Die tyd waarin ons leef lê baie klem op uiterlike sukses. Wat jy doen, hoe jy lyk en wat jy besit is waarop jy geoordeel word. En dit is sekerlik belangrik. Maar veel meer nodig vir ‘n gelukkige en betekenisvolle lewe is om na binne te beweeg. Op die oog af lyk die stelling egosentries en selfsugtig. Veral in ‘n tyd waar daar soveel uiterlike konflik, armoede en sosiale ongeregtighede is.

Het die wêreld nie meer doeners nodig nie? Sekerlik is dit waar, maar as die doeners nie weet hoekom hulle doen wat hulle doen nie, word wat hulle doen destruktief en selfs afbrekend. Kom ons kyk bietjie dieper na hierdie stelling.

Ek wil as voorbeeld, begin by Jesus se woestyntyd. Was dit nie vir hierdie inkeer tyd nie, sou hy waarskynlik nooit ‘n sinvolle uiterlike optrede gehad het nie. In sy selfontdekking vind hy sy passie en doel. Dit is spiritualiteit, die reis na binne. En dan gebeur daar iets, die aanvanklike innerlike reis van Jesus neem hom nou na buite, na die ander. Die verskil is net dat, nou herken hy homself in die ander. En gaan dit nie meer om homself te bewys of om ‘n punt te maak nie, nee, nou gaan dit oor sy roeping om mense te bevry. Net so het die filosoof Jiddu Krishnamurti na ‘n diep self-ondersoek tot die konklusie gekom: “When I understand myself, I understand you, and out of that understanding comes love.”

Presies dit wat gebeur wanneer jy die reis na binne onderneem. Jy ontdek jou eenheid met alles en almal. Alles word ‘n spieël. Dan kan jy nie meer dink in kategorieë nie, net holisties.

Jy ervaar al meer jou onlosmaaklike “interconnectedness” met alles. En daarom as jy diere, plante of mense sou seermaak – besef jy nou dat jy jouself seermaak. En wanneer jy ander lief het, het jy jouself lief.

Dit is die waarde van hierdie spiritualiteit, dit bring die besef dat mense nie los van die skepping is nie. Jy kom tot die besef dat die Kosmos waardevol is omdat jy inherent deel daarvan is. Jy begin twee keer dink voordat jy sinlose geweld gebruik teenoor enige lewende wese, of dit mense van ander kulture is of Renosters of “fracking” in die Karoo is. Die sogenaamde groen revolusie. En hiermee saam ook die vele menseregte bewegings wat juis deur hierdie nuwe spirituele groepe gedryf word.

Daar word nou meer met liefde gewerk eerder as vrees. Soos Bonnie Raitt dit so kragtig stel: “Religion is for people who are scared to go to hell. Spirituality is for people who have already been there.” Daarom word daar heeltemal wegbeweeg van oordeel, sonde, straf en verdoemenis. En nader beweeg aan vergifnis, aanvaarding en verdraagsaamheid. Iets van ‘n eerlikheid wat na vore kom eerder as ‘n skynheiligheid.

Die reis na binne maak die mens meer menslik, meer aards. Dit help ons om meer te lag, stadiger kwaad te word en vinniger te vergewe. Daarom is die strewe na ‘n beter wêreld en lewenskwaliteit vir alle lewende wesens, onafskeidbaar deel van eers self ontdek en dan eers na buite beweeg.

Die Amerikaanse digter Walt Whitman som spiritualiteit op met die volgende: “This is what you shall do: Love the earth and sun and the animals … dismiss whatever insults your own soul, and your very flesh shall be a great poem.”

Dit bring ons dus nader aan die behoefte by mense om te wil wegbeweeg van godsdiens sonder om noodwendig hulle behoefte na spiritualiteit op te gee. En daarom ‘n uitspraak soos “Ek is nie godsdienstig nie maar spiritueel.” Want sien, godsdiens vra van jou om iets buite jouself te gaan soek. Deur die eeue is daar mense en groepe wat oortuig was hulle het dié iets gevind. Dan is daar reëls en dogmas vasgelê vir almal – om die iets wat gevind is, te aanbid. Daardie iets is God genoem en elkeen moes daardie spesifieke verstaan van God bely en onderhou. Jy was in of jy was uit!

Godsdiens is dus ‘n geslote sisteem. Sodoende word die hele lewe en sin vasgevang binne die rituele, seremonies, simbole en verstaan van ‘n spesifieke godsdiens.

Spiritualiteit aan die ander kant, is ‘n soeke na waarheid nie buite jouself nie, maar ‘n soeke binne jouself.

Dis ook nie net ‘n filosofie met ‘n klomp reëls nie, dit is meer van ‘n belewenis. Dis ‘n misterieuse ervaring, nie ‘n universele waarheid nie. Dis ook nie ‘n doel op sigself soos godsdiens nie. Dis nie ‘n doelwit wat jy kan bereik of ‘n eindpunt waarby jy kan aankom nie. Dis ‘n voortdurende reis.

Dit is soos ‘n kunstenaar wat skep. Geen enkele skepping van ‘n kunstenaar is sy of haar finale werk nie. Elke nuwe kunsstuk verteenwoordig die kunstenaar se groei en transformasie. Ram Dass het spiritualiteit beskrywe as so ‘n voortdurende proses van transformasie. Hy verwoord dit as volg: “Everything in your life is there as a vehicle for your transformation. Use it!” Spiritualiteit is dus in wese die proses van selfontdekking en groei. Spiritualiteit is oop.

Die reis is na binne, die enigste reis. “The only journey is the one within,” sê Rainer Maria Rilke. So, wanneer begin jou reis na binne?

Laat Steve Jobs se woorde vir jou ‘n rigtingwyser wees: “Your time is limited, so don’t waste it living someone else’s life. Don’t be trapped by dogma – which is living with the results of other people’s thinking. Don’t let the noise of others’ opinions drown out your own inner voice. And most important, have the courage to follow your heart and intuition.”