Vier vriende besluit om vir ‘n naweek lank op ‘n stil retreat te gaan. Tydens hierdie naweek mag daar geen woorde geuiter word nie, so besluit hulle.

Die rede hiervoor was omdat elkeen van hulle voor ‘n kruispad in hulle persoonlike lewens gestaan het. En na vele raadgewers, familie en vriende se opinies, was hulle nog nie veel nader aan ‘n antwoord nie.

En toe die oudste onder hulle eendag voorstel dat ‘n wegbreek in stilte dalk net die antwoorde kan bring, het hulle soos een man saamgestem.

So kom dit toe dat die vier vriende op ‘n wildplaas in die hartjie van die Waterberge hulleself inrig vir ‘n naweek van stilte en meditasie.

Teen die aand van die eerste dag, terwyl hulle in ‘n sirkel rondom ‘n kers sit en mediteer, begin die kers se vlammetjie flikker. En na ‘n paar sekondes is dit pikdonker.

Uit die donkerte kom die eerste vriend se stem, “Ag nee! Die wind het die kers uitgedoof!”

Waarop die tweede vriend vinnig reageer met, “Ons is veronderstel om nie te praat nie!”

“Bly stil julle twee! Nou mors julle die hele naweek op…” sê die derde vriend baie geïrriteerd.

Toe het die vierde vriend triomfantlik uitgeroep, “Ha! Ek is die enigste een wat nie gepraat het nie!”

***

Hierdie is ‘n tipiese voorbeeld van hoe mense verskillend op die lewe reageer.

Een reaksie is om so in te koop op die omstandighede, dat enige klein dingetjie jou vrede kan steel.

‘n Tweede reaksie is om so ingestel te wees op ander mense se optredes en reaksies, dat dit jou eie gemoedstoestand beïnvloed en rig.

‘n Derde reaksie is om ongekontroleerd vanuit jou emosie te leef. Soveel so, dat jy deur jou emosies saamgesleep word, selfs teen jou wil.

En die vierde reaksie is om vanuit jou ego te reageer. Alles is ‘n kompetisie; in alles is daar ‘n wenner of ‘n verloorder.

Al vier hierdie reaksies het natuurlik alles te doen met dit wat binne ‘n mens aangaan, eerder as wat dit iets te doen het met wat om jou of buite jou gebeur.

En met ‘binne’ bedoel ek, dit wat tussen jou ore gebeur. Daar waar jy jou belewenisse vertolk en interpreteer.

Die einste verstaan wat ons vind in die woorde van die Spreuke (4 vers 23) se skrywer: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Hierdie woorde omskryf ook presies wat Zen hiervan sê.

In hierdie gedeelte verstaan ons tog dat wat met “hart” bedoel word eintlik eerder kop is. Anders gestel: wees versigtig met wat in jou kop aangaan, want dit bepaal jou hele lewe.

En hierby sluit Boeddha aan: “The mind is everything. What you think, you become.”

Wat vir jou dus werklikheid is, is eerder hoe jy gebeure interpreteer as wat dit noodwendig is wat in die realiteit voor jou ontvou.

Daarom dat iemand soos Steven Covey ons gewaarsku het om bewus te word van wat in ons koppe aangaan, “We must look at the lens through which we see the world, as well as at the world we see, and that the lens itself shapes how we interpret the world.”

Ek dink regtig nie dit sou ‘n oorskatting wees om te sê, dat 99% van wat ons daagliks beleef so deur die filters in ons koppe skeef getrek word, dat ons byna nooit realiteit beleef nie.

Ons beleef eintlik net ons stories in ons koppe, oor en oor. ‘n Storie gevul met skuldgevoelens en vrese. En dit maak ons natuurlik blind vir wat is. En wanneer ons dan wel reageer, is ons reaksie heeltemal uit pas uit met wat is.

Want ons reaksies is gebaseer op iets in ons kop, en in ons kop werk ons met verlede tyd en herinneringe. En hierdie herinneringe word ons lens waardeur ons na dit wat met ons gebeur of voor ons afspeel kyk.

Dit is dus belangrik om te let daarop dat wanneer ons reageer dit gebaseer is op iets wat gebeur hét, hetsy ‘n minuut, ‘n jaar of ‘n dekade gelede. In werklikheid het meeste van ons emosies en reaksies niks te doen met nóú nie.

Les 8 in A Course in Miracles, leer juis dit: “My mind is preoccupied with past thoughts. This idea is, of course, the reason why I only see the past. No one really sees anything. We see only our thoughts.”

Dink so daaraan, twee mense kan in presies dieselfde omstandighede wees, en een sal ‘n belewenis hê van wanhoop en ‘n ander ‘n positiewe belewenis. Hoe kan dit moontlik wees?

