Bestaan daar regtig iets soos die Duiwel? Indien wel, waar kom hy vandaan? Hoe lyk hy? Waar woon hy? Is daar iets soos die Hel? En Demone? Moet hy gevrees word of is hy net ‘n bangmaakstorie vir bygelowige mense?

Om die bogenoemde vrae sinvol te kan antwoord is dit nodig om te gaan kyk waar hierdie idée van ‘n Duiwel of Satan vandaan kom. Want interessant genoeg is geloof in die bestaan van die Duiwel nie baie oud nie. In vroeë antieke tye het mense nie so iets geken nie. Selfs in die Bybel, kom die ‘duiwel’ as ‘n verpersoonliking van die bose, eers in die Nuwe Testament as rolspeler na vore.

Dit is duidelik dat die ‘duiwel’ of ‘bose’ deur die loop van ongeveer tien eeue se geskiedenis ontwikkel het. Verskillende gemeenskappe het verskillende mites geskep rondom hulle verstaan van hulle sigbare wêreld en die onsigbare wêreld. Hierdie sienings het nie staties gebly nie, dit het voortdurend verander, namate sosio-kulturele omstandighede verander het. Die verandering gaan vandag nog voort. Dit sluit in die interpretasie van goed en kwaad, hemel en hel, God en die Duiwel.

Die premoderne wêreldbeeld en die kulture van byvoorbeeld die Ou Nabye Ooste was monisties, dit beteken die heelal is gesien as ‘n samehangende sisteem waarin alles, gode en mens, goed en kwaad deel was van ‘n drieverdieping wêreld met ‘n vaste orde. Daar was geen kosmiese stryd tussen lig en duisternis nie, en daar was ook nie twee stelle gode wat tot in alle ewigheid met mekaar baklei nie.

Natuurrampe en teenspoed was nie as gevolg van ‘n stryd tussen opponerende magte gesien nie, nee, die gode het in hulle persoonlikhede goed en sleg saam gedra, net soos mense met hulle goeie en slegte kante. Die oorspronklike klassieke betekenis van die bose, was die siening dat die gode mense sou versoek, beproef en straf maar ook dat hulle sal vergewe, seën en genade betoon. Die gode was dus as beide positief en negatief gesien, dit het van die mense se optredes afgehang of die gode hulle beloon of straf.

‘n Goeie voorbeeld hiervan kan vandag nog gesien word in Egipte by die tempels waar die gode en godinne uitgebeeld word. Die godin “Mut” se twee nature kan baie duidelik gesien word: moeder en verleidster. So ook die god “Set” (die oorlog god): venietiger en beskermer.

Die Griekse god “Pan” wat uit die 4de eeu dateer, was half mens en half dier (bok onderlyf). Hy’s die god van vrugbaarheid en in die tempel waar hy aanbid was, het sy volgelinge vrugbaarheids rites beoefen maar daar is ook seks orgies gehou en dronkenskap partytjies, want “Pan” was beide vereer vir vrugbaarheid sowel as plesier en passie.

In die Hindoe geloof word “Kali” (godin van vernietiging) en “Shiva” (god van oorlog) albei aanbid as gode wat oorwinning kan gee sowel as dit wegneem. In die Judaïstiese tradisie is siekte, rampe en dood nie as Jahwe se teenstanders gesien nie. Om die waarheid te sê, hierdie toestande is kenmerkend van die verskyning van Jahwe en gebeur vele kere op Jahwe se bevel. Tydens koning Agab se regering word die gees van die Here ook op ‘n stadium ‘n ‘leuengees’ deur die profete genoem (sien 1 Kon. 22:22-23).

In hierdie tye was die gode doodgewoon personifikasies van al die onverklaarbare, aaklige en wrede gebeure, soos die noodlot, terugslae, siektes en rampe, maar veral ook die dood. Dinge waaraan die antieke mens daagliks blootgestel was en moes probeer verstaan en verwerk.

Interessant genoeg was ook nie dit wat na die dood gebeur het, gesien as goed of sleg nie. Daar is eenvoudig geglo dat mense se dade beloon of gestraf word – tydens hulle lewe hier op aarde. As jy sterf, gaan jy, ongeag wat jy gedoen het, slegs na een plek toe – die Onderwêreld. In sekere tradisies is geglo “Ereshkigal” was hier die heerseres, en sy was nie gesien as noodwendig boos nie.

