Lady Gaga is ‘n jong vrou, tans in haar laat 20’s. En sy is al klaar een van die magtigste persone in die vermaaklikheidswêreld. En hoe vreemder haar klere of hoe belagliker sy lyk, hoe vinniger groei haar aanhang. Sy is op Twitter nommer een, met miljoene wat haar volg en op Facebook het sy ongeveer 35 miljoen aanhangers.

En alhoewel haar vreemde persona my min of meer koud laat, is ek tog gefassineer deur haar slim besigheids-strategie en veral haar vermoë om die een treffer na die ander die lig te laat sien. Hiermee saam is sy ook vinnig besig om een van die wêreld se mees uitgesproke en omstrede kampvegters vir menseregte (veral vroue- en gay regte) te word. Hoewel ek moet erken dat ek nie altyd mooi weet wat sy probeer sê nie, sê sy wat sy sê sonder vrees.

Blykbaar het haar veel besproke vleis-rok juis gewys op die ontmensliking van die onderdruktes. Sy’t gesê sy wou wys dat mense nes stukke vleis hanteer word. Wel, ek sou dit anders gesê het, maar dan het ek natuurlik nie miljoene mense wat na my luister of wil luister nie.

Maar verseker voel nie almal hoe ‘n warm gevoel van inspirasie oor hulle vloei, as hulle haar boodskap hoor nie. Sy maak wêreldwyd veral Christene baie kwaad en veral vanuit haar eie kerk, die Katolieke Kerk word sy gekruisig. Volgens hulle het Gaga, nes Madonna, hoewel hulle Katoliek grootgeword het, nou heeltemal die spoor byster geraak.

Born this Way“, een van Lady Gaga se groot treffers, is byvoorbeeld vroeër die jaar in Maleisië verbied nadat uitsaaiers geweier het om dit te speel omdat dit glo gay verhoudings aanmoedig. En “Judas“, ‘n treffersnit op dieselfde album is geboikot deur Christen-groepe, en radiostasies is onder druk geplaas om dit nie te speel nie.

Hier in Suid-Afrika is byvoorbeeld, vroeg laas jaar ‘n ketting-e-pos deur “besorgde Christene” versprei, waarin sy as ‘n Satanis en demonies besete uitgebeeld is. Die e-pos vaar in detail uit oor alles wat sy verkeerd doen en sluit volledige interpretasies in van hoe boos haar musiek is. Maar soos dit nou maar gaan binne die Christendom, stem meeste nie met mekaar saam oor wie reg is en wie nie. En daarom verklaar een groep gelowiges dat Gaga se lirieke iets beteken wat ‘n ander groep oortuig is eintlik iets anders beteken.

Hierdie verskille kom dan juis ook na vore in die fenomeen wat ons Lady Gaga noem. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is, toe ‘n onbekende man by een van Lady Gaga se optredes betoog het en vir die gehoor “get out of hell free”-kaartjies uitgedeel het. Op ‘n stadium het Gaga hom persoonlik gekonfronteer, waarop hy gesê het haar perverse en homoseksuele boodskap kom reguit van Lucifer af. Sy sê toe vir hom dat sy verkondig liefde en vergifnis, ‘n boodskap wat sy uit die Bybel kry en waarvan sy geleer het in haar 13 jaar in ‘n Katolieke skool. Die man antwoord haar toe dat dit juis haar grootste probleem is, naamlik dat sy in ‘n valse kerk grootgeword het.

Nou ja, wat sal ek sê … lyk my almal weet presies wie God is en wat God sê en wat God se wil is. En behalwe vir God, weet meeste gelowiges blykbaar presies wie en wat die bose is; die duiwel en wie die duiwel se kinders is. En hulle weet dit omdat hulle so van kleinsaf geleer was deur hulle ouers, kultuur en (enigste ware) kerk.

Natuurlik weet ons dat niemand gebore word met so ‘n sekerheid nie, dit word aangegee deur die sekeres in hulle opvoeding. Want daar is nie iets soos ‘n Christen- of Moslem-baba nie, net Christen of Moslem ouers! Dit is tog duidelik dat Christen-kinders ander goed geleer word as Moslem-kinders, en albei groepe word groot met die onwrikbare geloof dat net hulle reg is. En ander is nie net verkeerd nie, nee hulle is boos; kinders van die duiwel.

Selfs tussen Christene (soos met die man by Lady Gaga se konsert) glo Rooms-Katolieke ander dinge as wat Protestante, of Episkopaliërs, Kwakers of Mormone glo. Die enigste ooreenkoms tussen hulle almal, is dat elkeen absoluut oortuig is net hulle het die waarheid beet. Maar ironies genoeg glo hulle verskillende dinge, erger nog dit is teenoorgestelde dinge. Presies wat geïllustreer word deur die gesprek tussen twee groot Christen stryders; John Wesley wat vir George Whitefield op ‘n keer sê, “Your God is my devil”.

