskouing kan die antieke wêreldbeeld se taal wat gebruik gemaak het van begrippe soos “bo” om na die goddelike te verwys, en “onder” om na die plek van die bose te verwys, verstaan word vir wat dit is – metafories.
Daarom kan ons vandag met hierdie nuwe integrale wêreldbeeld, ou godsdienstige kategorieë herbedink en herformuleer. En kan ons met nuwe metafore ons werklikheid begin beskryf.
En dat in die prentjie van die nuwe Integrale Wêreldbeeld daar nie meer hiërargiese, van-bo-na-onder oor waarheid hoef te wees nie. Die klem kan verskuif, weg van ‘n altyd geldende geformuleerde waarheid, na voortdurende ontdekkende waarhede. Dit sal uiteindelik die kettings kan verbreek.
Kettings wat meeste van ons gevange gehou het aan konsepte wat van bo afgedwing was. Eie ervaringe en belewenisse kan nou weer sy regmatige plek inneem.
Eie ervarings waartydens iemand dalk in vlietende oomblikke iets goddeliks beleef, ‘n oomblik in tyd waar verby die menslike grense van selfbewustheid beweeg word en mens van die algehele eenheid van alles bewus word. Dit bly egter ‘n subjektiewe belewenis.
‘n Belewenis wat meestal onbeskryfbaar, nie definieerbaar in menslike taal en konsepte is. Miskien was dit presies die probleem wat Boeddha, Jesus, Rumi, Kahlil Gibran en vele ander soos hulle beleef het, toe hulle iets van hulle gewaarwordings wou verwoord. Want sien, dit was nooit bedoel om letterlik opgeneem te word nie. Dit was nooit bedoel om dogma te word nie. Presies wat die teoloog Paul Tillich (1886-1965) genoem het “The ground of all being” of wat die filosoof Martin Heidegger ‘Sein’, (“Being as the supreme reality”) genoem het.
Of dalk was Boeddha se manier, om nie oor God of die transendente te wou praat nie, maar tog die beste weg. Hy het gesê dit is sinloos om te probeer praat of filosofeer oor God. Daarom was sy fokus om eerder te besin oor hierdie lewe – hier en nou – en so te leef dat dit heilig word, selfs goddelik.
Dalk is dit waar God die duidelikste te vind is. In die lewe hier en nou. In jou omgee, uitreik en liefde. En so is die mens se skepping van ‘n god, uiteindelik ‘n skepping van lewensin. Maar dit bly altyd net ‘n tydelike verklaring. Want geen teologie of filosofie kan altyd geldende uitsprake t.o.v. God lewer nie. Nee, dit is op die meeste altyd spekulatief van aard. En dit is goed so, want sodoende bly ons skep en streef en leef
Recent Comments