Soos met alle dinge het hierdie verstaan van die werklikheid stadig maar seker begin verander. Nuwe oorheersers het hulle eie gode, godsdienstige gebruike en rituele saam gebring. Onder byvoorbeeld die Persiese heerskappy, sou die monistiese wêreldbeeld van die Ou Nabye Ooste, Israel inkluis, radikaal verander.

Die Persiese godsdiens het die leer van Zoroaster (Zarathustra) nagevolg en dit was ‘n dualistiese beeld van die wêreld. Volgens hulle was daar twee opponerende magte in die wêreld, wat in ‘n voortdurende stryd met mekaar was – die mag van die goeie en die mag van die bose.

Met hierdie dualistiese geloof het hulle nou goeie en slegte magte geskei. En so word die bose as ‘n opponerende mag gebore. Want as die skeppergod van hemel en aarde die een is waaruit alles wat goed en mooi is kom, waar kom die bose dan vandaan? Want niemand kon stry met die realiteit van die teenwoordigheid van wrede, slegte en bose dinge nie. Dus, ironies genoeg, het die wegbeweeg van ‘n veelgodedom na net een God die saadjie gelê vir die Duiwel se bestaan.

Die skepper en goeie God was volgens die Zoroastriane “Ahura Mazda”. Onder hom was ‘n leërskare van engele wat in rangordes ingedeel was, en wat sy opdragte getrou uitvoer het. “Ahura Mazda” moes egter ‘n teenstander hê, en dit kom in die vorm van die bose “Ariman”. Hy het natuurlik sy eie leërskare van demone en tesame is hulle verantwoordelik vir alles wat sleg en verkeerd is.

Die twee is in ‘n kosmiese stryd gewikkel. Hierdie stryd is egter nie beperk tot die onsigbare wêreld nie. Op die aarde het elkeen sy volgelinge en hulle deel in hierdie stryd tussen goed en sleg. Die volgelinge van die goeie se lojaliteit en getrouheid sou aan die einde van hierdie kosmiese stryd beloon word met die ewige lewe. In daardie tye sal “Ahura Mazda” die wat reeds dood is uit die dood laat opstaan en saam met die lewendes, vir ewig saam met hom in die hemel laat woon. “Ariman” se volgelinge sal natuurlik die straf van ‘n ewige pynlike Hel kry.

Alhoewel daar eers ‘n paar jaar sou verloop voordat hierdie dualisme die hoof verstaan van die antieke mens sou word, is in hierdie tyd die eerste saadjie vir goed en kwaad, hemel en hel, ‘n hiernamaals, ‘n opstanding uit dood en apokaliptiese eindtye, gesaai.

Wanneer die tyd van die Bybel se Nuwe Testament wel aanbreek, is die Joodse dualisme reeds gevestig. En so word uit vele verskillende tradisies en kulture ‘n nuwe mitiese figuur gebore. As daar net gekyk word na die visuele uitbeelding van die Duiwel kan die verskillende invloede van antieke gode maklik gesien word. Die horings kom van “Baal”, die hoewe as voete kom van “Pan”, sy vurk van “Neptunus” en sy vurk-stert van “Set”.

In die Bybel se vier evangelies kan jy die Duiwel nou agter elke bos uitskop. En die duiwel se helpers (daimones) wat ook genoem word ‘bose’ of ‘onrein geeste’ word nou verantwoordelik gehou vir allerlei vorms van siektes soos byvoorbeeld stomheid (Markus 1:32), blindheid (Matteus 9:32), epilepsie (Matteus 12:22) en kranksinnigheid (Markus 5:15) om net ‘n paar te noem.

Daarom as Jesus op die toneel verskyn is een van die bewyse dat hy die seun van God is, sy gesag om duiwels uit te dryf. Hierdie gesag illustreer dan dat die koninkryk van die duisternis en die koninkryk van lig in ‘n kosmiese stryd is, dieselfde stryd waarin die Zoroastriane ook glo het. Lees gerus die boek Openbaring in die Bybel. Hierdie kosmiese stryd word hier in mitologiese taal tot in die fynste detail beskrywe, met drake en monsters ingesluit.

Vandag egter kan ons nie meer na die wêreld kyk deur die oë van die antieke, voorwetenskaplike en bygelowige mens nie. Ons weet dat drake, monsters, serafs, swaarde met kragte, pratende diere, ruiters op wit perde en half mens en half dier demone, nog net in verhale soos The Lord of the Rings e.a. voortleef.

