Dit is tussen ons ore waar al ons idees en teorieë rakende die lewe en die betekenis daarvan gebeur. Ons menslike brein wat ons liggaam en rede beheer.

En dit is danksy jou brein dat jy kan hoor, praat, lees en skryf. Met jou brein onthou en leer jy. Met jou brein beleef jy emosies. En met veral die voorste deel van jou brein reflekteer jy oor jou dade, die verlede en die toekoms – al hierdie funksies word in die vorm van elektriese strome in die brein oorgedra.

En dit is met jou brein dat jy iets soos godsdienste, filosofieë, ‘n wêreldbeeld en selfs ‘n God bedink en skep. En soos meeste van ons weet is ‘n wêreldbeeld ‘n beeld of prentjie wat jy skep van hoe jy dink die wêreld om jou funksioneer en in mekaar pas. En natuurlik hoe jy daar binne in pas.

Hierdie wêreldbeeld is die prentjie van die wêreld waarin jy jouself as subjek en die wêreld teenoor jou (as objek) verstaan. Jy is natuurlik die middelpunt – die hoofrol speler – in die drama wat jy jou lewe noem. Jy is die interpreteerder van alles.

Presies wat Epictetus soveel eeue terug al gesê het: “‘n Mens word nie ontstel deur die dinge wat met jou gebeur nie, maar deur jou interpretasie van die dinge wat met jou gebeur.”

Net so sou ek sê is die idee van ‘n God, lyk dit my, ‘n ontwikkeling van interpretasies en stories deur die mens bedink en herbedink. God is dus net so deel van evolusie as die mens self.

Met evolusie verwys ek natuurlik na die proses wat sedert die “Big Bang” lewe laat voortrol het vanuit primitiewe organismes soos mikrobes tot nuwe spesies.

Die woord “evolusie” kom vanaf die Latynse woord evolvere wat beteken ‘om uit te rol.’ Hierdie lang lyn van ‘uitrol’ staan ook bekend as evolusionêre kontinuïteit. En die evolusieteorie is vandag nog die standaard paradigma in alle biologiese wetenskappe wêreldwyd.

Charles Darwin (1809-1882) het die moderne evolusieteorie verwoord in sy boeke On the Origin of Species (1859) en The Descent of Man (1871). Maar die idee van evolusie gaan egter veel verder terug.

Die Griekse filosoof Anaximander (611-547 vC) het die basiese gedagte dat een spesie uit ‘n ander “uitrol” reeds eeue terug geformuleer.

Anaximander leer dat lewe in die see ontstaan het vanweë sonlig se interaksie met water. Hy het natuurlik nog nie die begrip energie geken nie en praat dus van sonlig. Basies het hy gesê dat primitiewe eenvoudige lewe ontstaan in water, ontwikkel tot visse, visse migreer land toe en ontwikkel so tot plante en diere en uiteindelik volg die mens.

Darwin se oorspronklikheid is dus nie geleë in die idee van evolusie nie, maar eerder in die ontwikkel daarvan. Omdat Darwin gewerk het met die wetenskaplike verstaan dat elke selfde oorsaak altyd dieselfde wetmatige gevolg het, bewys hy daarom evolusie tot ‘n kousale teorie.

Fundamentaliste binne meeste gelowe, veral die Christendom, Islam en Judaïsme verwerp egter nog steeds evolusie en meen dat die skeppingsverhale soos in hulle heilige geskrifte aangeteken staan die werklike weergawe is van die ontstaan van alles.

Meer gematigde gelowiges sal darem sê evolusie het ‘n goddelike ontwerper agter dit. Met ander woorde, “Big Daddy” laat die “Big bang” en evolusie plaasvind. Ek praat natuurlik van die debat tussen “intelligent design” en “natural selection.” Veral Christen fundamentaliste verwerp die gedagte dat ons deel is van natuurlike seleksie. Dit bots met hul verstaan van die twee skeppingsverhale in Genesis. Volgens hulle verstaan, is die mens die kroon van God se skepping en is hulle geskep na die beeld van God.

Dit is natuurlik interessant dat die “Big Bang” ongeveer dertien biljoen jaar terug gedateer word en die “Big Daddy” (idee van ‘n skepper God) net so ‘n paar duisend jaar terug.

Die Duitse antropoloog en Rooms-Katolieke priester Wilhelm Schmidt (1868-1954) het in sy twaalf-volume werk The Origin of the idea of God die volgende geskrywe oor die ontstaans-idee van ‘n God. “At the dawn of humankind, man fashioned a benevolent creator god – often referred to as the sky god, since he was thought to reside above the Earth…” Hy gaan verder om te verduidelik dat die mens magteloos gevoel het teenoor die natuur en sy omgewing en het sodoende iets nodig gehad om te aanbid en op te vertrou. Hiermee kon daar ‘n greep verkry word op gebeure.

Die vader van psigoanalise, Sigmund Freud het weer op sý beurt gesê dat die mens God geskep het die oomblik toe hy bewus geword het van die realiteit van sy eie dood en einde. ‘n God en lewe na die dood het dus verligting en weereens beheer teruggegee aan die mens.

Dit het natuurlik alles saamgehang met die mense se vermoë om idees met mekaar te kon uitruil en te kommunikeer. Een van die groot verskille tussen die mens en diere: ons taalvermoë. Ons kan konseptualiseer. Maar konsepte en taal moes aangeleer word. As ons dit nie geleer het nie, sou ons dit nie geken het nie.

As illustrasie, dink maar net watter gedagtes en beelde die woord “God” by jou oproep. En onthou dat hierdie gedagtes en beelde oorgedra is van geslag tot geslag. Jy’t dit dus aangeleer.

Om oor God te dink is die uitvloeisel van die vermoë om abstrak te dink, iets wat beslag gekry het toe ons evolusionêre voorvaders begin het om gereedskap van klip te maak. Dit het ons gehelp om kreatief te begin dink en so daardie deel van ons brein help ontwikkel. En is dit nie uiteindelik met jou brein waar jy glo aan ‘n God of nie glo aan ‘n God nie?

Die Johannes-evangelie, in die Bybel begin met die bekende woorde, “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.”

As ons saamstem dat evolusie meer en meer tussen ons ore plaasvind, sal ons dalk Johannes 1 kan verander na: “In die begin was die menslike brein, en die brein het God bedink, en die menslike brein was self God.” En daarmee bedoel ons dan dat ons die een is wat skep en herskep. Ons kan die lewe vir ons en die rondom ons sinvoller maak. Beter maak. Ons kan daarom kies om eerder vanuit liefde en vrede te leef as vanuit die oer dryfveer van vrees. Miskien kan ons verby godsdiens, oordeel, reg of verkeerd beweeg en in ‘n nuwe vryer spesie evolueer. ‘n Spesie wat met meer verantwoordelikheid en deernis leef.