jy is die weggooi hond
wat moedeloos-alleen
die straat af draf
en hees-moeg
vir die maan bly blaf
– depressie
Met hierdie gedig van my, probeer ek iets verwoord van die intense gevoelens van hopeloosheid, alleenheid en hartseer wat depressie met dit saambring. Die rede hoekom ek hieroor skryf is omdat ek die laaste tyd soveel mense sien en begelei wat hiermee sukkel.
Mense wat baklei teen die “weggooi hond” in hulle eie lewens. ‘n Hond wat ongenaakbaar aanhoudend bly blaf.
Depressie het natuurlik nie net een oorsaak nie, dit wissel van genetiese oorerwing, hormonale faktore, chemiese wanbalans tot by die belewenis van traumatise gebeure en omstandighede, verlies en dood, chroniese stres, finansiële en verhoudings onstabiliteit. Net om ‘n paar oorsake te noem.
Die oorsake is wel belangrik, maar hoe jy dit daagliks gaan hanteer is waar die oplossings te vinde is. Sekerlik daarom dat dit so belangrik is dat mense wat daarmee sukkel, nie stil moet bly nie, maar eerlik daaroor moet praat.
Dit op sigself help nie net die depressielyer self nie, maar help ook die vele ander wat daarmee in die geheim worstel.
Jy sal nie glo hoe belangrik dit is om met iemand hierdie donker gevoelens te deel nie. Dit is ‘n erkende feit dat om te praat oor wat jou pla, insig bring en jou ligter laat voel.
Daar is natuurlik heelwat wonderlike mense daarbuite wat gespesialiseer is om jou te kan help. So ‘n iemand (in Pretoria) is dr. Rina Hyams, sy is ‘n wonderlike eerste stop. Kontak gerus haar spreekkamers by 0123485245. Nog so ‘n persoon is die sielkundige Sadie Fourie, kontak haar by 0129933478. En ook Francois Smit by frannic@mweb.co.za.
Daar is natuurlik baie sulke mense met kennis en die hart om te kan help. My raad is gaan klop aan.
Indien jy nog huiwerig of skepties of bang is, onthou net dat geen behandeling werk oornag nie, en enige medikasie en antidepressante het gewoonlik ‘n paar weke nodig om te begin werk.
As jy egter na ‘n paar weke op antidepressante nie beter voel nie, bespreek dit met jou dokter. Hy of sy kan ‘n ander antidepressant of medikasie voorskryf wat miskien beter vir jou sal werk.
Maar dit is net deel van die suksesvolle behandeling van depressie. Uiteindelik is dit nie net te vinde in medikasie en terapie nie. As jy nie ‘n lewenstyl verandering maak nie, gaan ook dit oor tyd nie meer so effektief wees nie.
Alhoewel dit ‘n groot deel uitmaak van gesond word, moet dit gekomplimenteer word – vir langtermyn sukses – met ‘n gesonde en gefokuste lewe.
Hiermee verwys ek natuurlik na hoe jy elke dag lewe, wat jy elke dag dink en doen. Ek vermoed dit is wat Hermann Hesse probeer sê het met: “Only the ideas that we really live have any value.”
Nou soos dit al seker bekend is, is ek ‘n groot voorstander van ‘n eenvoudiger en stadiger lewe. Want dit bring nie net rustigheid en diepte terug in jou lewe nie, dit laat jou ook ligter voel.
Dink weer ‘n slag na oor wat vir jou belangrik is en stel liewer kleiner, meer realistiese doelwitte vir jouself. Doen een ding op ‘n slag eerder as om te probeer om ‘n klomp dinge te doen. Jy kan ook groot planne en projekte, een tree op ‘n slag benader, alles hoef nie dadelik te gebeur nie. En moenie bang wees om nee te sê of om hulp te vra nie. En te leer delegeer. Wanneer jy beter voel, kan jy weer vir ander help.
Dit is ook hoekom genoeg slaap so belangrik is. Slaap in jou bed, moenie bly lê as jy nie aan die slaap kan raak nie. En moenie in jou bed sit en werk nie, veral nie op jou rekenaar nie. Die slaapkamer moet ‘n plek wees van ontspanning en rus, nie ‘n slagveld nie. As jy dus sukkel om te slaap, staan eerder op en gaan werk of lees totdat jy dan vaak begin voel. Nog ‘n wenk is, volg elke aand dieselfde roetine voor jy gaan slaap. Jou brein en liggaam sal hierdie roetine met slaap en ontspanning begin assosieer.
Moet ook nie enige stimulante soos koffie drink net voordat jy gaan slaap nie. Bly ook weg van alkohol direk voor jy gaan slaap, aangesien dit gewoonlik nie tot ‘n goeie nagrus lei nie. Moet ook nie te naby aan jou slaaptyd eet nie.
Meditasie is ‘n goeie idee om eers af te skakel voordat jy bed toe gaan. So ook ‘n warm bad of stort, voor slapenstyd. Hou ‘n notaboek langs jou bed en skryf enige bekommernisse neer wat jy mag hê, voordat jy probeer om aan die slaap te raak.
Maak seker jou slaapkamer is gemaklik, donker en stil. En laastens, staan elke oggend dieselfde tyd op.
So gepraat van meditasie, selfs net 5 minute twee keer per dag, sal jou radikaal help om angstigheid en spanning te verminder. Probeer om ‘n plekkie te kry waar jy elke dag vir ‘n paar minute kan stil sit. Sit regop, voete plat op die grond. Haal diep en egalig asem. Tel jou asemhalings, deur op elke in-asem van 1 tot 10 te tel en dan weer van 10 tot 1. Herhaal dit ‘n paar keer. Dit is so eenvoudig soos dit.
Hiermee saam is die volgende ook goeie dinge om deel te maak van jou daaglikse program. Stap of oefen en let op hoeveel jy drink.
Oefening help met die afskeiding van endorfiene. Hierdie hormone is wat jou goed laat voel. Al gaan stap jy net om die blok. Maar bly aan die beweeg. Dit is wel so dat wanneer jy regtig depressief voel, dit baie moeilik is om jouself te motiveer om selfs jou tande te borsel, wat nog te sê van stap. Maar al kry jy dit net reg om geleidelik (selfs 10 minute is aanvanklik genoeg) te kan stap sal die verskil wat dit maak, jou stadig maar seker, beter laat voel.
En let ook op jou alkohol gebruik. Dit kan die balans van brein-chemikalieë of die fisiese breinstruktuur verander. Party antidepressante kan jou lomerig laat voel en alkohol kan jou dalk net erger laat voel. Alkohol kan ook die werking van sekere antidepressante vertraag of teenwerk.
‘n Kalmer, eenvoudiger en gelukkiger lewe is nie net ‘n ideal nie, dit is ‘n moontlikheid. Maar dan moet jy kies vir minder eerder as meer, stadiger eerder as vinniger en dieper eerder as vlakker.
Hou op uitstel, praat vandag met iemand wat jy kan vertrou.
Recent Comments