Ek is tans besig om ‘n antieke spirituele teks, die klassieke Chinese poëties-filosofiese boek, die Tao Te Ching (Die Boek van die Weg) te vertaal. Iets wat ek al jare lank wou doen en nou uiteindelik mee begin het.

Ek sal nooit vergeet toe ek die eerste keer die Tao Te Ching gelees het nie. Dit was vir my soos ‘n vars briesie deur my siel. Meteens het ek geweet hierdie teks wil ek dieper ondersoek, wil ek probeer verstaan en in my lewe integreer.

Die probleem was net dat ek nie ou Mandaryns magtig was of is nie.

Maar gelukkig het ek ook vinnig ontdek dat die Tao Te Ching, naas die Bybel, seker die mees vertaalde boek van alle tye is. Byvoorbeeld, as daar net na Engels, Frans en Duits gekyk word, is dit al meer as 250 keer vertaal.

En ondanks die feit dat die Tao Te Ching dikwels as heilige boek beskryf word, is dit anders as byvoorbeeld die Christendom of die Islam, en maak dit geen aanspraak op enige goddelike geopenbaardheid nie. Dit is veel eerder ‘n poëties-filosofiese teks, wat die sin van die lewe ondersoek. In wese gaan dit oor die kuns om in harmonie met die lewe te leef.

En die verstaan van die Tao kan ook glad nie met ‘n God-konstruk vergelyk word nie. Hoor net hoe mooi verduidelik Al Chung-liang Huang, ‘n Chinese akademikus en Taoïs dit: “It must be clear from the start that Tao cannot be understood as “God” in the sense of the ruler, monarch, commander, architect, and maker of the universe. The image of the military and political overlord, or of a creator external to nature, has no place in the idea of Tao.”

Die Tao verwys veel eerder na ‘n leegheid, vanwaar alles manifesteer en uiteindelik na terugkeer. Maar kom ek stel die Tao Te Ching self aan die word hieroor. Vers 4 se eerste gedeelte (my vertaling):

Die Tao is ‘n onuitputlike leegheid;
En al maak almal daarvan gebruik,
Word dit nooit opgebruik nie.

In hierdie leegheid is daar plek vir alles.
En alhoewel onsigbaar,
Skyn dit deur alles.

Die filosofie van Lao Tzu lê veral klem op die mens se eie verantwoordelikheid om ‘n betekenisvolle en etiese lewe te leef. Om te besef dat, anders as wat jou ego-storie vertel, jy een met alles is. Dat jy net soos enige lewe vanuit die Tao gebore is en weer daarna sal terugkeer. Die Tao skyn deur ons almal. Daarom, ook, is jy mede-verantwoordelik vir jouself en ander lewensvorme. Die mens heers nie oor die skepping nie, soos in onder meer die Christelike godsdiens verkondig word nie, nee – ons is deel van die skepping, deel van die netwerk van lewe.

En daarom, indien jy op soek is na waarheid, sal jy dit op geen ander plek vind as binne jouself nie. Die Tao Te Ching, vers 14 (se laaste gedeelte), sluit mooi hierby aan (my vertaling):

Jy kan dit nie begryp nie, want daar is geen begin nie;
Jy kan dit nie ken nie, maar jy kan dit wees,
Tevrede en in harmonie met jouself
Kan jy kennis verwerf van jou oerbegin;
Dit is om werklik wys te wees.

Dit wat Marcus Aurelius eeue terug ook gesê het: “He who lives in harmony with himself lives in harmony with the universe.”

Lao Tzu, skrywer van hierdie klassieke Chinese werk, was ‘n tydgenoot van Confucius in die sesde eeu v.C. Legende vertel dat hy die hoof van die koninklike argiewe in Loyang provinsie was. En dat hy op ‘n redelike hoë ouderdom besluit het om af te tree. En om sy laaste paar jaar in afsondering, en “in vrede” volgens hom, af te sluit.

En dan op ‘n dag pak hy sy karige besittings op en begin met sy finale reis, maar word vinnig deur ‘n hekwagter in die noord-weste van China voorgekeer, so word vertel. Die hekwagter het by hom gepleit dat hy eers sy leerstellinge op skrif moes stel voordat hy finaal verdwyn.

Die resultaat is die Tao Te Ching, ‘n poëties-filosofiese werk van ongeveer 5000 woorde. Opgedeel in 81 versies. En tot vandag toe bly dit een van die belangrikste invloede op Oosterse denke.

“Tao” beteken “weg” of “pad”, en elke mens se pad deur die wêreld verskil natuurlik. Om dit net met jou kop te probeer verstaan gaan jou nie ver bring nie, nee, jy’t nodig om hierdie pad self te stap.

Tereg sê Chuang Tzu (dissipel van Lao Tzu) dan ook dat die Tao Te Ching so ‘n pad is wat self geloop moet word: “It only blossoms through personal experience – not through analytical and intellectual nit picking … in reading it we simply see our own minds.”

En dit is die wonderlike van hierdie teks, dit is regtig soos om in ‘n spieël te kyk. Lao Tzu se woorde klink soos jou eie gedagtes en woorde. Dit maak daarom hierdie teks so ‘n meesterlike stuk werk. Dit word eenvoudig net nie oud of irrelevant nie. Lees jy dit, klink dit asof dit vir vandag geskryf is.

Die openingsvers spring weg met soveel helderheid – hier is ‘n klein gedeelte vanuit vers 1 (my vertaling):

Vry van begeerte, besef jy die misterie.
Vasgevang in begeerte,
Sien jy net uiterlike vorme.

Tog kom misterie en uiterlike vorme
Vanuit dieselfde Ewige na vore.
Die enigste verskil is die name wat ons dit gee.

Hoekom hierdie boek so belangrik vir my is om te vertaal, is juis omdat dit soveel spirituele juwele het wat mense se lewens radikaal kan transformeer. As ek maar net dink hoe dit my vrygemaak het, en hoeveel kalmte, vrede en insig deel van my lewe geword het, kan ek eenvoudig nie anders as om dit aan soveel moontlik vrydenkers bekend te stel nie.

Natuurlik is my doel met die vertaling, net soos die styl van die geskrif self, nie om waarhede uiteen te sit nie, maar om eerder die leser te lei om self by unieke insigte uit te kom. Om ‘n wegwyser te wees eerder as ‘n bestemming.

In sy wese is die Tao Te Ching ‘n simboliese teks. En simbole se aard is tog om veelvlakkige betekenisse te dra. So kan elke mens uit hierdie uitsonderlike werk, sy eie rigting vind. En op hierdie weg kan jy uiteindelik in kontak kom met jou eie innerlike kompas.

Die ontdekking dat jy jou eie rigtingwyser is. En die wat dit ontdek en daarvolgens begin leef, word dan ook volgens die Tao Te Ching, die Ware Wyses genoem.

Vers 12 verwoord dit soos volg (my vertaling):

Kleure verblind jou oë.
Klanke verdoof jou ore.
Geure maak alles smaakloos.
Gedagtes maak jou deurmekaar.
Begeertes verswak jou hart. Die wêreld word deur die Ware Wyse waargeneem
Maar hy vertrou net sy innerlike visie.
Hy laat dinge kom en gaan.
Sy hart is so wyd soos
Die hemele.