Ek sit in ‘n koffiewinkel in die ooste van Pretoria, besig om ‘n lekker cappuccino te drink. Ek doen presies wat ek wil doen, en dit is om te skryf en te filosofeer. Alles voel reg in die wêreld.

Dit is ook ‘n pragtige somers-oggend en rondom my lyk dit of almal gelukkig is en besig is met presies dit waarmee hulle besig wil wees.

Weerskante van die koffiewinkel waar ek sit is daar juweliers-, klere- en kunswinkels wat net die nuutste en duurste modes vertoon. En ek sien mooi mense wat in en uit beweeg. Besigheid lyk goed.

Voor die koffiewinkel staan daar omtrent net nuwe motors, behalwe dalk vir een ou rooi Renault, maar selfs dié is nie ‘n goedkoop motor nie.

So, waarvan praat Henry David Thoreau as hy sê: “Most men lead lives of quiet desperation.” Of na wie verwys Boeddha as hy praat van mense wat “ly” (dukkha) en wie se lewens blykbaar onvervuld en onbevredigend is.

Duidelik praat hulle tog nie van die mooi, suksesvolle en laggende mense rondom my nie. Hulle verwys sekerlik uitsluitlik na die arm en onderdrukte mense ver van hier af.

Dalk nie heeltemal so ver van hier waar ek sit nie, want minder as 10 km van my, is daar swart plakkerskampe sonder riool en meeste ander basiese behoeftes. Maar dit eers daar gelaat – Thoreau en Boeddha verwys sekerlik nie na die mense rondom my nie.

Tog weet ons dat lyding orals teenwoordig is, ja selfs al is daar geen ooglopende uiterlike teken daarvan nie. Wie dra nie een of ander masker om dit wat werklik binne aangaan weg te steek nie?

Almal dra maskers. Ons glimlag as ons hartseer voel en ons jaag rond as ons minderwaardig voel. Ons koop nuwe klere, al het ons oor as genoeg in ons kaste, wanneer ons waardeloos voel en ons baklei om ons vrees te verberg.

Lyding is orals rondom ons, ongeag die uiterlike vertoon. En op ‘n dieper vlak weet ons dit. Seker daarom dat soveel mense ongelooflik baie emosionele energie spandeer om te verberg wat hulle eintlik voel en dink.

Dink maar net aan voor die hand liggende gevalle, soos waar mense ten spyte van rykdom, sukses en selfs jeug, van die diepste menslike lyding moontlik kan beleef – in die vorm van siekte.

Rondom my, minder as 10 minute se ry in enige rigting, is daar nie minder as vyf hospitale, hospice en vele privaat mediese praktyke, psigiaters en sielkundiges se kantore. Dit is iets wat ons tog weet is deel van die menslike kondisie, siekte hetsy liggaamlik of geestelik. Iets wat enige van ons enige tyd kan tref.

‘n Man ry oor sy kind in sy huis se oprit, ‘n vrou hoor sy het ‘n terminale kanker die week voor haar troue. ‘n Jong belowende atleet is in ‘n motorfiets ongelukkig en verloor sy been. ‘n Ma kry die slegte nuus dat haar pasgebore babatjie ‘n ongeneeslike siekte het en ‘n man in sy vyftigs hoor sy vrou wil van hom skei.

Niemand spring hierdie pyn en lyding vry nie, maak nie saak wie jy is of wat jy besit nie. Niemand nie.

Dink maar o.a. aan die ryk en bekende mense van ons wêreld. Hulle wat alles het wat die res van ons so begeer. Sien ons nie daagliks op TV hoe hulle – sport en rolprent sterre, politieke en geestelike leiers – deur skandale ontbloot word as net so weerloos soos die res van ons. Van dwelm en drank verslawing, seksverslawing, depressie tot vele sielkundige en persoonlikheid versteurings. Mense wat diep lyding beleef, ten spyte van ongelooflike talent, rykdom en aansien.

Hierdie toestand van dukkha lê egter dieper as net dit. Selfs al gaan dit tydelik goed met ‘n mens, bly meeste tog bewus van die onderliggende onbevredigende en onvervulde innerlike toestand. Nie waar nie?

Baie mense voel ontevrede oor byvoorbeeld, hulle voorkoms, is ongelukkig met hulle werk, voel onvervuld in hulle verhoudings en het diep teleurstelling om te verwerk. Almal sukkel met tye met gevoelens van minderwaardigheid, skuldgevoelens en selftwyfel.

Selfs vir buitengewoon bevoorregte en suksesvolle mense, is die lewe swaar. En as ons regtig die saak dieper ondersoek, kom ons vinnig agter dat almal gevangenes van hulle eie gedagtes is.

Mense leef vasgevang binne hulle koppe. Dit wat Eckhart Tolle noem: “The human condition: lost in thought.”

Dit bring mee dat bitter min mense werklik die lewe as uniek, nuut en vars beleef. Nee, die lewe word ‘n projeksie van mense se innerlike wêreld. En die innerlike gedagtes en herinneringe van pyn, onsekerhede, drama, hartseer, verveling en vrese, word die filter waardeur elke nuwe oomblik beleef en ervaar word.

