By die Vrystaat Kunstefees, te midde van ‘n baie koue oggend, vind ek myself weereens besig om my verstaan van spiritualiteit te probeer verduidelik. Ek sê probeer want meeste van die tyd slaag ek nie. Sprekende hiervan is dan ook die volgende dag se berig in die koerant onder die opskrif: “Wroeging op fees oor God en bonatuurlike.”
Die berig self is verteenwoordigend van die oggend se gesels, maar die dag daarna se briewe is weereens vol vrees en net afbrekend. Wat natuurlik heel verstaanbaar is, veral as jou kern waardes en oortuigings bevraagteken word, meeste se reaksie is gewoonlik dan laertrek en tande wys.
Maar kom ek loop nou nie die saak vooruit nie. Hier eers die berig wat in die Volksblad verskyn het, vir diegene wat dit dalk nie kon lees nie.
Volksblad, 2 Julie 2019, Cheréne Pienaar:
Wat gebeur as die mat onder ‘n predikant uitgeruk word en hy nie meer kan glo wat hy preek nie? Die skrywer Abel Pienaar het met dié vraag en ‘n reeks ander geworstel toe hy as leraar by ‘n NG makro-gemeente ‘n tante op haar sterfbed besoek het. Haar vrees vir die hel het hom nie net laat wonder oor die hiernamaals nie, maar ook oor alles wat hy van kindsbeen af geleer is. Pienaar het gister op die Vrystaat Kunstefees met ds. Jan Lubbe van die NG gemeente Berg-en-Dal gesels oor sy jongste boek, Die oorkantste oewer: spiritualiteit anderkant godsdiens. Flip Schutte is die medeskrywer. Die hoofstukke in die boek, oftewel meditasies, lei die leser na die oewer van spiritualiteit, wat ‘n Boeddha-geïnspireerde konsep is. Pienaar glo daar is ‘n beweging van Suid-Afrikaners wat nie meer tevrede met die tradisionele Christelike narratief is nie. Talle belangstellendes in die gehoor het vrae gevra en gedagtes uitgeruil oor bewussyn, waarheid en wroegings oor ‘n God wat in beheer is. Pienaar beskryf homself as ‘n “gewese professionele God-jagter”. Sy sielereis het hom na die wysheidtradisies geneem en só het hy by die ou Chinese bronne geëindig. Hy wil gelowiges aanraai om “verby die swembad van godsdiens te beweeg” en “in die see na die oorkantste oewer te roei”. “Die ding wat jou nou net gered het, kan jou dood veroorsaak. Moenie vasval nie, daar is iets meer, daar is momentum.” Tog verwerp hy nie die idee van God nie. Dit is die bonatuurlike waarmee hy hom nie kan vereenselwig nie. “Spiritualiteit het niks te doen met ‘n verstaan van ‘n God nie. Dit gaan daaroor om sin te vind in die hier en die nou.” As jy dít vertolk, sien jy ewe skielik Jesus se woorde, en dit maak sin. “Die Christendom het in die eerste 400 jaar ná Christus bekend gestaan as die mense wat omgee; wat vir armes sorg en mense in die tronk besoek. Later het dit ‘n belydenisding geword, ‘n soort credo, maar jy kan doen wat jy wil.” Godsdienste het die woord spirit van spiritualiteit gekaap. “Alles het ‘n element van spiritualiteit. Vir my werk die bonatuurlike nie. Die vlak van spiritualiteit lê in die hier en die nou.” Godsdiens as vlot het uitgedien geraak, en nou begin dit negatief raak. Pienaar glo om met minder sekerheid te praat is die toekoms. “Al wat ons het, is hierdie oomblik en hierdie tree. Die grootste geskenk is om hier te wees vir mekaar.”
Na die gesprek het ‘n ander joernalis my genader en gevra of sy my nog ‘n paar vrae kon vra. Sy was besig met ‘n boek oor Suid-Afrika se verskillende geloofstradisies. Ek stem in en ons gaan sit by ‘n koffiewinkel. Nog voor ons koffies arriveer, spring sy weg met haar eerste vraag, “So, wie is Jesus vir jou? Sien jy hom nog as God?”
Abel: Ek noem myself graag ‘n navolger van Jesus … Jesus was ‘n besondere mens wie se lewe en woorde getuig het van iemand wat uit sy kern geleef het, ‘n Ware Wyse. Maar let wel, ‘n mens.
Joernalis: Wat van Jesus is vir jou navolgenswaardig?
Abel: … dat hy bereid was om te sterf vir die beginsels waarvoor hy gestaan het. Dit is navolgenswaardig, nie waar nie?
