“We come spinning out of nothingness, scattering stars like dust.” – Rumi
Ek is nog altyd baie aangetrokke tot die skryfwerk van die Persiese Soefie, Jalaluddin Rumi (1207-1273).
Net vinnig, die Soefisme is ‘n mistiese leer in die Islam en het sy geestelike wortels in die Derwisj-ordes. Hierdie orde het in die agste eeu na Christus onder die invloed van Oosterse Christelike monnike in Sirië, Irak en Saoedi-Arabië ontstaan. Maar behalwe vir die asketiese grondslag van die monnike, is daar min verdere Christelike invloed. Die Soefies is lief om broederskappe te verkondig tussen verskillende godsdienste en doen dit hoofsaaklik deur die mistieke beginsels in die Koran uit te wys.
Die term Soefisme word deur die Duitse geleerde August Thöluck die eerste keer gebruik en hy lei dit af van die Arabiese “sûfi” wat “in wolstof geklee” (dus asketies) beteken. Maar die belangriker gebruik van die Arabiese benaming is ‘tasawwouf’ of “onmiddellike mistieke waarneming van die werklikheid.”
En dit is juis hierin wat Soefisme vir my so aantreklik is, die ‘tasawwouf.’ Die feit dat hulle glo, God lê in die direkte belewenis van elke dag. En dat elkeen wat eerstehands leef sal ontdek dat God een is met hulle mistieke belewenis. Dit bring daarom ook mee dat die mistieke tradisie van die Soefisme alle godsdienste as slegs verskillende uitdrukkings van dieselfde alomvattende waarheid beskou. En dit is dan ook dit van Rumi wat my aanvanklik so na hom aangetrek het. Wat op sig self vreemd was, want ek het op daardie stadium, nog binne die Christelike tradisie gestaan. (Ek was nie eintlik veronderstel om van hom te hou nie, wat nog te sê lees.)
Die eerste keer wat ek Rumi raakgelees het, was juis nog tydens my studente dae. Dit was net na ‘n seer liefdes teleurstelling en ek het baie moedeloos en hartseer eendag op die volgende woorde van Rumi afgekom; “The wound is the place where the Light enters you.” Ek onthou nog hoe dié woorde my tot stilte geroep het. Ek het stukkend daar gesit en stadig maar seker die waarheid van die woorde ingedrink. En ek het besef dat dit juis my seer is waar ek weer genesing sal beleef.
Dat ek nie die pyn as net negatief moet beleef nie, maar moet besef dat binne hierdie pyn wonderlike lesse, seën en “Lig” is. Dat ek net werklike genesing sal kan beleef as ek my pyn en vernedering nie ontken nie, maar juis dit erken en eien as myne. Deur al my soeke, worstelinge en transformasies was Rumi altyd daar. Dit was asof hy altyd so ‘n tree of twee net agter my saamgereis het.
Want sien, Rumi was en is vir my die voorbeeld van godsdienstige toleransie. Want Rumi se eie godsdiens was in wese die mistiek van die liefde.
Rumi het geen rede gesien hoekom verskillende godsdienste nie mekaar se broers en susters kon wees nie. So was hy dan ook ‘n vriend van Christene sowel as Jode. By sy begrafnis, byvoorbeeld, het Christene sowel as Jode opgetree en hulde aan hom gebring as “een van hulle.”
Dit het my gehelp om net soos Rumi ook te verstaan dat verskillende godsdienste eintlik maar dieselfde onuitspreeklike verlange het na die krag van liefde. En dat die grootste struikelblokke (“nafs alammara”) tot hierdie liefde, was weens die mens se eie ego.
Dit glo Soefies (en spesifiek hier Rumi) veroorsaak vrees, woede, wellus, verslawing, angs, verveeldheid, depressie en selfbejammering – en saam dra dit by dat die individu nie God se nabyheid en teenwoordigheid in sy of haar lewe kan ervaar nie. En ook nie kan raaksien dat ons een is met God nie.
Rumi het dan ook presies dit gesê toe hy die verskillende profete met hulle verskillende sienings beskrywe het as eintlik op een weg. Hy’t gesê dat alhoewel hulle verskillende paaie bewandel en verkondig, hulle eendag sal terugkeer na hulle oorsprong, en hierdie oorsprong is dieselfde plek vir almal.
Daarom sy klem op liefde as nie net ‘n byproduk nie, nee, liefde was vir hom die bron, kern en ja, God self.
Rumi het byvoorbeeld vas geglo dat die wêreld, die kosmos elke oomblik uit die liefde ontspring en voortvloei. En natuurlik weer terugkeer, net soos riviere altyd weer sal terugkeer na die see. Daarom as hy geskryf het oor God was dit altyd in terme van ‘n liefdes-storie se soek en vind. “The minute I heard my first love story, I started looking for you, not knowing how blind that was. Lovers don’t finally meet somewhere. They’re in each other all along.”
Rumi het ook wonderlike metafore gehad van hierdie soeke, wat nie iets na buite jou is nie maar na binne. “In your light I learn how to love. In your beauty, how to make poems. You dance inside my chest where no-one sees you, but sometimes I do, and that sight becomes this art.”
Liefde was vir Rumi gewortel in sy verstaan van God. En op tipies Moslem wyse, nou wel vanuit die mistieke tradisie, het hy in uitbundige katafatiese taal oor sy verstaan van God gepraat.
God was vir hom ‘n verblindende helderheid, soos die ewige Son. Daarom sou hy skryf dat mense se verblinding was nie veroorsaak deur donkerte nie, maar deur die helder lig. En dat mense so verblind was daardeur, dat hulle na die skaduwees begin kyk het as die werklikheid.
“Sunlight fell upon the wall; the wall received a borrowed splendor. Why set your heart on a piece of earth, O simple one? Seek out the source which shines forever.”
En ja, alhoewel ek en Rumi se godsbeeld heeltemal verskil, beteken dit nie dat sy wonderlike en eerlike soeke nie vandag nog my soeke kan help en rig nie. Hoor net hoe mooi verwoord hy dit: “Out beyond ideas of wrongdoing and rightdoing there is a field. I’ll meet you there.” Net die feit dat hy ruimte maak vir meer as net sy antwoorde, idees en opinies, breek die potensiaal oop van eerlike en respekvolle gesprek.
Dit is soveel anders as vandag se godsdiens dialoog. Daar is eenvoudig net geen ruimte of “a field” waar daar saam gedink en gewonder kan word nie.
Meer nog, almal praat met sekerheid. Almal moet dus daarom kant kies, of dit polities of godsdienstig is. Maar wat van die onsekere, kreatiewe en transformerende ruimte waar groei en genesing ‘n moontlikheid is?
Rumi se model van liefdesmistiek het soveel genesende potensiaal. “Raise your words, not voice. It is rain that grows flowers, not thunder,” skryf hy in antwoord op die moontlikheid van konflik tussen godsdienste.
As ons net soos hy kan besef dat elkeen van ons reeds liefde is – God is. En dat die enigste iets wat dit in onsself en ander verduister, is ons sogenaamde sekerhede, dogmas, haat, woede en pyn – alles ego.
Daarom dan sy raad aan ons: “Your task is not to seek for love, but merely to seek and find all the barriers within yourself that you have built against it.”
Recent Comments