Dit is ‘n baie interessante verskynsel, die hele populêre idee rondom wie die duiwel is en veral die sogenaamde “duiwelaanbidders”. Die konsep van “duiwelsaanbidding” of Satanisme het net soos die vampier mites, in die Middeleeue baie aandag in Europa gekry. Middeleeuse of Gotiese Satanisme kom neer op die aanbidding van die duiwel (natuurlik gedefinieer deur die Christendom).

Daar was geglo dat die Sataniste baie ou rituele gebruik het soos menslike offers, die breek van kruise, die uitspreek van vloeke of toorformules en om mense se siel aan die duiwel te verkoop. As gevolg van die vrees en bygeloof is letterlik duisende “duiwelsaanbidders” of hekse lewend verbrand. Die uitsprake van die Inkwisisie en die hekse-verbranding in Europa en Amerika gedurende die 16e en 17e eeu is ‘n hartseer en bloedige getuie hiervan.

Net soos met vampierlegendes is daar ook geen historiese bewyse dat daar ooit Sataniste was nie. Die oorgrote aantal beskrywings en inligting oor duiwelaanbidding was die fantasieproduk van Christelike vertellers en skrywers. Selfs vandag nog word meer as 90% van die Satanistiese webbladsye op die internet geplaas, onderhou en bestuur deur Christelike organisasies, o.a. om as afskrikmiddel te dien teen nuuskieriges.

Die eksentrieke Lady Gaga is daarom tans een van die bekendste voorbeelde van Christene se ‘bewys’ vir die bestaan van Satanisme. Daar word met baie sekerheid uitgewys dat haar kleredrag, haarstyle, simboliek en lirieke in haar musiek en videos dui op haar “duiwelaanbiddery”. Dit laat my glimlaggend terug dink aan my jong dae, toe geglo is as jy die rockgroep Queen se plate agteruit speel dit duidelike Satanistiese boodskappe bevat. Vandag word dié einste ‘bose’ groep beskou as een van die beste rockgroepe van alle tye.

In antieke tye was veral Sataniste, towenaars, hekse en vampiere gesien as die “skuldiges” wat siektes, misoeste, natuurrampe en tragedies veroorsaak het. ‘n Goeie voorbeeld van hierdie skuldverplasing is die Joodse sekte van die Essene. Hulle het al eeue voor Christus se geboorte begin om ander Joodse sektes, wat met hulle verskil, as “donker magte” te beskryf, terwyl hulle hulself as die “Kinders van die lig” beskou het.

Die vroeë Christene het hierdie benadering vinnig oorgeneem en enigiemand wat anders as hulle geglo het of ander kulturele gewoontes beoefen het is vinnig as demonies en boos uitgemaak. Tydens die Verligting van die 18de eeu het van die vrydenkende mense van daardie tye teruggeslaan en so het o.a. die moderne verstaan van Satanisme, as ‘n nuwe filosofiese rigting, ontstaan. Dit was eintlik net ‘n weerstand teen die kerk se dogma van sonde. Die filosofie wou nuwe betekenis gee aan vryheid en vrye wil.

Wat my egter baie fassineer is dat mense onmiddellik spookstories en vampierstories kan sien as tradisie- en bygelowige stories. Maar as dit kom by Satanisme, dan geld dieselfde logika duidelik nie.

Ek meen, al glo biljoene mense iets wat oor ‘n tydperk van eeue oorgelewer is, maak dit tog nie die storie waar of onwaar nie. Dink maar aan antieke mense se geloof in ‘n plat aarde. Alhoewel geslagte en geslagte dit geglo het, weet ons tog vandag dit is nie waar nie! Is dit nie dan waar van alle mites nie?

Mites word natuurlik makliker as feitlike waarheid gesien as dit van kleinsaf aangeleer is. Ek noem sulke mites “tradisie stories”. Tradisie beteken vir my: stories wat van grootouer na ouer na kind oorgedra word. Of dit nou mondelings of deur boeke oorvertel is, die punt is dit kom oor die eeue heen. En soos met enige stories en mites, ontstaan meeste tradisionele geloofsoortuigings dikwels uit feitlik niks. Miskien maak iemand dit oorspronklik op, of dalk weens ‘n misverstand word daar ‘n bygelowige verklaring vir iets gegee, soos die stories oor gode soos ‘Thor’ en donderweer, of ‘Zeus’ en die aardse maagd wat hy swanger gemaak het, of iets soos Sataniste wat ‘Black magic’ beoefen omdat daar ‘n swak oes was of iemand siek geword het.

