Dit is interessant dat wanneer ons kyk na die vroeë Christendom (voor Nicea) sien ons dat daar Christene was wat nie die verhale van Jesus as historiese feite gelees het nie, maar eerder as mitologie, as woorde en verhale met simboliese waarde.

Gnostiese Christene. Omdat hulle weergawe verskil het van die siening van die Ortodokse Christene in hulle tyd en selfs ook teenstrydig was met die stellings wat keiser Konstantyn by die kerkvergadering van Nicea gelegitimeer het, is hulle nie net vervolg nie, maar ook stilgemaak, doodgemaak en hulle geskrifte vernietig.

Dit is baie jammer want so het ons die insigte van ‘n diep spirituele groep mense verloor. Gelukkig is daar intussen wel geskrifte ontdek wat wonder bo wonder behoue gebly het. Dink maar aan die Dooie See rolle en die Nag Hammadi geskrifte wat in die Egiptiese woestyn ontdek is.

Daaruit het ons wonderlike inligting gekry van hoe anders die Gnostiese Christene na Jesus gekyk het. Iets wat ons vandag kan help om ook in ons spirituele verstaan rondom hom te groei. Om dus na die Christelike tradisie te kan kyk sonder om sy huidige dogma en lae en lae bonatuurlike bygelowe wat daarmee saamkom, te hoef aanvaar.

Prof. Elaine Pagels, ‘n wêreldkenner rakende die vroeë Gnostici, verduidelik juis dat hulle toe reeds al geglo het dat elke mens ‘n eerstehandse gnosis (kennis) van die goddelike kan hê. En dat mense sonder tradisies en sekere kerklike dogmas ook by die goddelike kon uitkom. Sy verduidelik verder dat hulle geglo het elke mens reeds die “Gees van God” binne hulle saamdra. En dus kan elkeen gesagvol getuig oor sy eie ervarings met die goddelike binne hulle self.

Volgens Prof. Pagels was die vraag, wie teenwoordig het spirituele outoriteit, in enige huidige tyd? In haar boek The Gnostic Gospels vertel sy dat Valentinus (‘n Gnostikus van daardie tyd) en sy volgelinge geantwoord het: “Whoever comes into direct, personal contact with the “living One.” They argued that only one’s own experience offers the ultimate criterion of truth, taking precedence over all secondhand testimony and all traditions – even gnostic tradition! They celebrated every form of creative invention as evidence that a person has become spiritually alive.”

Met ander woorde, Gnostiese Christene in die eerste en tweede eeu het geglo dat elke mens die goddelike kan beleef, sonder die noodwendige begeleiding van priesters, biskoppe en enige sogenaamde kerk. Deur binne jouself te soek sou jy die goddelike binne jouself ontdek, maar wanneer jy buite jouself sou soek, by ander se leringe en waarhede, sou jy in ‘n doolhof van menslike denke en bygelowe verval.

So ook sê Tau Malachi in sy boek Gnosis of the Cosmic Christ: “The religious person is, as yet, an outsider to the experience worshipped, while the mystic is an insider of the experience worshipped. This well defines the term Gnostic, which means one who knows through direct experience or one who is a knower.”

Sodoende word jou direkte belewenis van die goddelike uiteindelik jou rigtingwyser en daarmee ook ‘n lig in die donker vir ander wat soek. Presies waarna Boeddha 400 jaar voor dit verwys het met sy sterwenswoorde: “Vind jou eie waarheid en sodoende, help ander om dit ook te vind.”

Dit het natuurlik die ortodoksie baie kwaad gemaak, want hulle het geglo slegs die dissipels wat direkte kontak met Jesus van Nasaret gehad het, kon enige waar uitsprake maak. Hierteenoor het die Gnostici geglo enigiemand kan direk kommunikeer met die ‘Lewende Een.’ En oor Jesus van Nasaret het die Gnostici verskeie sienings gehad.

Een van die sienings was dat Jesus verseker ‘n wonderlike voorbeeld was. Maar dat hy nie liggaamlik uit die dood opgestaan het nie. Dit was nooit bedoel as historiese waarheid nie maar eerder bedoel as ‘n metafoor en simbool.

Die metafoor en simbool van sy opstanding was vir hulle: Jesus sal soos enige ander mens bly voortleef solank die persoon onthou en geëer word. Dus wanneer iemand Jesus onthou, sy woorde en lewe onthou en dit ‘n werklikheid in sy eie lewe maak, dan “leef” die opgestaande Christus. Hierdie opgestaande Christus is ‘n geestelike belewenis wat ‘n realiteit in jou lewe word.

Daarom sal die Gnostici sê Paulus is ‘n Gnostikus want sy belewenisse van die Christus was deur drome en visioene. Prof. Pagels sê dan ook:

“The resurrection, they insisted, was not a unique event in the past: instead, it symbolised how Christ’s presence could be experienced in the present. What mattered was not literal seeing, but spiritual vision…. The disciples themselves often misunderstood what Jesus said: those who announced that their dead master had come back physically to life mistook a spiritual truth for an actual event. But the true disciple may never have seen the earthly Jesus, having been born at the wrong time, as Paul said of himself. Yet this physical disability may become a spiritual advantage: such persons, like Paul, may encounter Christ first on the level of inner experience.”

Dit is ongelukkig so anders as die moderne mens wat vasgenael sit en kyk na die vinger (Jesus) sonder om ooit die maan (Waarheid) raak te sien. Sekerlik daarom dat die Zen mistikus, Basho Matsuo gesê het: “Do not seek to follow in the footsteps of your teachers and the wise; seek what they sought.”

Die vraag is dus, waarna het Jesus se woorde, lering en sy lewe gewys? As jy dit kan verstaan sal jy ook daarna streef. Sal dit ook jou lewe, soos syne, in die rigting van waarheid stuur. Sal jy nes hy, en ook vele voor hom, die pad van wysheid begin bewandel. Mag die opgestane Christus, binne jou, ‘n lig op jou weg wees. En mag hierdie lig jouself verlig, sodat jy ook vir ander ‘n lig kan wees