Jiddu Krishnamurti verduidelik dit so: “Thought is never new; thought is always old; thought can never be free, because it is tied to the past and therefore it can never see anything new.” Hiermee wys Krishnamurti na die mens se onvermoë om direk en eerstehands te kan leef. Om direk in die stroom van die lewe teenwoordig te wees.

Want die realiteit is dat meeste mense tweedehandse lewens leef. Hulle bly na die lewe deur gister se brille kyk, en sien slegs die vrese en pyn wat reeds binne hulle soos ‘n monster leef.

Krishnamurti gaan verder: “The mind can receive reality only when it is absolutely still, not demanding, not craving, not longing, not asking, whether for yourself, for the nation or for another. When the mind is absolutely still, when desire ceases, then only reality comes into being. A person who is demanding, petitioning, supplicating, longing for direction will find what he seeks but it will not be the truth.”

Natuurlik beteken dit nie dat uiterlike omstandighede nie belangrik is nie. Maar dit is jou gedagtes, eerder as omstandighede wat die kwaliteit van jou lewe bepaal.

Presies dit wat die neuroloog Sam Harris ook sê: “Your mind is the basis of everything you experience and of contribution you make to the lives of others. Given this fact, it makes sense to train it.”

Ja jy’t reg gelees, “…it makes sense to train it.” Net soos ‘n atleet sy spiere oefen om ‘n beter atleet te word net so kan jy jou denke, dit wat tussen jou ore is, oefen.

Oefen in wat?

Hiermee help Henry David Thoreau ons as hy dit so verduidelik: “As a single footstep will not make a path on the earth, so a single thought will not make a pathway in the mind. To make a deep physical path, we walk again and again. To make a deep mental path, we must think over and over the kind of thoughts we wish to dominate our lives.”

Want is dit nie so dat jy word waaraan jy die heeltyd dink nie. Mahatma Gandhi het dit lank terug reeds gesê: “A man is but the product of his thoughts. What he thinks, he becomes.” Daarom is dit so belangrik dat elke mens sal verantwoordelikheid neem vir dit wat daagliks sy kop beset.

Jy is nie maar net negatief van geaardheid nie, jy is nie maar net angstig as gevolg van stresvolle situasies nie, en jy is vir seker nie maar net humeurig en geïrriteerd weens ander mense se optredes nie.

Nee, jy kies hierdie innerlike toestande oor en oor, omdat jy onbewus is van jou innerlike programme. En deur onbewus te wees daarvan, word jy ‘n slaaf daarvan.

Presies dit waarna Alan Watts verwys: “Your mind is a beautiful servant, but a dangerous master.”

Die waarheid is, dat geen eksterne kragte ‘n houvas op jou het nie. En niemand kan jou ontstel of beledig, sonder jou toestemming nie. Daarom is dit so belangrik dat jy wakker word vir jou gedagtes en denke. Hoe? Jy doen dit deur jouself doelbewus dop te hou. Sonder oordeel en kritiek, net dophou. Dit wat Krishnamurti noem: “The highest form of human intelligence is to observe yourself without judgement.”

Want wanneer jy ‘n bewustheid begin ontwikkel vir die gedagte en emosionele strome binne jou, word jy ook bewus van die tydelike aard daarvan. Geen gedagte hou vir ewig nie, nee, gedagtes is per definisie tydelik en gaan vinnig verby.

Dit is ons wat ‘n gedagte vasgryp, vertroetel en lewend hou. Seker daarom dat die Zen leermeester Shunryu Suzuki die volgende gesê het: “If something comes into your mind, let it come in, and let it go out. It will not stay long.”

Hierin lê daar ‘n bevrydende geheim opgesluit. Die vermoeë om dit wat opkom in jou gemoed, nie vas te gryp, te beoordeel of selfs te beveg nie. Om dit net uit te los. Want net so vinnig soos dit ingekom het, net so vinnig sal dit weer weggaan. Neuroloë praat van gedagtes se duur, van begin tot einde, as net 90 sekondes. Mits die denker dit uitlos.

Thich Nhat Hanh het dit meer poëties beskryf met: “Feelings and thoughts come and go like clouds in a windy sky.” Sien jy raak, dat hierin ‘n vryheid lê, ‘n vryheid om in enige situasie, ongeag goed of sleg, vreugdevol of hartseer, self te bepaal hoe jy voel en daarop reageer? Jy is nie die slaaf van jou gedagtes en emosies nie. Jy is vry om nie die gevangene daarvan te wees nie.

Presies dit wat Sam Harris verwoord: “The realistic goal to be attained through spiritual practice is to be free in this moment, in the midst of whatever is happening.”

Want elke keer wat jy kies om jou gedagtes te sien as slegs gedagtes, word jy vryer, sterker en meer jou ware self.

Dit help jou om al meer sonder jou masker te leef. Dit maak jou eerlik, vreesloos en wakker.

Sodoende word jou lewe ‘n boodskap van hoop en inspirasie vir ander, wat nog agter hulle maskers skuil.

Dit gee hulle hoop vir ‘n lewe wat werklik vry van lyding kan wees.