Tradisie stories se oordrag-krag lê juis by die oordra van die inhoud op ‘n vroeë ouderdom. Want ‘n Kind se brein is soos ‘n spons wat alles wat aangebied word op onkritiese wyse opsuig. Dis tog duidelik dat ons nie van ‘n kind kan verwag om goeie en nuttige tradisionele inligting te onderskei van swak en nuttelose tradisionele stories nie.

Dit is jammer, maar kindertjies glo gewoonlik alles wat volwassenes hulle vertel, of dit nou waar of vals is, reg of verkeerd. Natuurlik is baie van dit wat grootmense kinders leer wel gegrond op bewyse; soos oppas vir vreemdelinge, moenie sommer enigiets in jou mond druk nie, en dit is gevaarlik om met vuur te speel. Maar as iets daarvan gegrond is in bygeloof of mite; is daar niks wat kinders keer om dit ook te glo nie.

Dink maar aan die mites van die Paashaas, Kersvader, tandmuis en ook vampiere en drake. Maar sekere mites word so goed geïntegreer in die kultuur en sosiale leefwêreld, dat dit onkrities behou word as feitlike waarheid. Dink maar aan die geloof van vele dat o.a. Maria ‘n maagd was by Jesus se geboorte, of geloof dat water in wyn kan verander, of ‘n donkie wat kan praat – nie een van hierdie geloofsoortuigings kan enigsins gestaaf word deur enige goeie bewyse nie. Tog glo biljoene mense daarin en leer hulle dit vir hulle kinders.

Die groot probleem met hierdie oordrag van tradisie stories aan kinders is dat dit gepaard gaan met gesag. Gesag (outoriteit), as ‘n rede om iets te glo, beteken om iets te glo omdat jy vertel word om dit te glo, deur iemand wat belangrik is vir jou. In die Rooms-Katolieke kerk is die Pous die belangrikste persoon, en mense glo hy moet reg wees net omdat hy die Pous is. In een vertakking van die Islam is die belangrikes “Ajatollahs.” En heelwat jong Moslem gelowiges is bereid om te sterf, bloot omdat die “Ajatollahs” in ‘n land ver ver van hul eie, hulle vertel om dit te doen. Dink maar net aan onlangse Fatwa’s (godsdienstige dekrete) en Jihad (heilige oorlog) wat baie onskuldige bloedvergieting veroorsaak.

Maar wanneer kinders grootword, wat doen hulle? Wel, hopelik begin hulle vir hulle self dink. En met self-dink bedoel ek logiese redenering en die baseer van keuses op grondige bewyse. En in baie gevalle gebeur dit wel. Hiervan is die post-moderne wêreldbeeld ‘n goeie voorbeeld. Vanuit hierdie wêreldbeeld kan ons verstaan dat daar ‘n tyd en plek was toe mense sekere stories en mites as waarheid geglo het. Maar ons weet tog dat sodra jy “groot” word die dinge van ‘n kind agter gelaat word.

En dit beteken dat ‘n innerlike gevoel, oortuiging of innerlike wete nie noodwendig voldoende bewyse is nie. Ons het almal van tyd tot tyd gevoelens in ons binneste wat soms reg bewys word en soms verkeerd. In elk geval het verskillende mense teenoorgestelde gevoelens, wat dit moeilik maak om te besluit wie se gevoel reg is. Volwassenheid is daarom geskoei op kritiese selfdenke. Om nie net op hoorsê te gaan nie maar om vir jouself seker te maak.

Miskien is Lady Gaga daarom juis ‘n goeie geleentheid om met ons kinders oor die verskille tussen fantasie en realiteit te praat. Om hulle te help om nie onkrities en bygelowig om te gaan met hulle werklikheid nie. Dat kritiese self denke beide kop en hart integreer, en sodoende ‘n gebalanseerde mens na vore bring. Iemand wat self kan dink.

Ek het geen twyfel nie dat van nou tot in November-Desember wanneer Lady Gaga hier gaan optree, daar baie energie deur ondenkende Christene ingesit gaan word om mense en veral ons kinders te waarsku teen die bose en Satanistiese Lady Gaga. In kerke en skole regoor die land sal dit gons oor die bose.

Indien ons ons kinders kan help om gebalanseerd, oop, krities en vrydenkend hierdie saak te benader, kan ons dalk net ‘n nuwe vryer generasie grootmaak.

Dink maar net hoeveel nader ons aan vrede sou kom as selfdenke, verdraagsaamheid en harmonie ons belangriker lewensbeginsels kon word. Miskien is juis dit wat Lady Gaga ons leer.