Hier is ‘n uittreksel uit ‘n eenman/vrou verhoogstuk waarmee ek besig is. Dit handel oor die dood, die wat agterbly en die vrae wat by ons opkom oor wat die doel en sin van die lewe is. Soos baie van julle al weet is ek ook tans besig met ‘n digbundel. Ek vleg van my gedigte oor dood en lewe, tussen die teks in. Ek prober ook my verstaan van lewe, dood en sin na vore bring. Loer gerus na ‘n gedeelte daarvan.
TONEEL 1
Leë verhoog. Slegs stoel, tafel en leeslamp. Kollig op tafel en stoel. Iemand besig om iets te skryf
Wat skryf ‘n mens vir iemand wat die liefde van jou lewe was, nee dit is nie reg nie … die liefde van jou lewe IS … nooit was nie, NOOIT!
Selfs die dood kan dit tog nie verander nie, my liefde sterf nie, dit hou aan, meer nog dit word sterker soos tyd verloop en herinneringe van jou vasgroei, rank in my siel… (Stilte)
Wat skryf ‘n mens in so ‘n laaste brief? Is daar woorde wat kan raakvat, omvat wat ‘n mens voel … hoe dit voel?
Tel papier op en lees hardop voor
Die skok en vrees wat jy moes deurmaak toe jy die NUUS vir die eerste keer hoor, ek kan net dink hoe vreesaanjaend, ondraaglik … (kry eers emosies onder beheer) … jy moes so bang gewees het, my skat. Ek is so jammer dit het met jou gebeur. Jy verdien dit nie! Nie jy nie…
Frommel papier op en gooi in asblik. Staan op en loop om tafel, gaan sit op voor kant van tafel
Wat gebeur met iemand wat sulke aaklige … gevreesde woorde vir die eerste keer moet hoor?
Staan op en vat aan lapel soos ‘n dokter sou
“Die toets-uitslae het teruggekom. En ek is so jammer, dis nie goeie nuus nie, dit is ongelukkig … baie slegte nuus.”
Gaan sit verslae
Wat?! Ek verstaan nie, dit was maar net ‘n hoofpyn, ek het al baie van hulle gehad. Dis mos nie erg nie, hoe kan dit wees … wat bedoel dokter met ‘baie slegte nuus’? Operasie? Kanker? Chemo? Shit, my hare … gaan ek my hare verloor? Party mense verloor ook ooghare … kan dit met my ook gebeur? En as my hare nie wil teruggroei nie?
“Voor ons oor die behandeling gesels moet jy asb. eers … presies die omvang verstaan … uhm, daar is ‘n swak prognose … in der waarheid, kan ons niks verder doen nie, behalwe om jou te ondersteun en help om met soveel gemaklik moontlik die laaste…”
Ek verstaan nie? Bedoel jy, bedoel jy ek is besig om te sterf?
Stilte, hou hand op om te wys ‘n oomblik is nodig
Ek verstaan nie … hoe kon dit gebeur het … dit was dan net ‘n hoofpyn … Hoe lank?
“Niemand kan presies sê nie…”
Hoe lank?! Hoe laaank!
“Tussen drie en ses maande en … maar niemand kan presies sê nie, ek is so jammer…”
Here, drie maande!
Staan op van tafel, loop terug na stoel. Gaan sit. Tel bril en pen op. Begin skryf
My liefde, ek besef nou dat die skok en pyn wat jy moes verwerk, ‘n ongelooflike swaar las, swaar, swaar las was…
Ingedagtig, kyk dan op, praat met gehoor
Wat gebeur binne ‘n mens wanneer jy sulke nuus hoor? Wat maak jy daarmee, hoe verwerk jy dit? Ek dink dit is ‘n geval van oorlading, soos ‘n motor masjien wat oorverhit of iets … te veel, te vinnig, iets sny uit, stop, stol. En ek weet wanneer dit met my sou gebeur … sou ek sekerlik oorgaan op auto pilot…
Haal brille af en vryf moedeloos oor gesig
dit gebeur
wanneer
dit nie verwag
word nie:
iets wat die bewussyn
onherroeplik merk
soms lig
soos ‘n veer
soms ‘n skedelbreuk
Stilte. Draai weer terug na die gehoor
Persoonlik is ek nie bang vir my einde nie, wel, ek dink nie so nie, ek dink ek is OK dat ek eendag gaan sterf. Maar, ek moet ook erken, ek is vreesbevange vir hoe dit kan gebeur. Ek wil tog net nie ly nie … dalk maande op ‘n siekbed, onwaardig, swak, hulpeloos. Vreemdelinge wat my moet skoonmaak, versorg … voer … soos vir ‘n babatjie!
