Stres is sonder enige twyfel een van die dodelikste simptome van ons moderne samelewing. Dit is nou maar net ‘n feit, dat teen te veel senuspanning die mens eenvoudig min tot geen effektiewe verweer het. Dit beïnvloed nie net jou uiterlike lewenskwaliteit nie maar is ook ‘n dodelike innerlike kanker wat sistematies jou gesondheid en lewensvreugde kan steel.
Tans word bereken dat dit ‘n realiteit is vir miljoene mense regoor die wêreld. In Suid-Afrika word daar bereken dat meer as ses miljoen mense tans daardeur geaffekteer word. En daarmee saam word bereken dit kos die land tot R232 biljoen per jaar.
Maar presies wat is stres?
Op sy heel eenvoudigste, is stres ‘die innerlike gevoel wanneer jy spanningsdruk beleef.’ En let wel, dit beteken nie noodwendig dat dit net sleg is nie.
Matige druk kan produktief wees, jou selfs die motivering gee om tot aksie oor te gaan en om te streef na verbetering en sukses. Vra maar enige goeie sportman of vrou. Innerlike druk, wanneer positief gekanaliseer, kan ‘n wonderlike motiveerder wees.
Die ironie is dus dat stres ‘n goeie en selfs nodige energie is. Maar te veel daarvan en veral ongekontroleerde en kroniese stres is baie skadelik en afbrekend vir die mens. Die rede hiervoor is, dat stres die hele liggaam in die stres-reaksie betrek. Dit is soos wanneer ‘n mens skrik vir iets, of jouself in ‘n oomblik van dreigende gevaar bevind – in al die gevalle skei jou liggaam adrenalien af. (En let wel, dit maak nie saak of dit werklik dreigende gevaar is of net ‘n aanvoeling is nie.)
Adrenalien se taak is om die liggaam reg te kry vir aksie, onder meer deur die hartklop en asemhaling te versnel en die bloedsuiker te vermeerder. Die probleem ontstaan egter wanneer stres onbeperk bly voortduur, en jou liggaam dus aanhoudend adrenalien produseer, en dit lankal nie meer nodig is nie.
Presies dit gebeur in meeste mense se daaglikse lewens. Mense wat letterlik heeltyd in die hoogste versnelling funksioneer – gedurig gereed om te “veg of te vlug.”
Wat natuurlik eerste gaan ingee in so ‘n onbepaalde stres toestand, is die geneties kwesbare kettings in jou liggaamstelsels of -organe. Veral komende van die gene wat jy oorgeërf het.
Byvoorbeeld, as vernoude bloedvate ‘n oorerwing in jou familie is, en jy dalk ook onfiks, oorgewig, gedrewe en dalk perfeksionisties is – is beroerte of ‘n hartaanval vir seker jou voorland.
Maar nog lank voordat jou liggaam so dramaties begin ingee, sal stres jou op allerhande ander maniere begin afbreek. Die sogenaamde verskynsel van “uitbranding.” Dit word meestal gekenmerk deur fisieke tekens soos gereelde hoofpyne, moegheid, diarree of hardlywigheid, slaaploosheid en spierpyne om maar net ‘n paar te noem.
Emosioneel kan die uitbranding manifesteer as angstigheid, geïrriteerdheid, liggeraaktheid, selfs huilerigheid, moedeloosheid of depressie.
Dat hierdie gevolge van langdurige stres, benewens die genoemde hart- en bloedvatsiektes, ook tot kwale soos maagsere, depressie en selfs kanker kan ly, is hoogs waarskynlik.
Nou, indien ons eerlik kyk na die afbrekende voorkoms van ongekontroleerde stres in ons lewens, moet ons ook raaksien, dat stres iets is wat ons kan beheer en bestuur. Soveel anders as byvoorbeeld iets soos jou gene (erflike faktore) waaroor jy geen beheer het nie.
Presies so is die lewe ook verdeel tussen dit binne jou beheer en dit daarbuite. En ironies genoeg, word stres juis veroorsaak wanneer mense fokus op dinge buite hulle beheer, eerder as dit binne hulle beheer.
Kom ek verduidelik wat ek bedoel. Die lewe werk soos ‘n seilboot op die oop see. As kaptein van hierdie seilboot is jy in beheer, jy bepaal die rigting en die spoed. Maar die wind en die weer is buite jou beheer. Die beste wat jy daaraan kan doen is om so vaardig moontlik te wees in die lees van weer-tekens en die tegnieke van seilkuns onder die knie te kry.
As jy dus onverhoeds betrap word deur ‘n storm, help dit nie om kwaad te word of selfs angstig nie. Jou enigste sinvolle opsie is om na die beste van jou vermoë te probeer om jou seile te gebruik om die grootste gevaar van die storm te probeer vryspring.
So is dit ook binne jou beheer om te beplan, maar ‘n ongeluk is nie. ‘n Gesonde lewenstyl is binne jou beheer; om egter met kanker gediagnoseer te word is buite jou beheer. Om vriendelik te wees is binne jou beheer, om vriendelikheid terug te ontvang is buite jou beheer.
Hiermee saam is dit ook interessant om raak te sien dat die area van beheer kleiner is as die area buite jou beheer. Maar die goeie nuus is, dat indien jy fokus op jou area binne jou beheer, jy wel invloed kan uitbrei oor die area buite jou beheer.
Ek illustreer wat ek bedoel: Terug na die seilboot metafoor. Hoe meer ervare en geoefen die kaptein van die seilboot is, hoe beter kans op oorlewing is daar. Met ander woorde, hoe vaardiger jy oor dit binne jou beheer is, hoe beter vaar jy met dit buite jou beheer.
‘n Voorbeeld hiervan is iemand wat geleer het om sy humeur te beteuel. So ‘n persoon het ‘n beter kans op sukses in ‘n oomblik van krisis as iemand wat gereeld sy emosie die oorhand laat kry.
Die essensie van hierdie benadering is dus om te leer om dit wat buite jou beheer is te laat gaan en te fokus op dit binne jou beheer. Hugh Prather sê dit so goed met: “You can’t control other egos and events, so let go of control. You can only control your focus. So focus on what unites, comforts, and stills your mind.”
Die ‘laat gaan’ van dit buite ons beheer, bevry ons van die kettings van stres.
En wat ek bedoel met ‘laat gaan’ is ‘n innerlike losmaak van jou oor-identifisering met dinge wat buite jou beheer lê. Eers wanneer jy vrede maak met dit wat buite jou veld van beheer lê, kan jy begin ontspan. Sodoende kan jy ook ontspan oor môre en dit wat môre bring.
Die effektiefste manier wat ek ken om te leer ontspan, is om doelbewus die spoed waarteen jy leef te verminder. Dit waarna die Amerikaanse Boeddhis Sharon Salzberg verwys met: “Restore your attention by dramatically slowing down whatever you’re doing.”
Daar is geen beter teenmiddel teen stres as die vermindering van spoed nie. Om te midde van jou gejaagde lewe, ‘n innerlike ingesteldheid van rustiger en kalmer uitkyk te hê.
Die einste raad wat St. Francis de Sales (1567-1622) soveel jare terug al gegee het: “Never be in a hurry; do everything quietly and in a calm spirit. Do not lose your inner peace for anything whatsoever, even if your whole world seems upset.” Let wel, hierdie is nie ‘n luuksheid nie. Óf jy vind balans en fokus en daarmee saam sin en diepte in jou lewe. Óf jy gaan te vinnig leef en hoë stresvlakke beleef en iewers eendag sal jou liggaam oppak en daarmee saam jou lewenskwaliteit.
Recent Comments