Ná die openbare debat oor die bestaan van God, tussen my en dr. Richard Howe (Christen-apologeet van Amerika) by die Universiteit Stellenbosch, het ‘n man my kom sien. Hy het spesiaal vanaf Bloemfontein deurgery om aan my ‘n “profesie” te kom oordra, ‘n profesie wat hy glo direk van God kom.

En so gebeur dit dan ook dat ek een oggend oor ‘n koppie koffie met dié “profeet” gesels. Ná heelwat stellings soos: “God sê…”, “Die enigste ware en lewende God, Yahwe, het my na jou gestuur…”, “Dit is direk aan my geopenbaar…”, “God het aan my die gesag gegee om…”, “God het gesê Hy laat nie met Hom spot nie…” en “God wil jou vergewe en gebruik om sy koninkryk hier op aarde uit te bou…” – kon ek nie meer stilbly nie.

Ek antwoord toe so kalm en duidelik as wat ek moontlik kon: “Dit is vir my interessant dat soveel gelowiges presies weet wat God se wil is, presies weet wat God dink en wat God te sê het. In die Christendom self is daar meer as 34 000 verskillende denominasies, waarvan elkeen iets anders te sê het oor God se sogenaamde wil. Die een sê God spreek so, en ‘n ander sê nee, nee, God spreek só. Wie is reg? Wie praat namens die regte God?”

En, soos ek verwag het, antwoord my koffiegenoot dat hý natuurlik die een is wat namens God praat. “Daar is baie valse profete en dwaalleraars daar buite… jy weet die Satan doen hom voor as ‘n engel van die lig…”

“So, hoe tref ek onderskeid? Hoe bepaal ek wie namens God praat en wie hom of haar net as ‘n engel van die lig voordoen?”

“Baie maklik,” sê hy, “jy kyk na die persoon se dade en vrugte, daaraan sal jy kan weet…”

“Sjoe, dan is ek nog meer onseker,” antwoord ek toe, “want as ek so om my kyk is dit baie mense, en hier verwys ek spesifiek na Christene wat baie veroordelend, selfgeregtig en liefdeloos optree. Soveel anders as wat Jesus geleer het. Want was Jesus nie juis uitgesproke oor die minste wees, vergewe en lief wees vir jou vyand nie? En tans, lyk dit vir my, word gays, vroue en andersdenkendes nie so goed behandel nie… en dan wil ek nie eens ingaan op hoe Christene teenoor mekaar optree en so maklik mekaar se bloed kan vergiet as iemand nie met hulle saamstem nie. As ek dus vir enige vrugte soek…”

“Ja maar,” onderbreek hy my, “dit is hoekom ons die bloed van Christus nodig het. Die mens is sondig en verlore, dit is ‘n feit. Ook ek, ek is ‘n sondaar wat nie in my eie krag kan goed doen nie, ek struikel baie.”

“Oukei,” antwoord ek, “hoe kan ek dan weet jy praat namens God? Het jy nie gesê ek sal weet iemand praat namens God aan die hand van sy dade nie, maar nou sê jy dat jy self nog soms struikel in sonde?”

Hierop het die man oorgegaan in die aanhaal van teksverse, sonder om ooit weer tussenin asem te haal. Of, dit is hoe dit vir my voorgekom het. Ek wou nog verduidelik dat ek nie teen enige godsdiens is nie, veral nie die Christendom nie. Ek voel net dat respek en deernis belangriker is as om namens God te wil uitsprake maak en mense te veroordeel. Maar ek kon nie verder ‘n woord inkry nie.

Hierdie gesprek is net weereens ‘n voorbeeld van die emosionele, onlogiese, weersprekende en selfs wêreldvreemde denke van baie godsdienstige mense. Presies wat ek in die fantasie-televisiereeks Game of Thrones nou die aand gehoor het: “Belief is so often the death of reason.”

Dit was letterlik asof die man voor my blind en doof was vir enige logiese redenasies of dialoog. Hy het my laat dink aan iemand wat dronk is – en ons weet almal jy kan nie met ‘n dronk mens redeneer nie.

Hiermee sê ek nie my gespreksgenoot vanuit Bloemfontein is nie opreg nie. Glad nie. Ek dink hy glo werklik dat hy namens God praat en dat hy God se wil doen. Ek kon ook hoor hoe oortuig hy is dat God sy Koning is en dat sy Koning sy onderdane rondstuur om sy werk vir hom te doen. Dat hierdie Koning vanuit die hemel neerkyk op al sy onderdane en beloon en straf soos Hy goed dink.

Ek moet sê, die gevoel wat ek gekry het terwyl ek na die man sit en luister het, was dat hy hierdie Koning vrees. Hy noem dit respekteer, maar ek kon die vrees hoor agter sy woorde. Want elke tweede woord het gegaan oor oordeel, loutering, versoeking, bose, Satan, demone, misleiding en natuurlik ewige straf.

Dit laat my altyd dink aan die Amerikaanse komediant George Carlin se woorde: “Religion has convinced people that there’s an invisible man living in the sky, who watches everything you do, every minute of every day. And the invisible man has a list of ten specific things he doesn’t want you to do. And if you do any of these things, he will send you to a special place of smoke and torture and anguish for you to live forever and suffer and burn and scream until the end of time. But He loves you. He loves you and needs your money.”

Ek het net weer besef dat hoewel vele godsdienstige mense beweer hulle het vrede en vergifnis gevind, dit nie altyd so is nie. Want hoe anders verklaar jy dat soveel van hulle met vrees, selfoordeel en skuldgevoelens leef?

Die hartseer werklikheid is dat geen dieper skatte van spiritualiteit ontdek gaan word vanuit vrees en haat nie. Die skatte wat diep in almal se harte lê en wag om ontdek te word, gaan net gebeur wanneer mense minder dogmaties en seker is.

En dat ons daarom mekaar nodig het, ongeag gelowig of ongelowig. Dat ons kan uitbreek uit die kunsmatige grense van verskillende godsdienste en besef ons is één. Slegs dan gaan ons wêreld ‘n sagter, vriendeliker, gelyker en mooier plek word.

Die sleutel tot dieper, eerliker, respekvoller, vriendeliker, liefdevoller en deernisvoller lewens, lê daarom nie in die rigting van meer godsdienstigheid nie, maar in die rigting van spiritualiteit.

Want is dit nie maar eintlik so dat wanneer ek in myself vryer word, ek uiteindelik my wêreld vryer maak nie? Waarna Leo Tolstoy verwys het met: “Everyone thinks of changing the world, but no one thinks of changing himself.”

En ja, ek weet dit is nie ‘n maklike ding om te doen nie. Maar ons gaan dit net regkry as ons begin om sagter te leef, ondanks die feit dat die meeste mense harder, wreder en sekerder word; om vriendeliker te leef, ondanks ‘n wêreld wat onvriendeliker en by die dag meer rigied word; om die liefde belangriker te ag as om reg te wil wees.

Die vrydenkers en vrygeeste sal die eerste treë moet gee, ongelukkig gaan die godsdienstiges van die wêreld dit nie doen nie. Hulle kan nie, want hulle is te besig om terug te trek, te verdedig en kwaad te wees vir almal.

Die vryes sal met meer deernis, liefde en hoop moet leef. Niemand kan vir altyd die gety van deernis en menslikheid terughou nie.

Johannes 13:34: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.”