Die magiese wêreldbeeld wat vanuit die premoderne tyd kom is realiteits-vreemd. Juis hierdie verstaan van die werklikheid, dat vir elke gebeure of gebrek aan gebeure ‘n verklaring gebied kan word van iemand (God of Duiwel) wat verantwoordelik is, is eenvoudig nie meer sinvol nie. Daarom as gelowiges in moderne tye uitsprake maak soos die onlangse NG Dominee wat demone en die duiwel beveg of oom Angus wat preek dat die rede vir Suid-Afrika se geweld en probleme toegeskryf word aan die Duiwel se werking, dit mense nie regtig help nie, maar eerder mense deurmekaar maak en dan skisofrenies laat omgaan met die werklikheid.

Hiermee saam is daar vele Christelike kerke besig om mense sogenaamd te genees deur onrein geeste uit te dryf, so asof siekte nog (soos die antieke mense geglo het) ‘n demoon se werking is. Dit is presies wat gebeur as mense nie in ag neem dat mitologie nie gelees kan word as wetenskap of as geskiedenis nie. Want as mense dit doen word simbole feite, en iets wat as ‘n metafoor bedoel was, word letterlik geïnterpreteer.

Dan kry ons mense wat ander doodmaak in die naam van hulle geloof, mense wat met gekaapte vliegtuie in geboue vasvlieg, en mense wat in vrees lewe vir onsigbare magte wat skuil in hulle persiese matte of oosterse beelde en kunswerke. Afrika-maskers dra dan vloeke in hulle saam en natuurrampe word gesien as God se straf.

Mense vandag kan nie meer wag om nuut te begin dink oor wat eietydse spiritualiteit beteken nie. Dit gaan nie meer oor die hemel, en hoe om dáár te kom nie. Dit gaan oor die hier en nou, en hoe om hiér sinvol te leef. John Hunt sê: “Our understanding of God today needs to be bigger as much as our picture of the Universe is bigger.”

Ons het nodig om eietydse simbole en metafore te kry. Die bewyse tot ons beskikking wys op ‘n ronde aarde met geen bo-hemel of onder-hel nie. Hemel en hel is dus slegs metafore om te praat oor die transendente. Daarom is die Duiwel en die Hel veel eerder ‘n metafoor wat iets sê van verwerping, pyn, verlies, en ego. En is die Hel nie ‘n fisiese plek buite ons werklikheid nie of die Duiwel ‘n fisiese wese nie. Dit is metafore vir ons donkerkant en die lewe se donkerkant.

Mense wat vasval in hierdie donkerkant van die lewe beleef verseker baie intense pyn – emosioneel en fisies. Dink maar net aan iemand wat verslaaf is aan dwelms. Dit is werklik en dit is hel! Dit is ‘n toestand van totale hopeloosheid. Simbolies sê dit vir my dat met enige emosionele toestand wat jy beleef en wat jou sonder hoop laat, jy dan in die hel is.

Die hemel aan die ander kant, is ‘n simbool van liefde. En die twee sterkste kragte is nie God en die Duiwel nie, nee, die twee sterkste kragte op aarde is vrees en liefde. Kies jy om vanuit vrees te leef word jy ‘n slagoffer. Kies jy om vanuit liefde te leef, word die lewe ‘n avontuur. Selfs binne ‘n situasie waar daar hartseer en verlies is.

Ons uitdaging in hierdie tye is om te leer uit die verlede, bewustelik en sinvol te leef in die hede en om kreatief te skep vir die toekoms. Presies wat Lucretius (55 vC) in een van sy gedigte geskrywe het, De Rerum Natura (‘Die aard van dinge’): “Die weg na die lig loop langs ‘n groeiende begrip van die wetenskap.”

Ons leef nou, hier. Die dualisme wat die bose ‘n wese buite ons gemaak het, gaan nie meer af nie. Kyk in die spieël en sien in jouself goed en sleg as een realiteit. Kies om jou donkerkant te integreer en jou ligtekant te laat skyn. Die kosmiese stryd is nie daar bo nie maar hier binne. Want jy is deel van die kosmos en die kosmos is jy. As daar ‘n duiwel is, is dit jy en as daar ‘n God is, is dit jy. Ons is sterstof en tot sterstof sal ons terugkeer. So, de hel met die Duiwel!