Die leke-prediker Angus Buchan het laas jaar voorspel dat die droogte in die Wes-Kaap teen Maartmaand hierdie jaar verby sal wees. So asof hy presies weet wat God dink en beplan. Hy het egter nou sy “profesie” aangepas en gesê dat dit nie reën nie omdat God eintlik kwaad is vir die Kaap. Want hulle het teen Hom gekies en is besig met sonde en allerhande bose dinge. Sy oplossing: hulle moet net hulle bekeer en dan sal dit vir seker weer reën.

In die tussentyd reën dit lekker hier in Gauteng se Sodom en Gomorra.

Hierdie is natuurlik ‘n goeie voorbeeld van hoe baie Christen gelowiges nog na die werklikheid kyk. Daar is goed en daar is boos. God en duiwel, en hulle is in ‘n ewigdurende stryd gewikkel vir die siele van die mensdom. En wanneer God die bose beveg stuur Hy natuurrampe soos brande in Knysna, tsoenami’s, aardbewings, vloede en droogtes.

Dit moet mense dan tot insig roep om te kies in watter “span” hulle wil speel.

Niks en niemand word gespaar in die stryd nie. Want sien dit gaan oor ewigheids goed. En wie wil nou verkeerd kies en dan vir ewig ‘n gekners van tande en pyn van ‘n helse vuur as vooruitsig hê?

Dink maar net aan die gereelde ketting e-posse wat deur “besorgde Christene” versprei word. En waarin hulle een of ander nuwe speelding, musiekgroep, nuwe rolprent of sondige gedrag van een of ander groep uitlig as satanies en demonies. Sulke e-posse vaar gewoonlik in detail uit oor alles wat boos en demonies is en teen God se wil is.

Nou ja, wat sal ek sê … lyk my daar is sommige mense wat presies weet wat God dink, sê en wat Sy wil is. En behalwe vir God, weet meeste gelowiges blykbaar presies wie en wat die bose is; die duiwel en wie die duiwel se kinders is. En hulle weet dit omdat hulle so van kleinsaf geleer is en deur hulle ouers, kultuur en (“enigste wáre”) kerk so grootgemaak is.

Natuurlik weet ons (of behoort ons te weet!) dat niemand gebore word met so ‘n sekerheid nie. Want daar is nie iets soos ‘n Christen- of Moslem-baba nie, net Christen- of Moslem-ouers! Dit is tog duidelik dat Christen-kinders ander goed geleer word as Moslem-kinders, en albei groepe word groot met die onwrikbare sekerheid dat net hulle reg is. En ander is nie net verkeerd nie, nee hulle is boos; kinders van die duiwel.

Selfs tussen Christene glo Rooms-Katolieke ander dinge as wat Protestante, of Episkopaliërs, Kwakers of Mormone glo. Die enigste ooreenkoms tussen hulle almal, is dat elkeen absoluut oortuig is net hulle het die waarheid beet. Maar ironies genoeg glo hulle verskillende dinge, erger nog dit is baie keer teenoorgestelde dinge. Presies wat geïllustreer word deur die gesprek tussen twee groot Christen stryders: John Wesley wat vir George Whitefield op ‘n keer sê, “Your God is my devil.”

Dit is ‘n baie interessante verskynsel, die hele populêre idee rondom wie die duiwel is en veral die sogenaamde “duiwelaanbidders.” Die konsep van “duiwelsaanbidding” of Satanisme het net soos die vampier mites, in die Middeleeue baie aandag in Europa gekry. Middeleeuse of Gotiese Satanisme kom neer op die aanbidding van die duiwel (natuurlik gedefinieer deur die Christendom).