Joernalis: So, jy sien nie meer jouself as ‘n Christen nie?
Abel: Wel, beteken ‘Christen’ nie in sy eenvoudige vorm ‘n navolger van Jesus nie? Ek weet egter dat my verstaan van wie Jesus is nie gedeel word deur meeste mense wat hulle self ‘Christene’ noem nie. En daarom kan ek myself nie ‘n Christen in die tradisionele sin van die woord noem nie. Veral nie as daarmee bedoel word dat Jesus ‘n God is nie. ‘n God in die sin van ‘n bonatuurlike wese wat, soos die antieke mense geglo het, ‘n koning is wat heers oor die aarde en ‘n seun het wat hy gestuur het om sy onderdane te kom red. Hierdie antieke stories is so oud soos die mensdom self. Dink maar aan die Grieke met hulle mites soos o.a. dié van Zeus met sy panteon goddelike kinders, waarvan hy ook aarde toe gestuur het om die sterflinge te red, of in die Ooste met hulle gode en gode kinders wat vir die aardlinge moes intree. Hierdie mites is baie en so oud.
Joernalis: Maar mites het tog baie simboliese en metaforiese waarde. Dit kan tog nie net sommer afgeskryf word as onbelangrike storietjies nie. Alle gelowe het mites wat probeer om te omvat wat hulle nie altyd in gewone woorde kan vasvat nie. Stem jy saam?
Abel: Natuurlik lê daar transformerende waarhede opgesluit binne elkeen van die wêreld se mites, en ook moet jy raaksien nie net binne die Christen mites nie … ook in vele ander antieke en moderne mites. Dit verteenwoordig menslike denke, onderbewuste, wysheid, vrese, soeke, oplossings, hoop en insigte. Weergegee in die vorm van oorvertelde stories, poësie, musiek, kuns en kreatiewe verbeelding. Maar wat baie belangrik is om raak te sien is dat hierdie mites nie letterlik ‘vertaal’ kan word en net so oorgeneem word in vandag se verstaan van die werklikheid nie.
Joernalis: Ek stem saam maar hoekom dink jy vandag se Christene doen dit?
Abel: Dit is ongelukkig presies wat meeste tradisionele Christene doen. Hulle probeer antieke denke en verstaan in vandag se quantum wêreld in vertaal en dit werk eenvoudig nie. Daarom dat meeste gelowe wat dit nog doen, wêreldvreemd begin optree. Daarmee kan ek as denkende en spirituele mens nie meer myself identifiseer nie. Dit beteken egter nie dat ek nie oop is vir die kragtige boodskap van hoop en liefde wat opgesluit lê binne die boodskap wat Jesus ongeveer 2500 jaar gelede verkondig het nie. Maar ek is ook oop vir ander mense en wysheidstradisies wat my inspireer om sinvol te leef. Mense wat deur die geskiedenis van die mensdom ongelooflike waarde bygedra het tot die verstaan van ons werklikheid en ons hierwees.
Joernalis: Noem ‘n paar van hierdie ander wyses?
Abel: Denkers, filosowe, spirituele leermeesters en vele gewone mense wat hulle wêreld ‘n beter plek gelos het as wat hulle dit gekry het. Mense wat deur hulle lewens, woorde en dade ‘n vinger-wysing geword het na die transendente (dit wat meer is as wat ons nou verstaan of ken). En ja, natuurlik is Jesus een van die belangrike vingerwysings na die transendente. Maar hy is verseker nie die enigste een nie. Lao Tzu, Boeddha, Sokrates, Plato, Jesus, Chuang Tzu, Seneca, Gandhi, Thich Nhat Hanh, Krishnamurti, Alan Watts, Yuval Noah Harari ens. ens. (antieke en moderne denkers deurmekaar). Daarom het ek byvoorbeeld geen probleem om van die mistieke gnosties Christelike tradisies, Taoïsme, Zen Boeddhisme, wetenskap, filosofie en sielkunde as voertuie te gebruik in my soeke na sin en vrede in die hier en nou nie.
Joernalis: Sou jy ‘n probleem hê met ‘n beskrywing as ‘n progressiewe Christen, as daar so iets is?
Abel: Wel, ‘n etiket bly maar net ‘n beperkte beskrywing. As dit jou help om my beter te verstaan sal dit vir my net so ‘n goeie beskrywing as enige ander wees.
Joernalis: Hoe sal jy jou spiritualiteit beskryf, en hoe is dit anders as die tradisionele soeke na sin in byvoorbeeld die Christen tradisie?
