Gereeld word ek gevra ‘Hoekom haat ek Christene so baie?’ En elke keer as ek vir die vraagstellers vra hoekom hulle dink ek haat spesifiek Christene, antwoord hulle dat my gereelde kritiek en twyfelvrae vele Christene laat struikel in hulle geloofslewens.
As ek dan daarop reageer deur te wys dat ek teenoor alle gelowe krities staan, word daar vir my gesê dat my kritiek op ander gelowe nie ‘n probleem is nie, want buiten die Christengeloof is daar tog nie enige ander ewig geldende waarheid nie.
Natuurlik voel elke godsdiens dat hulle die volle waarheid in pag het. En dat die ander gelowe vals is, ja, selfs ‘n bose misleiding is.
Dit is natuurlik presies hierdie tipe denke wat my elke keer net opnuut laat besef hoe arm, eng en geslote meeste mense in hulle lewensuitkyk is.
Dit is seker daarom dat ek so ‘n groot liefhebber van filosofie is. Want as daar nou een manier is om mense se koppe oop te breek, dan is dit om iemand bloot te stel aan die bevrydende krag van filosofie.
Wat is filosofie?
Wel, eenvoudig gestel kan filosofie gesien word as ‘n gesprek (wat in die weste sowel as in die ooste) plaasvind tussen vraag en antwoord en vraag en antwoord en vraag … Watter tipe vrae? Vrae wat gaan oor die hoekoms en waaroms van die lewe. Hoekom is ek hier? Waar kom ek vandaan? Wat is die doel van my lewe? Waarheen is ek op pad? “Wat is goed en wat is boos?” “Wie is God?” “Is daar ‘n God?” ens.
Die woord ‘filosofie’ kom uit die Grieks en beteken ‘liefde vir die wysheid’ oftewel die wysbegeerte. Seker daarom dat filosofie deur baie beskou word as die moeder van die wetenskap. Want is die liefde vir die waarheid nie maar uiteindelik die dryfveer in alle wetenskaplike dissiplines nie?
Een van die eerste filosowe was Thales van Milete wat ongeveer 600 voor Christus gelewe het. In sy tyd was meeste vrae beantwoord vanuit die dag se mites en legendes. En dikwels het die gode ‘n hoofrol in die verklarings van die dag gespeel. Byvoorbeeld, daar is droogte in die land, en die rede daarvoor is dat die gode kwaad is en nou die mense straf. So, indien hulle wil hê die droogte moet ophou, is dit eenvoudig; bely hulle sondes, bring offers aan die gode en siedaar, dit begin weer reën.
Hy was egter nie tevrede met hierdie bonatuurlike verklarings nie en het self begin antwoorde soek. En so word gebore, ‘n filosoof. ‘n Moderne filosoof, Will Durant het dit so omskryf: “Philosophy begins when one learns to doubt – particularly to doubt one’s cherished beliefs, one’s dogmas and one’s axioms.”
‘n Ander bekende Griekse filosoof was Sokrates. Hy was juis in sy tyd beskou as die slimste mens op aarde. En die rede daarvoor was omdat hy vir almal bly sê het dat hy eintlik niks weet nie. En daarom het hy gesê sal hy nooit kan ophou vrae vra nie. Aristoteles het hierop voortgebou met: “Om eerlik te wonder is die begin van filosofie.”
Om te wonder en vrae te vra is dus deel van die hartklop van filosofie. En juis hierdie benadering tot die lewe beteken dat daar geen heilige koeie kan of mag wees nie. Selfs gevestigde gelowe se heilige oortuigings is oop vir kritiek en bevraagtekening.
Dit beteken verseker nie dat wanneer ‘n geloofsisteem, idee of opinie bevraagteken word, dit vanuit haat gemotiveer moet wees nie. Die teendeel is veel nader aan die waarheid.
Daarom dat ek heelhartig saamstem met die Franse filosoof Andre Comte-Spongville. Alhoewel hy ‘n uitgesproke ateïs is, wonder en dink hy baie na oor spiritualiteit en godsdiens. Hoor hoe mooi stel hy dit: “My intention is not to convert people to atheism. It is merely to explain my position and the arguments in its favour, motivated more by the love of philosophy than by the hatred of religion. There are free spirits on both sides, and it is to them that my words are addressed. The others, whether believers or atheists, can be left to their certainties.”
Om vrae te vra, ongeag die sekerheid wat mense oor ‘n spesifieke saak het, is daarom volgens my die enigste manier om te groei en te ontwikkel. Toegegee, is dit nie altyd maklik om die regte vrae te vra nie.