Daar was geglo dat die Sataniste baie ou rituele gebruik het soos menslike offers, die breek van kruise, die uitspreek van vloeke of toorformules en om mense se siel aan die duiwel te verkoop. As gevolg van die vrees en bygeloof is letterlik duisende “duiwelsaanbidders” of hekse lewend verbrand. Die uitsprake van die Inkwisisie en die hekse-verbranding in Europa en Amerika gedurende die 16e en 17e eeu is ‘n hartseer en bloedige getuie hiervan.

Net soos met vampierlegendes is daar ook geen historiese bewyse dat daar ooit Sataniste was nie. Die oorgrote aantal beskrywings en inligting oor duiwelaanbidding was die fantasieproduk van Christelike vertellers en skrywers. Selfs vandag nog word meer as 90% van die Satanistiese webbladsye op die internet geplaas, onderhou en bestuur deur Christelike organisasies, o.a. om as afskrikmiddel te dien teen nuuskieriges.

Die eksentrieke Lady Gaga en Heavy Metal groepe soos Morbid Angel en Satyricon is meestal van die bekendste voorbeelde van Christene se ‘bewys’ vir die bestaan van Satanisme. Daar word met baie sekerheid uitgewys dat hulle kleredrag, haarstyle, simboliek en lirieke dui op “duiwelaanbiddery.” Dit laat my glimlaggend terugdink aan my jong dae, toe geglo is as jy die rockgroep Queen se plate agteruit speel dit duidelike Satanistiese boodskappe bevat. Vandag word dié einste “bose” groep beskou as een van die beste rockgroepe van alle tye.

In antieke tye was veral Sataniste, towenaars, hekse en vampiere gesien as die “skuldiges” wat siektes, misoeste, natuurrampe en tragedies veroorsaak het. ‘n Goeie voorbeeld van hierdie skuldverplasing is die Joodse sekte van die Essene. Hulle het al eeue voor Christus se geboorte begin om ander Joodse sektes, wat met hulle verskil, as “donker magte” te beskryf, terwyl hulle hulself as die “kinders van die lig” beskou het.

Die vroeë Christene het hierdie benadering vinnig oorgeneem en enigiemand wat anders as hulle geglo het of ander kulturele gewoontes beoefen het is vinnig as demonies en boos uitgemaak. Tydens die Verligting van die 18de eeu het van die vrydenkende mense van daardie tye teruggeslaan en so het o.a. die moderne verstaan van Satanisme as ‘n nuwe filosofiese rigting, ontstaan. Dit was eintlik net ‘n weerstand teen die kerk se dogma van sonde. Die filosofie wou nuwe betekenis gee aan vryheid en vrye wil.

Wat my egter baie fassineer is dat mense onmiddellik spookstories en vampierstories kan sien as tradisie- en bygelowige stories. Maar as dit kom by Satanisme, dan geld dieselfde logika duidelik nie. Ek meen, al glo biljoene mense iets wat oor ‘n tydperk van eeue oorgelewer is, maak dit tog nie die storie waar of onwaar nie. Dink maar aan antieke mense se geloof in ‘n plat aarde. Alhoewel geslagte en geslagte dit geglo het, weet ons tog vandag dit is nie waar nie! Is dit nie dan waar van alle mites nie?

Mites word natuurlik makliker as feitlike waarheid gesien as dit van kleinsaf aangeleer is. Ek noem sulke mites sommer “tradisie-stories.” Tradisie beteken vir my: stories wat van grootouer na ouer na kind oorgedra word. Of dit nou mondelings of deur boeke oorvertel is, die punt is dit kom oor die eeue heen.

En soos met enige stories en mites, ontstaan meeste tradisionele geloofsoortuigings dikwels uit feitlik niks. Miskien maak iemand dit oorspronklik op, of dalk weens ‘n misverstand word daar ‘n bygelowige verklaring vir iets gegee, soos die stories oor gode soos “Thor” en donderweer, of “Zeus” en die aardse maagd wat hy swanger gemaak het, of iets soos Sataniste wat “black magic” beoefen omdat daar ‘n swak oes was of iemand siek geword het.

