Daar was eendag vir ‘n bekende beeldhouer gevra hoe kry hy dit reg om sulke meesterstukke uit harde en vormlose marmerblokke te skep.
Ek kan nie onthou wie die beeldhouer was nie, dit kon Michelangelo gewees het of Leonardo da Vinci of selfs die Italiaanse beeldhouer Andrea del Verrocchio. Wie kan seker sê, maar oorlewering het dit dat die beeldhouer geantwoord het dat hy elke blok marmer benader met die ingesteldheid dat hy die engel in die marmer wil bevry. En hy doen dit deur eenvoudig alles wat nie die engel is nie, weg te kap.
Is dit nie presies wat ons spirituele reis is nie – om alles wat nie die ware self is nie, weg te kap, en so die ware self te bevry.
Maar soos die beeldhouer hierbo vertel, word die engel net bevry as dit wat nie die engel is nie, weggekap word. En dit is glad nie ‘n aangename ervaring nie, dit is pynvol en meestal traumaties.
Daarom dat ons iemand nodig het om ons te begelei, noem dit ‘n gids, mentor, leermeester of Ghoeroe. Maak nie regtig saak wat ons hom of haar noem nie, maar op ons eie verloor ons eenvoudig te maklik perspektief en verdwaal dan binne ons emosies en vrese.
En meestal is so ‘n leermeester ook die einste beeldhouer, met sy of haar skerp beitel. Een wat vaardig en ervare is. Iemand wat die engel binne die marmerblok kan raaksien wanneer niemand anders kan nie.
Iemand wat verby jou kunsmatige, aangeplakte en misleidende ego maskers kan kyk. Iemand wat met laserstraal akkuraatheid die valsheid kan raaksien en jou kan help om dit ook raak te sien.
Maar meeste van ons is nie reg vir so ‘n leermeester nie. En daarom is dit eers nodig dat die groot leermeester, die lewe self, aan ons beitel en kap. Totdat die pyn so ondraaglik word dat ons nie anders kan nie as om gereed te wees vir die volgende stap in ons spirituele reis.
In Zen som hulle hierdie waarheid so op, “When the student is ready, the teacher will appear.”
Ek onthou so goed, die dag toe ek na ‘n lang meditasie sessie, baie trots by die Zen leermeester my nuwe insigte gaan verklaar het. Hy het geduldig na my geluister en sonder enige emosie vir my gesê: “I see, it’s nice that you experience that … now remember to return to your breathing.” En daarmee het hy my ego (spirituele hoogmoed) met ‘n vaardige hamerhou stukkend gekap en ek is bevry en kon verder groei.
Dit is die rol van ‘n goeie leermeester. Want sonder so ‘n hulp verval mens maklik binne ‘n eindelose misleidende sirkel binne-gesprek.
‘n Goeie leermeester is dus een wat jou kan help om jou eie waarheid te herontdek. Hierteenoor is ‘n slegte leermeester een wat sy of haar eie ego-waarheid, vrese en sekerhede aan jou probeer verkoop en opdring. Wat jou probeer oortuig hulle is die engel, eerder as om jou bewus te maak, jy is die engel.
En een so ‘n slegte leermeester kan meer skade aanrig as ‘n honderd booswigte saam. Want op jou innerlike reis na selfontdekking, kan dit baie verblindend wees as jy inkoop op die sekerhede van ‘n ander. Ongelukkig presies wat godsdienste met hulle sogenaamde waarhede vandag nog doen.
Daarom is dit so belangrik om te onthou dat wanneer enigiemand op jou pad kom met beloftes van sekerheid en klinkklaar antwoorde, gaan jy essensieel jou ontdekking van jou ware self skade aandoen.
Seker daarom dat die negende eeuse Boeddhistiese meester Lin Chi vir sy volgelinge gesê het: “If you meet the Buddha on the road, kill him.”
Daarmee het hy verwys na die gevaar van valse leermeesters wat jou op hulle laat inkoop, as jou verlossing, eerder as om die antwoord binne jou te soek. Dus, iemand wat vir jou sê Boeddha is buite jou, mislei jou, jy moet Boeddha binne jou ontdek. Meer nog, jy moet ontdek, jy is Boeddha (die verligte een).
Daarom is ‘n wyse leermeester daardie persoon wat jou kan help om weer te onthou. Wat jou wakker maak vir dit wat reeds teenwoordig is binne jou.
My Zen leermeester, Thich Nhat Hanh se laaste woorde aan my was: “Abel you are already what you want to become!” Toe kon ek dit nie verstaan nie, maar vandag weet ek dat hy daardeur my wou herinner aan my ware self.
“A true teacher does not have anything to teach in the conventional sense of the word, does not have anything to give or add to you, such as new information, beliefs, or rules of conduct. The only function of such a teacher is to help you remove that which separates you from the truth of who you already are and what you already know in the depth of your being. The spiritual teacher is there to uncover and reveal to you that dimension of inner depth that is also peace.” So beskryf Eckhart Tolle dit.
‘n Goeie leermeester kan daarom enigiemand of enigiets wees. Want enige iemand of iets kan in ‘n oomblik jou help om verby jou eie selfbedrog te sien.
Juis dit maak dit so belangrik om altyd oop en bewustelik te leef. Want jy weet nooit wanneer ‘n situasie, persoon of gebeure jou iets van jouself kan onthul, waarvoor jy dalk blind is.
Hierdie ontdekkingsreis na jouself is ‘n baie persoonlike reis. Maar nie noodwendig in isolasie nie. Nee ons is ‘interconnected’ en bestaan in relasie met mekaar.
Sonder hierdie rigtingwysers op jou lewenspad, kan die afgesonderde ‘ek’ maklik verval in ‘n doellose sirkelgesprek. Ons het nodig om onsself te vind te midde van ons wêreld.
Dit blyk dus duidelik dat wanneer ons eerlik, teenwoordig en egoloos wil lewe, is die beste plek om te begin by onsself, in die hier en nou.
Die Tao Te Ching, vers 48 (my vertaling) omskryf dit raak met:
In die soeke na kennis,
Word daar elke dag iets bygevoeg.
In die soeke na die Tao,
Word daar elke dag iets weggeneem.
Dit is waarlik binne ons elke dag lewe, met die mense daarin, waar die helderste spieël vir ons opgehou word. ‘n Spieël wat onsself vir onsself kan onthul. Wat die valsheid kan ontbloot – dit wat nie die engel is nie, kan wegneem of wegkap.
Want jy het veel meer wysheid as wat jy ooit vermoed het. Jy is veel meer is as wat jy vertel is.
Daarom, sê ja vir die lewe, sê ja vir die ontdekkingstog, sê ja vir die leermeesters en die beitelhoue. En jy sal bevry word. Dan sal jy jou vlerke kan sprei en vlieg.
Gaan nou met ‘n verwagting, oop oë en ‘n groot hart elke dag tegemoet, liewe Engel.
Recent Comments