In laas week ontvang ek ‘n e-pos van ‘n “besorgde Christen.” Met groot erns word ons gewaarsku dat ons nie op die regte pad is nie, ons het valse leringe begin aanhang en ken nie meer die waarheid nie. Natuurlik volgens hom die enigste waarheid. Hy eindig sy skrywe af met:
“Ek het vir myself uitgemaak dat daar drie dinge is wat ek as bewyse sien, dat die Christelike geloof die enigste ware geloof is:
1. DIE PROFESIEË. Alle profesieë in die OT oor Christus het in vervulling gegaan. Baie van die profesieë in die NT ook, ander moet nog in die toekoms gebeur.
2. MUSIEK. Christelike musiek is welluidend en harmonieus. Die ander afgode se ouens se “musiek” maak jou ore seer (by wyse van spreke), só sleg is dié gekerm.
3. DIE MARTELARE. Hoeveel Christene oor die eeue is nie gemartel/doodgemaak nie, vanaf 2000 jaar gelede, in die Middeleeue, ja tot vandag toe (dink maar aan ISIS, Taliban, Werner Groenewald, Pierre Korkie ens.), almal mense wat bereid was/is OM HULLE LEWE TE GEE ter wille van die Evangelie, eerder as om dit te verloën! (Hoe lyk dit in 2018 met geloofsvryheid in bv. Soedan, Afghanistan, Noord-Korea, om maar net ‘n paar lande te noem).”
Na die lees van die e-pos het die woorde van die Duitse skrywer Goethe by my opgekom: “Niks is so skrikwekkend as onkunde in aksie nie.”
Wat my egter die meeste pla van hierdie tipe denke is dat dit so maklik gekoppel word aan sogenaamde ‘bewyse’. Ek meen dit is een ding om te sê “dit is wat ek glo!” maar ‘n totaal ander ding om te sê ek kan dit bewys as die enigste waarheid.
Om iets te wil glo is jou keuse. ‘n Keuse gegrond in jou behoefte om te glo in iets. Om iewers te behoort en om op ‘n sekere manier te leef. Alles goed en wel, maar om dit te probeer koppel aan die wetenskaplike term ‘bewysbaar’ is nie net naïef nie, dit is ongelukkig ook oneerlik.
Kyk nou maar na die skrywer van die e-pos se nommer 3. Is die feit dat iemand bereid is om te sterf vir iets, werklik die bewys dat daardie ‘iets’ bestaan, of is dit net die bewys dat die martelaar oortuig is van sy of haar geloof in daardie iets. Kom ek verduidelik dit so, as iemand bereid is om te sterf vir die voortbestaan van ‘feetjies’ in hulle tuin, beteken hierdie aksie/offer dat daar werklik ‘feetjies’ bestaan, of wys dit net hoe opreg hulle glo en oortuig is dat daar wel ‘feetjies’ in hulle tuin is? Dit sê alles van hulle geloof, maar niks van die objek van hulle geloof nie.
Net so is die bestaan van die Christen Kerk wêreldwyd, ook nie die bewys dat God bestaan nie. Nee dit is slegs die bewys dat mense glo daar is ‘n God en dan die bewys dat mense graag hulself organiseer rondom sulke vaste oortuigings. Dit bewys dus nie God bestaan of bestaan nie, dit bewys slegs mense se behoefte om te glo, te aanbid en te behoort.
Om dus te skryf ‘bewyse’ is om te wys dat jy geen begrip vir die spelreëls van die wetenskap het nie. En dan wil ek nie eers probeer antwoord op die sogenaamde “drie bewyse” van die e-pos skrywer nie.
Die spel van die wetenskap moet gespeel word volgens die reëls van daardie spel. Vir die natuurwetenskappe is dit evidensie wat berus op (empiriese) toetsbaarheid, die vraag na objektiwiteit, kritiese distansie, en rasionaliteit. As jy dus die bestaan van God probeer bewys, oortree jy die grense van die empiriese en toetsbare. Maar net so ook indien jy sou wou bewys dat God nie bestaan nie. In albei gevalle maak jy jou skuldig aan onwetenskaplikheid.
Dis onwetenskaplik om te probeer bewys dat God bestaan of nie bestaan nie. Dit is ook net so onwetenskaplik om vanuit menslike ellende, lyding en natuurrampe te wil redeneer – selfs al is dit ‘n moeilike vraag – dat God nie bestaan nie, of dat dit die bewyse is van ‘n God wat straf.
Jy oortree die reëls vir die maak van uitsprake. Jy speel as’t ware onkant. Asof geloof die bestaan van God, al dan nie kan bewys. Dit kan nie.
In die e-pos, is nommer 1 se verwysing na die profesieë ongelukkig ‘n voorbeeld wat wys op die skrywer van die e-pos se onkunde op die ontstaansgeskiedenis en hoe die Ou Testament en Nuwe Testament in konteks gelees moet word. So ek laat dit eerder daar.
Die sogenaamde ‘bewys’ wat ek die meeste geniet het was nommer 2. “Christelike musiek is welluidend en harmonieus…” Weereens, dit is geen bewys van die Christen God nie, dit wys eerder op die skrywer se musieksmaak en natuurlik sy kultuur en wat hy as “welluidend en harmonieus” beleef. Sy sogenaamde bewys sê meer van hom en sy beperkinge as wat dit enigiets anders bewys.
Ek sou graag die skrywer se reaksie wou sien as hy na Hard Rock Christian Music van groepe soos ‘Disciple’ en ‘P.O.D’ moes luister. En ek wonder wat hy sou sê van Ludwig van Beethoven (baie van sy musiek is omskryf in kerkmusiek) wat nie noodwendig dieselfde as hy geglo het nie? Dit daar gelaat.
Kom ons maak minder “feitlike” uitsprake. Praat minder van bewyse en probeer minder ander oortuig om soos ons te dink en te glo.
Want dit is een ding om te glo jy is op die regte pad, dit is totaal ‘n ander ding om te glo net jou pad is die regte pad. Kom ons werk eerder daaraan om met respek en deernis teenoor mekaar te leef. Om die liefde en omgee waarvan Jesus gepraat het ‘n werklikheid te maak, eerder as om te probeer oortuig of te veroordeel.
Ek hou nogal van die Dalai Lama se verstaan: “There is no need for temples, no need for complicated philosophies. My brain and my heart are my temples; my philosophy is kindness.”
Recent Comments