George Bernard Shaw het in 1932 ‘n tyd lank in Suid-Afrika oorgebly. Tydens sy tyd hier het hy ‘n klein boekie geskryf, getitel The Adventures of the Black Girl in Her Search for God.

Die boekie het soveel teenreaksie van Christene van die tyd ontlok, dat die aanvraag na die boekie ongekende hoogtes ingeskiet het. In 1932 het die boekie al sy vyfde herdruk beleef. In hierdie werk van Shaw verklaar hy dat alhoewel hy glo die Bybel is net ‘n mens geskrewe boek, dit wel nog ‘n belangrike boek is, veral rakende die etiese boodskap en die geskiedkundige waarde daarvan.

Shaw se storie begin waar ‘n jong swart dogtertjie, wat net na sy deur ‘n sendeling tot die Christendom bekeer is, vir die sendeling vra, “Waar is God?”

Die sendeling antwoord haar dat as sy soek sy sal vind. En so begin die meisie se soektog na God. Al wat sy saam met haar neem (so gaan die storie) is ‘n knopkierie. Met hierdie knopkierie wil sy al die afgode wat sy op haar soektog teëkom, dadelik stukkend slaan.

Natuurlik ontmoet sy ‘n hele aantal voorstellings van God. Die eerste wat sy ontmoet, is die God van die Leërskare, die God van Noag, die wrede god wat bloedoffers eis. Maar vinnig verwerp die swart meisie hierdie bose God.

Dan kom sy uiteindelik by Job uit, hier ontmoet sy ‘n spottende, ou-man-God wat net meerderwaardig lag as sy hom vra hoekom Hy die wêreld goed en sleg gemaak het. Die swart meisie dink by haarself dat hierdie God net soos die vele ou mans van haar tuisdorpie is. Sy soek eerder verder.

Dan kom sy by iemand uit van wie sy nogals hou, Prediker. Sy hou van sy eerlikheid, maar voel dat hy te negatief is en nie werklik die lewe kan geniet nie. Sy reis verder en kom by die profeet Miga aan. Alhoewel sy hou van Miga se God, wat geen offerhandes verwag nie, vind sy vinnig dat hierdie God niemand vertrou nie. Hy laat niemand toe om op hulle eie besluite te neem of self te dink oor die lewe nie. Hoekom het God dan vir my twee oë gegee waarmee ek self die pad kan vind en ‘n verstand om te gebruik, dink sy by haarself. Sy reis eerder verder.

Nou kom die meisie by ‘n ateïs aan. Hy vertel vir haar dat God net ‘n gekondisioneerde reaksie van die mens is. Die persoon herinner baie aan Pavlof en sy eksperiment met honde. Toe die meisie hom vra of hy enigsins slimmer is na sy eksperiment sê hy: “Ek stel nie belang om God te bewys of nie, my doel is om meer te leer van dit wat ek voor my aantref en sodoende by te dra tot die groter liggaam van wetenskaplike kennis.” Dit is ietwat van ‘n doodloopstraat vir die meisie, so sy besluit om nog verder te soek.

So ontmoet sy ‘n Romeinse soldaat, vir wie God die Romeinse ryk is. Dan vir Jesus in twee verskillende vorme, een as ‘n kunstenaar en die ander as ‘n idealistiese jongman. Toe sy hom vra “Wie is God?” antwoord hy dat God binne haar is en dat Hy haar Vader is. Dit werk nie vir die swart meisie nie, want haar eie pa was wreed en het selfs probeer om haar aan ‘n wit soldaat te verkoop. Toe sy groter was kon sy hom gelukkig met haar knopkierie plat slaan. Nee vir haar werk ‘n Vader God nie, sy sou verkies as God eerder ‘n Moeder was.

Hulle praat nog ‘n rukkie saam, dan sê Jesus vir haar, dat as sy ernstig is om God te vind, moet sy verder bly soek. En dan verdwyn hy.

Die volgende wat sy teëkom, is Petrus. Sy sien dat hy swaar dra aan die kerk op sy rug. Maar dan vertel Petrus haar dat die kerk op sy rug eintlik maar net van papier gemaak is. Net toe, kom daar ander mense wat ook papierkerke op hul rug dra, party is kleiner en ander leliker.

Vinnig begin hulle onder mekaar te stry oor wie se kerk die beste is, dit ontaard later in ‘n gegooi van klippe, soveel so dat die meisietjie moet vlug vir haar lewe. Die volgende persoon wat sy raakloop is Paulus. Hy vertel haar dat hy wag op die wederkoms. Sy kry hom baie jammer, want sy sien hy gaan nog lank wag.

Nadat sy Paulus verlaat kom sy op die Karavaan van die Nuuskieriges af; die filosowe en wetenskaplikes. Vir hulle is God net ‘n fabel. Maar die meisietjie vind hulle te twisgierig en sê vir hulle dat sy sien hulle vra net vrae omdat dit vir hulle lekker is. Hulle wil nie regtig ‘n antwoord vind nie.

Aan die einde van haar soektog kom die meisietjie by die Franse verligting filosoof Voltaire aan. Hy is besig om in sy tuin te skoffel en te plant. As sy vir hom vra oor God, is sy antwoord aan haar dat hy dit nie kan antwoord nie.

As sy uitvra oor sy tuin, antwoord hy die meisie dat hy gevind het dat daar nie veel meer is vir die mens om te doen, as om te probeer om jou eie tuin na die beste van jou vermoë te bewerk nie. Die swart meisie besluit dan om hier by Voltaire te bly en ook vir haar ‘n tuin te maak en te versorg na die beste van haar vermoë.

Het jy al in jou tuin begin werk?

Of soek jy nog wyd en suid vir God? Wag jy nog op een of ander groot openbaring? Of glo jy nog steeds dat daar ander slimmer, heiliger en belangriker mense is wat al die antwoorde ken? Soek jy na ‘n profeet wat vir jou presies kan sê wie God is? Hoop jy daar bestaan ‘n kerk of godsdiens wat weet?

Intussen het jy jou tuin, hier en nou. ‘n Tuin vol skatte en skoonheid, wanneer gaan jy begin om te skoffel en te spit? Miskien lê al die antwoorde waarna jy soek in jou tuin.

Die Franse filosoof André Comte-Sponville het in sy tuin die volgende wysheid gevind: “Everything is complex and everything is simple. The rose has no why attached to it; it blooms because it blooms, without any thought of self, or desire to be seen. What could be simpler for someone who wants nothing? The complexity of thinking, the simplicity of beholding.” So, waarvoor wag jy? Dis tyd dat jy in jou eie tuin begin bewerk is nou. En as jy nie weet waar om te begin nie, begin dan by die woorde van Kahlil Gibran: “If you would know God be not therefore a solver of riddles. Rather look about you and you shall see Him playing with your children. And look into space; you shall see Him walking in the cloud, outstretching His arms in the lightning and descending in rain. You shall see Him smiling in flowers, then rising and waving His hands in trees.”