Want ons sien nie dinge soos dit is nie, ons sien onsself. Presies wat Anaïs Nin ook gesê het met: “We don’t see things as they are, we see them as we are.”

Is dit nie ook omdat ons ingekoop het op die idee dat dinge van buite met ons gebeur nie? Dat ons slagoffers is van omstandighede, in plaas daarvan dat ons besef dit is onsself wat ons innerlike idees, opinies, mislukking, teleurstelling oortuigings, kondisionering en vrese binne ‘n gegewe situasie indra.

Want indien jy sou erken dat dit wat binne jou aangaan bepaal wat jy ervaar en sien, sou jy moes verantwoordelikheid neem daarvoor.

Maar ongelukkig het meeste godsdienste die mens ‘n agterdeur gee. ‘n Agterdeur waardeer hulle hul verantwoordelikheid kan verplaas op iets buite hulle.

Van kleinsaf is ons gesê dat dinge met ons gebeur. Dat ons slagoffers is van hierdie dinge. Dat hierdie dinge in der werklikheid kragte buite ons beheer is.

Kyk maar net hoe het daar in die Christendom selfs ‘n naam en ‘n verpersoonliking ontstaan, vir hierdie sogenaamde kragte buite ons. Name soos Satan, die Duiwel en die bose magte rondom ons.

Daarin lê natuurlik die hele idee dat ons slagoffers is en uitgelewer is. En dat ons nie verantwoordelik gehou kan word vir ons besluite en optredes nie. Want wie kan dan nou staande bly teen hierdie kragte?

Daarom sê hulle so graag dat daar in die Nuwe Testament gewaarsku word dat daar ‘n stryd aan die gang is, ‘n stryd wat nie “…teen vlees en bloed is nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” (Efesiërs 6:12.)

En in die lig hiervan word daar tot vandag toe, verwys na versoeking as iets wat van buite die mens kom. Daar word gesê ‘n mens word deur versoeking oorval of verlei.

Dit bring natuurlik mee dat meeste gelowiges magteloos voel en deur vrees verlam word. En daarmee saam ook geen verantwoordelikheid neem vir hulle dade nie. “Die Duiwel het my dit laat doen!” of “Ek is versoek en verlei…”

Maar soos met die vier vriende om die kers, is die belewenis, woorde en reaksies juis nie van buite nie, maar van binne! Hulle het elkeen dit self daar ingedra.

Ons is verantwoordelik vir wat ons sien en hoe ons daarop reageer. So ook enige versoeking. Dis iets binne jou. Want as dit nie reeds teenwoordig was binne jou nie, sou geen prikkeling of gebeurtenis jou aandag daarheen kon trek nie.

Daarom is dit so belangrik om te besef dat jou binne wêreld jou buite wêreld bepaal, nie anders om nie. En die gedeelte in Markus 7 vers 15 verwoord dit vir my baie goed met: “Niks wat van buite af in ‘n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ‘n mens uitkom, dit maak hom onrein.”

Is dit dan nie logies dat elkeen van ons se lewenstaak is in die eerste plek is om vrede te maak met onsself, ons verlede en ons hede?

Dit wat die huidige Dalai Lama verwoord met: “We can never obtain peace in the outer world until we make peace with ourselves.”

Want as ons binne wêreld ons buite wêreld bepaal, beteken dit tog dat indien jy binne vrede vind, jy ook buite vrede sal realiseer.

Meer nog, ons binne wêreld word die deur na alles wat heilig is, ja selfs die deur na die goddelike. Alan Watts stel dit so: “Don’t look out there for God, something in the sky, look in you.”

Ons moet dus verantwoordelikheid neem vir hierdie innerlike wêreld van ons deur aktief te werk daaraan.

Ons moet alles wat ons vrede steel en wat ons vul met vrees en haat eerder as liefde, raaksien en aktief verwyder.

Dit wat die Sufi, Jalaluddin Rumi (1207-1273) so mooi verwoord met: “Your task is not to seek for love, but merely to seek and find all the barriers within yourself that you have built against it.”

Kom ons hou op uitstel en begin op hierdie oomblik met ons reis na binne.

‘n Reis wat jou sal wakker maak vir dit wat is. Soos die sielkundige Carl Jung dit dan ook stel: “Your vision will become clear only when you can look into your own heart. Who looks outside, dreams; who looks inside, awakes.”

En is die doel om wakker te word vir dit wat is, nie die eintlike rede vir ons hierwees nie?

Thich Nhat Hanh: “For things to reveal themselves to us, we need to be ready to abandon our views about them.”