Staan vinnig op en frommel papier en gooi aggressief in asblik
Hel, dis soveel swaarder as wat ek gedink het … wat skryf ek, my lief, wat? Geen woorde kan troos bring nie, daar is geen troos … net lyding, swaarkry en pyn, vernedering … baie pyn…
Gaan sit weer agter tafel, sit brille op neem nuwe stuk papier, begin skryf
My skat, die dood is nie ‘n maklike saak nie. Geen woorde kan regtig voldoende troos vir jou of ons bring nie. Ek het begrip vir die behoefte wat ons as mense het om aan een of ander tydelike troos vas te klou. Want wie wil nie glo daar is ‘n ewige lewe wat na die dood op ons wag nie? Wie het nie behoefte aan ‘n konstruk soos die hemel of paradys of iets dergliks nie?
Kyk op na gehoor en praat met hulle
Kom ons wees eerlik met mekaar, die meeste wat ons regtig oor die dood kan sê, is dat niemand hierdie lewe lewendig verlaat nie. En lewe na die dood? Wel op hierdie vraag is daar al deur die eeue lang teorieë en filosofiese konstruksies geformuleer. Uitgewerkte trooswoorde wat bedoel was/is om mense se vrees vir die oomblik van sterwe te besweer. Snaaks hoe ons so graag “sekerheids” antwoorde op die dood se vrae wil hê. Sommiges glo die dood is soos ‘n rekenaar wat afgeskakel word. Die oomblik wat die kragtoevoer stop, stop alles. Ander glo weer dat die dood slegs ‘n deurgang is na ‘n ander dimensie van bestaan, iets van ‘n hiernamaals. En nog ander glo die dood is ‘n tipe toetrede tot ‘n nuwe siklus van lewe en dus eintlik ‘n hergeboorte. Maar wie weet? Wie kan seker sê? Eintlik kan ons niks vir ‘n feit sê nie, veral nie aangaande die lewe na die dood nie. Eintlik is die enigste vraag wat ons kan vra, nie of daar lewe na die dood is nie, maar eerder, hoe leef ek voor die dood? Want dink so daaraan, om dood te wees is nie regtig ‘n realiteit terwyl jy lewe nie en die lewe is geen realiteit meer vir die wat dood is nie. Met ander woorde, om jou hart oop te maak vir die lewe self, is om in die vloei van die ewige Nou tuis te kom. Die nou, is tog die enigste plek waar die lewe en die dood se paaie kruis, die plek waar alles verdwyn wat kunsmatig en vals is.
Kyk af na hande, hou dit op en sien dit bewe. Gee ‘n laggie
Niks hiervan beteken iets vir iemand wat vrede moet maak en net drie maande oor nie.
Kyk weer af na papier, frommel dit op. Neem ‘n nuwe papier. Begin skryf
wat lê anderkant die horison?
geen woorde kan dit raak
as jy probeer
lieg jy te veel
as jy sê ‘Jahweh’, ‘Allah’ of ‘Brahman’
of as jy uitskree ‘Niks!’
konstrueer jy te veel
inderwaarheid kan geen een
beweer ‘wat’ nie
of selfs beskryf ‘dat’ nie
Ek persoonlik dink dat net soos energie nooit vergaan nie, maar net verander van vorm, ons (wat ook net energie is) nooit werklik sterf nie. Daarmee sê ek nie dat EK (in dié vorm) nooit sal eindig nie. Ek sal wel weer deel word van die groter geheel, terugkeer na die bron, vanwaar ek oorspronklik gekom het.
Stop. Haal stadig brille af. Kyk weer op…
Ek kan nie meer valse troos vind in “die mooiste blommetjie word gepluk vir die tuin van God” nie. Ek het nog steeds die vrae van hoekom nou? Kon ek nie meer gedoen het nie? Kon dit nie anders gewees het nie? Hoekom soveel lyding? Antwoorde op my vra vat egter nie die pyn en hartseer weg nie. Ek beleef soveel verlies, ek mis jou my engel … ek mis jou sooo baie … ek kon nooit raai hoe fisies pynvol rou is nie. My maag pyn, my bors brand … ek voel of ek gaan ophou asemhaal.
Staar net in stilte, verweg in gedagte, onbewus van gehoor … na ‘n rukkie, word weer stadig aan bewus van gehoor, lig dan glas en vat groot sluk. Staan op en loop na einde van die verhoog, kniel en fluister
“dood,” het sy gefluister
“my naam is dood,”
terwyl sy uitlokkend
nader dans
Staan op en gooi hande in lug. Skree. Arms val leweloos na onder. Kom tot stilstand. Huil. Stilte. Snik. Kyk weg, kyk terug na gehoor
daar is niks
wat die dood
nie gesond
kan maak nie … niks!
Bly reguit na gehoor kyk. Stilte. Loop terug na stoel. Neem glas wyn, sit en vou bene onder in. Neem sluk wyn. Lig leë glas op en stel heildronk in…
gooi my as op ‘n heuwel
iewers onder ‘n kanniedood
laat die wat hartseer is
vergeet-my-nie’s bring
en die wat bly is
goeie whiskey drinkLig gaan af. Donker op verhoog.
Recent Comments