Abel: Die gemiddelde denkende mens kan eenvoudig nie meer hom- of haarself identifiseer met die voorwetenskaplike wêreld se bygelowe en misverstaan van hoe dinge werk en wat dinge beteken nie (natuurlik die wêreld waaruit meeste godsdienste kom). Ons kan eenvoudig nie meer na die wêreld kyk deur byvoorbeeld die oë van bygelowige, drieverdieping wêreldbeeld van Die Bybel en Koran nie. Daarom dat mense nuwe vrae begin vra. Mense soek na nuwe maniere om te kan dink en praat oor hulle innerlike behoefte na sin. Want wat ons nooit moet vergeet nie, is dat mense is kreatiewe, skeppende en spirituele wesens wat bly smag na ‘n outentieke konneksie met die groter werklikheid, wat in religie verwoord word as ‘God’. En daarom sal die behoefte aan dieper kyk, dieper verstaan en dieper beleef nooit weggaan nie. Daarom dat die woorde van Antoine de Saint-Exupéry, wat kom uit sy boek The Little Prince, vandag nog net so kragtig is as eeue gelede: “Here is my secret. It is very simple. It is only with the heart that one can see rightly; what is essential is invisible to the eye.” Ons weet dit is waar! Dit resoneer met alles binne ons! Daarom is ek as ‘n filosoof en soeker-na-sin so onvoorwaardelik verbind aan hierdie proses van ‘n eietydse spiritualiteit. En hiermee bedoel ek die skep van ‘n veilige ruimte waar daar nie probeer oortuig word nie, maar waar daar saam gesoek en gedink word. Die skep van ‘n ruimte waarbinne daar ‘n eerlike ontmoeting tussen wetenskap (fisika, neurologie, biologie, kosmologie ens), filosofie, sosiologie, teologie, kunste en Oosterse en Westerse spiritualiteit en mistiek kan wees.
Joernalis: Is Renaissance Gemeenskap so ‘n ruimte?
Abel: Ja, ons probeer hard om dit ‘n ruimte te maak waar mense ontmoet en met waarheid omgaan op ‘n eerlike en oop wyse.
Joernalis: Sou jy dus sê jy is nader aan die ateïsme as aan meeste godsdienste se verstaan van ‘n god?
Abel: Ek is nie besig om God weg te probeer verklaar nie, ek is eerder besig om my denke rondom die goddelike te verskuiwe. Verstaan jy die verskil? As ek dit anders kan stel, sal ek sê dat die goddelike vir my groter word en nie kleiner nie. Dat vir my in hierdie verskuiwing dit duideliker word dat die goddelike ‘n dinamiese krag is in die groot netwerk van die lewe, eerder as ‘n persoon buite ons werklikheid wat iewers op ‘n troon sit. Verstaan jy? Ek kyk nuut na my wêreld, eintlik nie nuut nie, maar eietyds. Ek wil die dualisme van bo en onder, en sigbaar en onsigbaar, nou laat vaar. Die heelal het nie meer vir my ‘n binne- en ‘n buitekant nie. Die paradigma waarmee ek nou my werklikheid verstaan is veel nader aan die idees rondom evolusie en die Oerknal en ander wetenskaplike verklarings van die tyd. Maar my filosofie gaan ook wyer as net dit wat gemeet kan word. Ek wil ook met die metafisika rekening hou. Ek wil luister en leer by almal; van die Christendom, Boeddhisme tot by die fisika. Daarom dat ek nie anders kan as om die woord godsdiens te vervang met die woord spiritualiteit nie. God is nie meer ‘n God wat gevangene is van sommiges nie, nee, God is die versamelnaam van die beste wat die mens tot nou toe kon bedink, ontdek, voel, verwoord, uitbeeld en doen. Maar ook die beste wat die mens tot nou toe kon droom en hoop. Miskien is die woord God te veel gebruik en misbruik. Miskien is ‘n beter woord ‘Liefde’. Dalk is dit ook te oorbelaai met menslike idees. Dalk is my vriend Kobus Krüger se woord ‘Ongrond’ ‘n beter woord om hierdie idee, hoop, liefde, krag, bron, kern, energie, ‘force’ of onnoembare te beskrywe. Dit wat nie êrens buite nie, maar hier, orals is. Dit wat in alles is en self alles is.
Na die gesprek groet ons vriendelik. Terwyl sy weg loop dink ek onwillekeurig terug aan die afgelope tien jaar se gesprekke en onderhoude. En wat by my opkom is hoe min die vrae in dié tyd verander het…
Recent Comments