Daar is ‘n direkte en onmiddellike verband tussen hoe jy asemhaal en jou emosies en gemoedstoestand.
Dit is iets wat professionele atlete, vermaaklikheids-kunstenaars en openbare sprekers al lank reeds weet. Dis hoekom asemhalingsoefeninge so ‘n groot deel van hulle voorbereidings uitmaak.
Dit is ‘n erkende feit dat hoe jy asemhaal, uiteindelik direk inspeel op jou emosionele energie. Stel dit gerus op die proef.
Wanneer jy vir ‘n minuut lank vinnig en vlak asemhaal, sal jy agterkom hoe daarmee saam ook die gevoel van angstigheid en spanning in jou lyf wakker word. Haal nou vir ‘n minuut diep en stadig asem. En daarmee saam sal jy die verandering in jou lyf en gemoed ook sien.
Die rede? Elke emosionele toestand het ‘n bepaalde asemhalingspatroon daaraan gekoppel. Dink maar net hoe ‘n toestand van vrees, skok of verrassing se asemhalingspatroon verskil van wanneer iemand rustig en ontspanne is.
Natuurlik is dit logies. Maar kom ons neem hierdie logiese beredenering ‘n stappie verder.
Jy kan jou asemhalingspatroon doelbewus reguleer om sodoende die gunstige emosionele toestand vir optimale vrede of vreugde te bereik.
Dit is dus binne jou bereik om jou emosionele toestand te beïnvloed, ongeag die omstandighede waarin jy jou bevind.
Kom ek begin met ‘n persoonlike ervaring om te illustreer wat ek bedoel. ‘n Tydjie gelede is ek uitgenooi om deel te wees van ‘n reeks intergeloof-gesprekke. By hierdie geleentheid het ‘n jong man my aggressief gekonfronteer. Hy het gevoel ek onderspeel sy geloof en sy begrip van God, en het my verbaal begin aanval. Terwyl hy duidelik besig was om sy selfbeheer te verloor, het ek net die heeltyd gekonsentreer om diep en stadig asem te haal.
Ek het besef indien ek nie my asemhaling reguleer nie, sou ek ook deur sy aggressiewe energie oorrompel word. En indien ek dan vanuit daardie toestand sou reageer, sou ek ook in woede opgetree het.
Ek het heeltyd saam met my in- en uitasem die woorde van Thich Nhat Hanh onthou: “Angry words always backfire upon the speaker.” Iets wat ook in die wysheidteks, Spreuke 15 vers 1 staan: ” ‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam.”
En omdat ek kalm en rustig kon bly, het die jong man ook uiteindelik bedaar. Buiten die feit dat my rustigheid die atmosfeer verander het, het dit ook my en die jong man gehelp om op ‘n dieper vlak mekaar te hoor. Thich Nhat Hanh verwoord dit met: “By listening with calm and understanding, we can ease the suffering of another person.”
Alles begin natuurlik by jou asemhaling. Dit is hoekom meditasie so ‘n wonderlike dissipline is. Meditasie is letterlik om te oefen om by jou asemhaling te sit.
En wat is meer natuurlik as asemhaal?
Dink so daaraan: Om te fokus op jou asemhaling help jou om toegang te kry tot die hier en nou. Want is die “nou” nie die enigste plek waar jy kan asemhaal nie? Jy kan tog nie asem spaar vir môre of asem gaan leen by gister nie. Net hier en nou is asem beskikbaar. Lewe werk ook so. Dit is net in die hier en nou beskikbaar.
Tog het ons onsself so verwyder van hierdie realiteit dat meeste mense ‘n kunsmatige en selfs onwerklike toestand – van aan die slaap lewe – verkies bo wakker wees in die oomblik. Baie mense leef so opgeneem in die emosies wat die verlede in hulle wakker maak, dat hulle niks of niemand in die nou kan sien of vars beleef nie. En hierdie gedagtes en stories waarop jy so inkoop, beheer en bepaal jou lewe in die nou.
J. Krishnamurti sê juis hieroor: “Thought is never new; thought is always old; thought can never be free because it is tied to the past and therefore it can never see anything new.”
Asem is egter altyd nuut. Dit gebeur nou en hier. Om dus by jou asem te bly, kan jou help om uit jou kop te kom. Weg van die ewigdurende gedagtestroom. Soos die Indiese leermeester Ramana Maharshi dit stel: “When the mind is left without anything to cling to, it becomes still.” Of soos dit in Zen beskryf word, Zazen (om te sit en te vergeet).
Meditasie is dus om doelbewus verby jou innerlike gedagtestroom te beweeg en om wakker te word in die hier en nou.
Dit is egter nie net ons emosies wat deur ons asemhaling beïnvloed word nie. Wanneer ‘n mens se asemhalingstelsel optimaal funksioneer, kan dit ook ander fisiologiese stelsels in die liggaam help om beter te funksioneer.
Die asemhalingstelsel is ten nouste verbind met die senu-, spier-, been-, kardiovaskulêre, endokriene, vertering-, limfatiese en immuunstelsel. En wanneer jy jou asemhalingspatrone koördineer en harmoniseer, het dit ‘n rimpeluitwerking op al die ander organe in die liggaam.
Asemhaling word deur die liggaam se chemiese prosesse beheer. Die liggaam pas ‘n mens se asemhaling aan wanneer meer suurstof benodig word. Om reg asem te haal, kan ‘n mens ook help om beter te konsentreer. Juis daarom is regte asemhaling so ‘n wonderlike teenvoeter teen stres.
Luidens ‘n kliniese studie wat deur die Italiaanse Universiteit van Camerino se eksperimentele en publieke gesondheidsdepartement gedoen is, kon mense hul stresvlak verlaag deur net ‘n eenvoudige diafragmatiese asemhalingsoefening te doen. Deur die stresvlakke van mense wat gereeld mediteer te ontleed is aangetoon dat hulle ‘n lae stresvlak, ‘n lae kortisolvlak (die sogenaamde streshormoon) en ‘n hoë vlak van melatonien (die hormoon wat die slaappatroon reguleer) het.
Deur diep asem te haal, word ‘n mens se hele lyf en wese wakker in die hier en nou. En is dit nie die enigste plek waar jy lewe sal vind nie?
Dit is daarom nie toevallig dat in Zen Boeddhisme soveel klem op regte asemhaling gelê word nie. Want hoe meer bewus jy van jou asemhaling word, hoe meer bewus word jy van jouself en die omgewing waar jy jou bevind. En is dit nie wat ‘n bewustelike lewe beteken nie? Want wanneer jou kop stil word as gevolg van jou diep en rustig asemhaling, betree jy ‘n nuwe realiteit. Dit wat die Amerikaanse skrywer Ram Dass so mooi verwoord met: “When your mind is quiet, you enter into the flow of love, and you just flow from one moment to the next as naturally as breathing.”
Recent Comments