Dit is vir my so hartseer om te sien hoe baie mense die Misterie van die lewe miskyk, en dit omdat hulle vooropgestelde idees en gelowe blindelings aanhang. Soveel mense dink eenvoudig net nooit verder as die kulturele en gekondisioneerde kennis waarbinne hulle grootgeword het nie. Dink ook nooit vir hulself nie en beleef daarom ook nooit iets nuuts en vars nie. En juis daarom sal meeste mense nooit in hulle leeftyd ware vryheid beleef nie.
Dit is letterlik asof mense blind is. En dit wat mense so verblind, is natuurlik die godsdienstige verstaan van hul realiteit en wêreld. Hoekom sê ek so? Wel, soos ons weet, is enige godsdienstige denke in essensie gewortel in ‘n spesifieke tyd-, kulturele, sosio-ekonomiese en politieke konstruksie. Dit beteken dat dit wat godsdienste verkondig aangaande die werklikheid altyd gegrond is in ‘n spesifieke verstaan, wat binne ‘n spesifieke tydperk in die geskiedenis sy oorsprong gehad het. En ongelukkig, in meeste gevalle, het daar geen groei of ontwikkeling plaasgevind nie.
Daarom sê die filosoof J. Krishnamurti: “Religious thought is never new; it is always old; can never be free, because it is tied to the past and therefore it can never see anything new.” Dus dra godsdienstige mense hul voorveronderstellings, bygelowe en beperkte verstaan die hede in. Sodoende word hulle baie keer blind en dom in hulle interpretasie van wat hulle beleef. Astronoom Carl Sagan verwoord dit met: “Anything believers don’t understand, they simply attribute to (their) God. God for you is where you sweep away all the mysteries of the world, all the challenges to our intelligence. You simply turn your mind off and say God did it.”
Ek, persoonlik, het geen probleem met mense wat wil glo daar bestaan ‘n (Teïstiese) God wat alles geskep het nie. My probleem ontstaan wanneer diegene die groter misterie ontken en ander verketter wat wel verder wil dink en soek. Gelukkig is daar baie voorbeelde van mense wat wel anders en buite die kultuur en godsdiens van hul tyd, gedink en geleef het.
Een so ‘n persoon was die bekende wetenskaplike Albert Einstein. Hy het op ‘n keer gesê: “I don’t try to imagine a personal God; it suffices to stand in awe at the structure of the world, insofar as it allows our inadequate senses to appreciate it.” Ek hou veral van sy ” … to stand in awe at the structure of the world …” Om na die lewe om jou te kyk, met sy wreedheid en skoonheid, en die dieper misterie raak te sien. Sonder om dit te wil beperk tot jou spesifieke Godsbegrip of beperkte wêreldbeeld.
Want kom ons wees eerlik met mekaar, al ons sogenaamde waarheid en kennis is tydelik en beperk. Soos ons meer ontdek en meer beleef, skuif meeste van ons sogenaamde onbeweeglike kennis grense. Kyk maar net hoe die nuwe fossielvonds, Homo naledi, nuwe kennis vir ons oopbreek.
Die Taoïstiese filosoof Chuang Tzu slaan die spyker op die kop as hy dus sê: “Most people cling to their own point of view, as though everything depended on it. Yet our opinions have no permanence; like autumn and winter, they gradually pass away.”
Die voorbeeld hiervan is juis daardie mense onder ons wat deur die geskiedenis na vore tree en ons bewussynsvlak ‘n trappie hoër lig. Mense wat self uit hul eie kennis grense gebreek het, meestal ten koste van hulself.
James Hutton, wat beskou word as die vader van geologie, is so ‘n voorbeeld. Geoloë het ons bewus gemaak van die komplekse en lang geskiedenis van die aarde. Hiermee saam, Charles Darwin (en Alfred Russel Wallace). Albei het ons bewus gemaak van die lang en ingewikkelde geskiedenis agter alles wat tans lewe: Evolusie. En wat my nog meer aangryp van byvoorbeeld iemand soos Darwin, is dat hy nooit sy aanvoeling vir die groter misterie verloor het nie. “The mystery of the beginning of all things are insoluble by us; and I for one remain an agnostic.”
Nog ‘n voorbeeld van mense wat ons help om ons bewussynsvlak te lig, is o.a. filosowe, veral die vanuit Die Verligting – soos Baruch Spinoza, Voltaire en Immanuel Kant. Kant beskryf hierdie tyd as: “Enlightenment; it is simply the freedom to use one’s own intelligence.” Hulle het ons gehelp om vry te dink. Net soos die vader van die filosofie, Sokrates ons ook geleer het: “I cannot teach anybody anything; I can only make them think.”
En wat van die twee Britte, William Wilberforce en Thomas Clarkson, wat met vele teenkanting in 1823 ‘n standpunt teen slawerny ingeneem het. Of wat van feministe wat die samelewing bewus maak van die “slawerny van vroue,” die onderdrukking van vroue en daarmee saam die reg op gelyke behandeling.
So sou ek heeldag kon aangaan. Maar kom ek stop hier, ek dink ek het my punt gemaak.
Ek vermoed dat indien daar ‘n God sou wees, daardie God oneindig kompleks sou wees. Iets bokant ons verstaan en begripsvermoë. Dit beteken dus dat indien ek na God verwys ek in der waarheid na die groot Misterie verwys; te diep, wyd, anders, ver (en naby) om te begryp.
Ek verwys met Misterie dus glad nie na ‘n Persoon (“God”, “Jahweh”, “Allah” …) of Substansie (“Brahman”, “Gees”, “Ding an sich” …) – ek verwys eerder na ‘n onoorskrybare, onbereikbare horison, anderkant alle begrips- en gevoelsmatige ervarings.
Die naaste ekwivalente aan Misterie soos ek dit hier bedoel, sou die Taoïstiese begrip hsü (leegheid) en die Boeddhistiese begrip suññat/snyat (leegheid/niks) wees. Die werklikheid wat verskyn en verdwyn: uit die Misterie verskyn alle dinge; alle dinge is deurtrek daarvan; en alle bestaande dinge verdwyn daarin.
Die implikasie hiervan is dat die lewe self die sleutel word na die Misterie. Om wakker te word vir wat is, eerder as om te ontvlug in ‘n bonatuurlike verstaan van die werklikheid.
Dit bring my by Boeddha, wat geen tyd aan abstrakte formulerings rondom ‘n persoonlike God toegelaat het nie, maar eerder wou weet hoe leef ‘n mens in hierdie oomblik goddelik. En by die siening wat die Taoïste al eeue gelede gehad het: “The ultimate was not a personalised god, therefore, but a transcendent mystery that could never be plumbed.”
Wanneer enige denksisteem hierdie Misterie probeer oplos of selfs ontken, deur maklike en uitgewerkte konsepte en antwoorde, word dit uiteindelik die mens se grootste vyand. Ongelukkig val meeste georganiseerde godsdienste in hierdie kategorie.
Daarom dat die filosoof Julian Baggini meen: “Religion encourages us to seek rewards in the illusory next world rather than in this one and therefore robs people of the motive to make the most of the only life they have.”
Ek wil afsluit met die woorde van Hamlet aan Horatio, in William Shakespeare se Hamlet: “There are more things in heaven and earth, Horatio, than are dreamt of in your philosophy.” Ek wil hierby aanheg “…or in your religion.” Leef elke tree, bewustelik, eerlik, met deernis en wakker.
Recent Comments