Tradisie-stories se oordrag-krag lê juis by die oordra van die inhoud op ‘n vroeë ouderdom. Want ‘n kind se brein is soos ‘n spons wat alles wat aangebied word op onkritiese wyse opsuig. Dis tog duidelik dat ons nie van ‘n kind kan verwag om goeie en nuttige tradisionele inligting te onderskei van swak en nuttelose tradisionele stories nie.

Dit is jammer, maar kindertjies glo gewoonlik alles wat volwassenes hulle vertel, of dit nou waar of vals is, reg of verkeerd. Natuurlik is baie van dit wat grootmense kinders leer wel gegrond op bewyse – soos oppas vir vreemdelinge, moenie sommer enigiets in jou mond druk nie, en dit is gevaarlik om met vuur te speel. Maar as iets daarvan gegrond is in bygeloof of mite, is daar niks wat kinders keer om dit ook te glo nie.

Dink maar aan die mites van die Paashaas, Kersvader, tandmuis en ook vampiere en drake. Maar sekere mites word so goed geïntegreer in die kultuur en sosiale leefwêreld, dat dit onkrities behou word as feitlike waarheid. Dink maar aan die geloof van vele dat o.a. Maria ‘n maagd was by Jesus se geboorte, of geloof dat water in wyn kan verander, of ‘n donkie wat kan praat – nie een van hierdie geloofsoortuigings kan enigsins gestaaf word deur enige goeie bewyse nie. Tog glo biljoene mense daarin en leer hulle dit vir hulle kinders.

Die groot probleem met hierdie oordrag van tradisie stories aan kinders is dat dit gepaard gaan met gesag. Gesag (outoriteit), as ‘n rede om iets te glo, beteken om iets te glo omdat jy vertel word om dit te glo, deur iemand wat belangrik is vir jou. In die Rooms-Katolieke kerk is die Pous die belangrikste persoon, en mense glo hy moet reg wees net omdat hy die Pous is. In een vertakking van die Islam is die belangrikes “Ajatollahs.” En heelwat jong Moslem-gelowiges is bereid om te sterf, bloot omdat die “Ajatollahs” in ‘n land ver ver van hul eie, hulle vertel om dit te doen. Dink maar net aan onlangse Fatwa’s (godsdienstige dekrete) en Jihad (heilige oorlog) wat baie onskuldige bloedvergieting veroorsaak.

Maar wanneer kinders grootword, wat doen hulle? Wel, hopelik begin hulle vir hulle self dink. En met self-dink bedoel ek logiese redenering en die baseer van keuses op grondige bewyse. En in baie gevalle gebeur dit wel. Hiervan is die post-moderne wêreldbeeld ‘n goeie voorbeeld. Vanuit hierdie wêreldbeeld kan ons verstaan dat daar ‘n tyd en plek was toe mense sekere stories en mites as waarheid geglo het. Maar ons weet tog dat sodra jy “groot” word die dinge van ‘n kind agtergelaat word.

En dit beteken dat ‘n innerlike gevoel, oortuiging of innerlike wete nie noodwendig voldoende bewyse is nie. Ons het almal van tyd tot tyd gevoelens in ons binneste wat soms reg bewys word en soms verkeerd. In elk geval het verskillende mense teenoorgestelde gevoelens, wat dit moeilik maak om te besluit wie se gevoel reg is. Volwassenheid is daarom geskoei op kritiese selfdenke. Om nie net op hoorsê te gaan nie maar om vir jouself seker te maak.

Indien ons ons kinders kan help om gebalanseerd, oop, krities en vrydenkend hierdie saak te benader, kan ons dalk net ‘n nuwe vryer generasie grootmaak.

Dink maar net hoeveel nader ons aan vrede sou kom as selfdenke, verdraagsaamheid en harmonie vir ons belangriker lewensbeginsels kon word as die bygelowe wat tans verkondig word as waarheid.