Presies wat Naguib Mahfouz bedoel het met: “You can tell whether a man is clever by his answers. You can tell whether a man is wise by his questions.” Dit laat ‘n mens natuurlik wonder wat is die regte vrae? (En natuurlik om hierdie vraag te vra is jy reeds besig om die eerste ‘regte’ vraag te begin vra.)
“It is not the answer that enlightens, but the question,” sê Decouvertes. Want jou vrae rig jou gedagtes en daarmee die rigting waarin jy gaan soek vir die antwoorde. En in filosofie is dit seker die hoogste waarde om te kan wonder waar ander met sekerheid weet en om te te bly soek waar ander op hou soek het. Dit waarna Abraham Joshua Heschel verwys met: “Wonder, rather than doubt, is the root of knowledge.”
As filosoof maak dit my dus opgewonde as meer mense begin wonder en nadink oor ou gevestigde gelowe en bygelowe. En natuurlik het ek geen probleem daarmee as mense by ander antwoorde uitkom as ek nie. Dit is eintlik veronderstel om so te wees.
Dit is vir my wonderlik en inspirerend om te sien hoe verskillende mense vanuit verskillende hoeke oor dieselfde dinge kan redeneer en dialoog voer. En albei partye kan daaruit verryk en verlig word.
Want is dit nie maar so dat daar eintlik geen verkeerde antwoorde is nie – alles is net tydelike insigte, momentale oomblikke van sekerheid. En uiteindelik is niks ‘n mors van tyd nie, want is dit nie juis in die donkerste nag waar jy die helderste die sterre kan sien nie?
Die slegste ding in jou lewe kan jou grootste geskenk word. Jou grootste leermeester. Dit is wat in die hart van ‘n filosoof leef. Die konstante soeke na die les en die betekenis. Die soeke na die essensie van wat is.
En om uit jou foute en mislukkings te leer is tog die een ding wat jou ‘n wyse mens kan maak. Dit is die pad waarop die filosofie jou neem.
Dit is ook die hart van ‘n filosoof, die ewige soeke na die waarheid. Gedryf deur die liefde vir die waarheid. Ek vermoed dat ons ‘n beter kans het om ons en ander se wêreld te verbeter deur ons vrae en twyfel, as deur ons antwoorde en sekerhede.
En ja, selfs as dit kom by jou geloofslewe, gevul met soveel sekerhede, is dit nodig om te wonder. Want twyfelvrae en eerlike soeke is die suurstof vir enige sinvolle geloofsreis.
Natuurlik beteken twyfel en soeke nie dat alles ongeldig en as vals afgemaak word nie. Ek meen wanneer jy eerlik, krities en met respek omgaan met jou en ander se soeke kom jy dikwels agter dat waarheid ‘n wonderlike reisgenoot is.
Is dit nie maar so dat die oorsteek van enige kennis- of idee-grense, beteken nie noodwendig die vernietiging daarvan nie, dit beteken meestal net die verskuiwing daarvan. Daar sal altyd nuwe horisonne wees. Nie waar nie?
En ons weet maar te goed dat daar ook nooit ‘n tyd sal wees waar almal oor alles sal saamstem nie. Dit kan tog nie wees nie, daarvoor is daar net te veel verskille en uiteenlopende denke. En dit is ook goed so, dit is die inspirasie en dryfveer agter dialoog en oop gesprek.
George S. Patton, ‘n generaal in die Amerikaanse weermag tydens die Tweede Wêreldoorlog, sê in die verband dat: “If everyone is thinking alike, then somebody isn’t thinking.”
Daarom is dit so belangrik dat ons eerlik en soekend na ‘n eietydse interpretasie van ons werklikheid sal streef. En dit is verseker ook nodig om nuwe vrae te vra rondom ons geskepte prentjies van God, ongeag watter godsdienstige sekerhede jy aanhang.
Ek meen as mense eerlik oor God en die goddelike wil dink, sou die nuwe bevindings in die wetenskappe tog baie kon help. Dit sou gelowiges kon help om hulle verstaan van die goddelike uit te brei.
Daarom aan alle gelowiges en ongelowiges, wat my die eer aandoen om hier te lees, kom ons bly soek, bedink, bepraat en wonder. Oor alles en nog wat. Kom ons hou ons filosofiese harte aan die klop. Kom ons bly dink. Kom ons bly soek en vrae vra. Want staan daar nie geskrywe dat net die wat soek sal vind nie? Lillian Smith: “When you stop learning, stop listening, stop looking and asking questions, always new questions, then it is time to die.”
Recent Comments